Wat is jou kind se liefdestaal?

Wens jy nie ook jou kinders kon partykeer begryp hoe baie jy hul lief het nie? As ouers weet ons hoe onvoorwaardelik lief ons vir ons kinders is, maar weet hulle dit? Elke kind (nes volwassenes) het verskillende behoeftes wanneer dit kom by hoe hul liefde wil ontvang. ’n Spelterapeut deel wenke om jou kind se liefdestaal te identifiseer en hoe om vir hul liefde te wys soos wat hulle dit graag sal wil hê. Saamgestel deur Justine Kroes.

15/09/2023

Wat is jou kind se liefdestaal?

Die idee van die 5 verskillende liefdestale word deur Dr Gary Chapman se wêreldbekende boek “The 5 Love Languages” beskryf as die teorie dat elke mens liefde uitdeel en/of graag wil ontvang in een of meer van die volgende 5 liefdestale. Naamlik diensbaarheid (acts of service); geskenke (gifts); fisiese aanraking (physical touch); kwaliteit tyd (quality time) en opbouende woorde (words of affirmation).

Spelterapeut Danel Pittaway verduidelik dat dit belangrik is om te weet dat jy nie net een liefdestaal het nie maar waarskynlik twee of dalk selfs drie. Hierdie is ook die geval met kinders.

Die maklikste manier om jou kind se hoof liefdestaal te identifiseer is om te besef hulle wys liefde vir ander op die manier wat hulle graag liefde wil ontvang.

Danel Pittaway

Byvoorbeeld as jou kind graag drukkies en soentjies uitdeel, is fisiese aanraking heel moontlik hul liefdestaal.

1. Dade van diensbaarheid (acts of service)

Jy voel geliefd as iemand vir hom of haar iets doen.

Jou kind wys liefde dalk so:

Jou kind doen take in en rondom die huis sonder om daaroor te kla. Jou kind bied dalk aan om vir jou ’n koppie tee te maak, skottelgoed weg te pak of dalk die inkopies uit te pak, sonder dat jy daarvoor vra. Onthou om jou dankbaarheid vir hierdie dade van diensbaarheid aan jou kind te wys.

Gee só vir jou kind liefde op hul manier:

  • Help jou kind met sy/haar huiswerk.
  • As jou kind klein is, help hul om aan te trek of skoene vas te maak.
  • Help jou kind om hul speelgoed skoon te maak of op te ruim.
  • Help jou kind om daardie gebreekte speelding reg te maak.
  • Leer vir jou kind iets nuut.
  • Doen vrywilligerwerk vir ’n goeie doel saam met jou kind.

2. Geskenke (gifts)

Jy voel geliefd as iemand vir jou iets gee wat hulle aan jou laat dink het.

Jou kind wys liefde dalk so:

Jou kind maak dalk vir jou (of ander) kaartjies en kunswerke. Hulle bring vir jou klippies of skulpies wat hul opgetel het, of pluk vir jou graag blommetjies. Hulle geniet dit om vir hul sibbe of vriende geskenke te kies vir hul verjaarsdae en spandeer baie tyd en moeite aan die gedagte agter ’n geskenk kies vir iemand.

Gee so vir jou kind liefde op hul manier:

  • Gee vir jou kind ’n verassingsgeskenk.
  • Gee vir jou kind belonings vir goeie gedrag.
  • Hou ’n skattejag met jou kind.
  • Sit ’n ekstra bederf in jou kind se skooltas of kosblik.
  • Maak vir jou kind hul gunsteling kos.

3. Fisiese aanraking (physical touch)

Jy voel geliefd as iemand jou liefdevol aanraak

Jou kind wys liefde dalk so:

Jou kind gee graag vir jou drukkies en soentjies, hulle wil graag op jou skoot of styf langs jou sit. Jou kind sal dalk byvoorbeeld vra of hul met jou hare kan speel of jou rug kan masseer.

Gee so vir jou kind liefde op hul manier:

  • Gee daagliks vir jou kind drukkies.
  • Wys vir hulle jy geniet “cuddle” tyd, ongeag hul ouderdom.
  • Sit styf langs jou kind terwyl julle ’n boekie lees.
  • Hou jou kind se hand vas as julle deur die winkels loop.
  • Gee baie soentjies en drukkies.

4. Kwaliteittyd (quality time)

Jy voel geliefd as iemand tyd met jou spandeer en hul aandag vir jou gee

Jou kind wys liefde dalk so:

Jou kind hou daarvan om saam met jou (of ander) tyd te spandeer. Dalk bly hul later as hul sibbe wakker om spesiaal alleentyd met jou te geniet.

Gee so vir jou kind liefde op hul manier:

  • Speel ’n speletjie saam, vir ouer kinders dalk ’n bordspeletjie.
  • Gaan vir ’n stap of langer staptog buite in die natuur.
  • Lees ’n boek of vertel ’n storie.
  • Maak aandete of bak saam.
  • Gee vir jou kind jou onverdeelde aandag (sit jou foon en werk weg).

5. Opbouende woorde (words of affirmation)

Jy voel geliefd as iemand jou komplimenteer of hul goedkeuring oor jou uitspreek

Jou kind wys liefde dalk so:

Jou kind is ’n “cheerleader” en gee vir jou of selfs vreemdelinge graag komplimente. Jou kind moedig ander rondom hul met ’n positiewe gesindheid aan.

Gee so vir jou kind liefde op hul manier:

  • Vermy dit om harde stemtoon en afbrekende woorde te gebruik.
  • Sê daagliks vir jou kind hoe lief jy vir hom/haar is.
  • Sê gereeld vir jou kind hoe trots jy op hom/ haar is.
  • Prys en erken hul moeite voor ander.
  • Los ’n aanmoedigende briefie in hul kosblik.
  • Is jy steeds onseker oor jou kind se liefdestaal?

Indien jy steeds onseker is;

Danel sê “as jy steeds onseker is oor wat jou kind se liefdestaal is, toets dit. Breek dit op in verskillende dae om dit ordentlik te toets. Byvoorbeeld, sit op dag 1 ’n briefie in jou kind se kosblik, en vind uit wat die reaksie is. Toets dan die volgende dag ’n volgende liefdestaal en kyk ook na die reaksie. Die een waaroor jou kind die meeste opgewonde geraak het, is heel moontlik sy/haar liefdestaal.

Little Lemons Play Therapy

Indien jy meer wil weet kontak vir Danel Pittaway van Little Lemons Play Therapy. Of volg haar op sosiale media hier waar sy handige wenke, raad en advies oor kinders se emoisionele welstand deel.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Vanes-Mari du Toit
Vanes-Mari du Toit deel 9 lewenslesse wat sport jou kind kan leer
error: Content is protected !!