Sosiale media gons oor glasvel (glass skin), maar wat is dit en hoe kry jy dit reg? Of is dit net vir twintigjariges? Deur Suzanne Kotzé.
06/10/2023
Wat is glasvel?
“Glass skin” of glasvel is vel wat so gesond is, dat dit glansend is. Dit is so glad en sonder merkies dat dit soos glas lyk. Die term is afkomstig van Korea, waar dié tipe vel ideaal en natuurlik ook ‘K-beauy’ sy oorsprong het.
“Hierdie is natuurlik makliker om te verkry as jy jonger is,” sê velkundige Sonette Donker van SkinFundi. “Wanneer jy ouer is, moet jy net sterker produkte (met meer aktiewe bestanddele) gebruik.
Fokus egter op produkte wat hidrasie gee om sodoende ook jou vel se sperfunksie gesond te hou sodat jy mooi glansend kan lyk. As jy te veel aktiewe bestanddele gebruik, veral as jou vel droog is, sal dit net die teenoorgestelde effek hê en jou vel dalk droog en sensitief laat.
Jou leefstyl is uiters belangrik
Blootstelling aan besoedeling, ’n ongesonde dieët, rook en te min slaap is van die dinge wat jou vel vaal en dof kan laat lyk. “’n Gesonde dieët wat omega en kollageen insluit, wat voggehalte verbeter en genoeg slaap is veral belangrik,” sê Sonette. Oorweeg ook gerus ’n magnesium-aanvulling as jy sukkel met slaap.
Velsorgstappe vir ‘glasvel’
Onthou ’n gladde vel (sonder dooie velselle) wat gloei, so vogtig is dit, is jou mikpunt. Sonette gee raad oor hoe ons dit kan regkry (al is ons nie meer 20 nie!).
Stap 1: Dubbelreinig
Kies ’n oliegebaseerde reiniger (veral handig om grimering te verwyder) en ’n skuimreiniger wat sagkens (sonder enige SLS) werk. Kyk vir die woorde ‘gentle’ en kies ’n reiniger waarvan die pH effens laer is as die van jou vel.
Stap 2: Afskilfering
Sonette verkies’n afskilferaar wat melk (lactic) of glikoliese suur bevat. As jy nie gereeld genoeg afskilfer nie, kan jy ’n reiniger met hierdie bestanddele daarin gebruik in plaas daarvan om af te skilfer.
Stap 3: Tonikum
Kies ’n tonikum wat sagkens werk en spesifiek jou voggehalte verbeter; nie een wat jou vel sal uitdroog nie.
Stap 4. Serum
Fokus op ’n hidrerende serum. Hialuroonsuur is ’n moet vir hidrasie.
Stap 5. Bevogtiger
’n Vogroom wat fokus op hidrasie bevat is ideaal. Vitamien B3 kan ook help, veral as jy met rooiheid sukkel.
Stap 6: Gesigolie of balsem
Gebruik olie of balsem eerder saans as bedags, aangesien dit jou onderlaag sal laat rondgly. Jy kan altyd ’n paar druppels olie oor jou onderlaag aantik vir ekstra glans. Jy kan dit bo-oor jou bevogtiger gebruik om die vog in te seël.
Stap 7: Sonskerm
’n Moet om pigmentasie te beveg. Onthou, soos die meeste dermatoloë sou aanbeveel, as jy jou geld op net een produk spandeer, moet dit sonskerm wees. Vermy ’n mat sonskerm. Daardie glans wat sonskerm gee, is juis wat jy wil hê.
Stap 8: Masker
Gebruik ’n hidrerende masker wat ook glans gee so twee tot drie keer per week.
Grimeerwenke om die ‘glasvel’ voorkoms te skep
Die realiteit is dat die meeste van ons waarskynlik nie die perfekte glasvel voorkoms gaan haal nie. Ons kan net hoop om ons velle meer gesond en glansend te laat lyk. Om dit nog meer gesond en glansend te laat lyk kan ons altyd ’n paar grimeertruuks gebruik.
Voorbereiding is belangrik
Gebruik ’n serum wat hialuroonsuur bevat en ’n vogroom.
Verdoesel rooiheid met ’n groen voorbereidingslagie (primer)
As jy geneig is om effens rooi te word op sekere dele van jou gesig, (soos jou wange en neus) smeer ’n klein hoeveelheid groen primerhier aan. Die meeste groen primers maak ook jou vel mat, so moet dit liefs nie oor jou hele gesig smeer nie.
Ekstra glans met ’n voorbereidingslagie wat glans gee.
Hierdie werk fantasties om glans te skep.
Kies ’n CC room of onderlaag wat ligte dekking gee
’n CC (colour correcting) room help om jou vel meer eweredig te laat lyk. Ons is gaande oor Chanel CC Cream omdat dit eintlik veel meer dekking gee as wat jy verwag. Vir elkde dag hoef jy slegs ’n klein hoeveelheid aan te tik, maar deur meer aan te wend lyk dit ook meer soos ‘onderlaag’. Jy kan ook op plekke waar jy dit nodig het, effens meer aanwend.
Vergeet van poeier, kies ’n roomblosser
Tik roomblosser aan die appels van jou wange uitwaarts en opwaarts. Maak seker om dit goed te meng, sodat daar geen sigbare lyne is nie.
Beklemtoner op jou wangbene
Tik beklemtoner aan jou wangbene. Jy kan selfs ’n tikkie gesigolie ook gebruik.
Lipolie of glansende lipstiffie
Geen mat lippe nie. Gebruik ’n lipolie, gekleurde lipsalf of hidrerende lipstiffie.
Sonette Donker is ‘n spesialis velsorgkundige, met meer as 25 jaar ondervinding. Sy het al saam met verskeie plaaslike en internasionale skoonheidshuise gewerk om produkte bekend te stel. Besoek gerus www.skinfundi.com