Wat is ‘ghosting’ en hoekom maak dit so seer?

Min van ons het nog nie ‘ghosting’ ervaar nie, en ons weet hoe frustrerend dit kan wees en hoe seer dit maak. Maar wat is dit, hoekom ‘ghost’ mense ander en wat kan jy doen om beter te voel as jy ge-‘ghost’ word? Deur Suzanne Kotzé

04/03/2023

Wat is ‘ghosting’?

“‘Ghosting’ is wanneer iemand ’n verhouding of vriendskap beëindig deur alle bande te sny, sonder enige verduideliking.

As jy al ge’ghost’ is, weet jy hoe seer dit maak,” vertel lewensafrigter en spreker Cherona D. 

‘Ghosting’ is so ’ n groot fenomeen dat die woord alreeds vanaf 2017 in die Merriam-Webster woordeboek voorkom. Dit het gedurende hierdie tyd veral saam met ‘online dating’ gepaard gegaan.

Vandag is dit egter nie net in verhoudings of vriendskappe wat daar ge- ‘ghost’ word nie.

“Baie van my kliënte beklee hoë besigheidsposisies, van uitvoerende direkteure tot bestuursposisies en selfs hulle sukkel hiermee.

Vir die generasie Z wat nou die werksplek betree is die ‘vibe’ van die werksplek baie belangrik. Nuut aangestelde werknemers sal dalk na ’n week of twee besluit dat die ‘vibe’ van die werksplek nie lekker is nie, en net eenvoudig nie weer terugkom werk toe nie, en alle oproepe ignoreer en net eenvoudig nooit weer gesien word nie. Laasjaar was dit minstens 30% van my korporatiewe kliënte se grootste frustrasie. Dis baie as jy dink dit is drie uit tien mense wat hulle werkgewers ‘ghost’,” vertel Cherona.

Hoekom maak ‘ghosting’ so seer?

  1. Dit raak ons diepste vrese van verlating aan.
  2. Dit versterk die selfgeloof dat ons nie goed genoeg is nie.
  3. Dit wakker herinneringe van emosionele verwaarlosing aan.
  4. Dit verhoed afsluiting en jy kan nie aanbeweeg nie.
  5. Dit laat ons in onsself twyfel.
  6. Dit laat ons voel asof ons nie liefde waardig is nie.

Hoekom ‘ghost’ mense

Daar is baie sielkundige redes waarom mense ‘ghost’, maar dit is  hoofsaaklik ’n vorm van vermyding. Dit is gewoonlik omdat mense nie van konflik hou nie, nie iemand anders se gevoelens wil seermaak nie of nie van moelike gesprekke hou nie. Daar is natuurlik uitsonderings en soms ‘ghost’ mense om hulself te beskerm.

Hoekom is veral Gen Z en jonger millennials skuldig aan ‘ghosting’

“Ek dink ‘ghosting’ is veral generasie-gebonde, en dit is hoekom dit tans so ’n groot probleem is. Ons sit behoorlik met ’n ‘ghosting’-epidemie.

As jy kyk na Gen Z en jonger millennials wat nou die werkplek betree,  sukkel hulle veral met konflikhantering en kommunikasie. En hier moet ons na die ouerskapstyl van hulle ouers kyk. Dit is dikwels ouers wat ’n ‘over the top’ of helikopter-ouerskapstyl het wat bydra tot hierdie probleem. Hulle wil alles baie maklik maak vir hulle kinders (en ek weet, want ek was self ook een van daardie ma’s),” vertel Cherona. “En dit is grotendeels hoekom ek ook so baie hieroor praat. Ons leer nie vir ons kinders hoe om konflik te hanteer nie, omdat ons hulle wil beskerm en probleme namens hulle wil hanteer.

Vanaf die fondasiegrondslag is dit belangrik om vir kinders te leer hoe om konflik te hanteer.

Sosiale media maak dit ook maklik om kommunikasiebande te sluit. Ek het kliënte wat hulle ouers blok en ‘ghost’ omdat hulle nie weet hoe om konflik net hulle ouers te hanteer nie. Hulle weet nie hoe om ’n harde gesprek met hulle ouers te voer nie. En dalk is dit as gevolg van ’n toksiese verhouding met hulle ouers, waaruit hulle hulself wil verwyder.”

Juis hieroor is dit so belangrik om nie net onsself nie, maar ook ons kinders te leer om moeilike gesprekke te kan hê.

En om iemand nie te ‘ghost’ nie, is moeliker. Dit is moeilik om te sê ‘jammer, hierdie werk nie uit nie’ of ‘die beste manier vir ons om aan te beweeg, is apart’.

Dit is moeilik om iemand anders se gevoelens seer te maak met jou woorde, maar dit is nog moeiliker vir die ander persoon om geen afsluiting te hê nie. Hulle neem dit persoonlik op, omdat hulle nooit weet wat hulle verkeerd gedoen het nie. En dan begin dit in hulle identiteit invreet. Daardie gesonde tydperk van rou en genesing vind nooit plaas nie, en dit is baie moeilik om dan aan te beweeg.

Drie strategieë om die verwarring, seermaak en woede te oorkom nadat jy ge-‘ghost’ is

1. Tyd saam met geliefdes

Bring tyd saam met mense deur wat jou liefhet en aanvaar net soos jy is. Verwerk jou gevoelens saam met jou geliefdes of sien dalk ’n terapeut of lewensafrigter. Om te heel is dit nodig dat jou gevoelens en ondervindings erken, gehoor en verstaan word.

2. Stel grense

Indien moontlik moenie jou ‘ghoster’ weer kontak nie.  Hierdie gedrag is waarskynlik ’n gewoonte vir die ‘ghoster’.  (Dalk as gevolg van ’n vermydings bevestigingstyl). Neem vertroosting daarin dat jy waarskynlik nie die eerste of laaste persoon sal wees wat deur hierdie persoon ge-‘ghost’ is nie. Om gesonde grense vir jouself te stel is nodig, sodat jy nie teruggesuig word in hulle sfeer nie. 

3. Besef emosionele onvolwassenheid speel ’n rol

Onthou geestesgesonde mense het empatie en die vermoë om ander se sienswyse in te sien. In kontras hiermee, is baie selfgesentreerde mense emosioneel onvolwasse, en ‘ghost’ dalk chronies.

Die vermoë om moeilike gesprekke te kan voer, is die beginpunt van emosionele volwassenheid. Die meeste van ons hou nie van konflik nie, en om iets te beëindig kan wel moeilik wees, maar ‘ghosting’ is die maklikste uitweg, nie die mees eerbare een nie.


Cherona D is ’n konneksie-sielkundige, spreker en afrigter en werk saam met organisasies en individue. Besoek gerus cheronad.com

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
eerste menstruasie
Jou dogter se eerste menstruasie; ’n ginekoloog gee raad
error: Content is protected !!