Die Enneagram-persoonlikheidstelsel is so gewild dat Enneagram “nommers” dikwels al deel geword het van spreektaal, en sommige mense se sosiale media status ook. Jy het waarskynlik al gehoor iemand sê: “Ek is ’n tipiese vier. Of “sy is beslis ’n sewe”. Met die groot fokus op geestesgesondheid en om ons beter te probeer verstaan en te groei, bied die Enneagram-sisteem insig in ons beter en swakker aspekte, met die doel om persoonlike groei aan te moedig. Deur Suzanne Kotzé
Wat is die Enneagram-persoonlikheidstelsel?
Enneagram-afrigter Arina Lange verduidelik
Enneagram is ’n persoonlikheidstelsel wat nege verskillende persoonlikhede illustreer. Dit gaan alles oor die REDE vir ’n persoon se gedrag, en nie die gedrag self nie. Dit bied ook ’n pad vir groei en waarskuwingstekens om te weet wanneer jy ’n slegte ruimte betree.
Hoekom is Enneagram nou so gewild?
’n Dekade of ’n paar dekades gelede het mense nog gereeld na hulle Meyers-Briggs persoonliheidstipe verwys. Jy sit om die braai of aan tafel saam met vriende en iemand vertel dat hulle’n ‘INFJ’ of ’n ‘ENTP’ is. En net daar doen jy ook sommer gou ’n aanlyntoets om te kyk wat jy is. (Die Meyers-Briggs-toets is ontwerp deur ma en dogter Isabel Briggs Myers en Katharine Briggs wat op Carl Jung se 16 persoonlikheidstipes fokus.) Lees gerus meer hier oor die Myers-Briggs stigters.
Vandag is dit egter die Enneagram-tipes wat nou so gewild is, dat #enneagram1 #enneagraem 2 tot 9, almal ‘trending hashtags’ op Instagram is.
Die oorsprong van die Enneagramsisteem
Daar is nie presiese duidelik oor die oorsprong van die Enneagramsisteem nie. Van Sufi mistici tot Pythagoreërs. Griekse Amerikaanse filosoof Geges Gudjieff tot Bolivaanse filosoof Óscar Ichazo en een van sy studente psigiater Claudio Naranjo word ook as van die stigters gesien.
Enneagram-afrigter Arina Lange sê: “Dit is die laaste paar jaar baie gewild en ek glo die rede daarvoor is omdat dit die enigste sisteem is wat ’n aanduiding gee van ’n persoon se goeie en slegte spasie. Dit gee jou dus ’n geleentheid om te groei na jou goeie spasie en om uit te kyk vir tekens van jou slegte spasie. Die meeste ander sisteme gee slegs ’n opsomming van hoe jy reeds is en gee nie ruimte vir groei nie.
Die Enneagram kan jou help om insig te kry in:
- Jou mees uitdagende innerlike struikelblokke.
- Jou natuurlike persoonlikheid.
- Hoe intuïsie die beste werk vir jou tipe.
- ’n Aanduiding van hoe om te groei.
- Hoe om jou volle potensiaal uit te leef.
Die nege Enneagram persoonlikheidstipes
“Elke tipe het ‘n “naam”, maar daar is soveel meer diepte agter die naam,” sê Anina
Sketsies met vergunning van InnerLifeSkills®









Hierdie tipes word verdeel in
- Hart tipes (tipe 2,3 en 4) wat natuurlik hul emosies eerste stel
- Kop tipes (tipe 5,6 en 7) wat meer analities is
- Lyf tipes (tipe 8,9 en 1) wat op hul intuïsie staatmaak.

Hoe vind jy jou Enneagram tipe?
Daar is baie aanlyntoetse beskikbaar. Google ‘free enneagram test’ en verskeie opsies kom op. Klik hier vir so ‘n gratis aanlyn toets. Verskeie toetse bied egter net die antwoord op jou tipe en dan moet jy vir die res betaal.
“Dit is bewys dat aanlyntoetse slegs 50% akkuraat is,” maan Arina. “Die rede daarvoor is dat Enneagram oor die REDE vir ‘n persoon se gedrag gaan. Tipe 2 en 6 kan dus dieselfde gedrag wys, maar hulle het elkeen ’n verskillende rede daarvoor. ’n Sessie saam met Enneagram-afrigter word dus baie sterk aanbeveel in plaas van aanlyntoetse.”
Van die kritiek teen Enneagram tipes is juis dat daar nie gestandardiseerde toetse is om akkuraatheid te bepaal nie.
Hoe gebruik jy jou Enneagram tipe in die regte lewe?
“Deur die rede vir jou gedrag te ken, kan mens onmiddelik ‘n hele paar struikelblokke oorkom,” verduidelik Arina.
“Ek is ‘n tipe 1. Ek wil hê alles moet reg wees, nie verkeerd nie. Vandat ek weet dat ek ‘n tipe 1 is, ontspan ek baie meer omdat ek wéét dat almal nie so gespanne is oor detail soos ek nie. Ek weet ook presies wat die tekens van my slegte spasie is, en wanneer ek daardie gedrag begin wys dan kan ek vir myself lag en probeer om terug te beweeg na my goeie spasie. Ek besef ook dat ek te krities kan wees, en net omdat ek dit wéét, kan ek makliker probeer om meer geduldig te wees. Ek verstaan ook my man baie goed. As ek nie geweet het dat hy ’n navorser (tipe 5) is en baie inligting nodig het nie, sou ek gewonder het hoekom hy ALLES google. Nou geniet ek dit om te sien hoe hy dinge navors en ek weet ek kan hom vra om die skottelgoedwasser se boekie te lees!,” vertel Arina.
My Enneagram -ervaring
Ek het self onlangs ’n aanlyn Enneagram-sessie met Arina gedoen en sy het bevestig dat ek ’n tipe 2 is. In van die gratis aanlyntoetse wat ek al gedoen het, was ek ook ’n 2. (Alhoewel die verskeie gratis aanlyntoetse wat ek al gedoen het soms verskillende tipe’s vir my gegee, so ek stem saam dat dit nie so akkuraat is nie!) Dit is egter eers toe Arina vir my veruidelik van my teenoorgestede nommers tipe 4 en tipe 8, waarheen ek groei as dit goed of sleg gaan dat ek my tipe 2 in terme van my persoonlikheid beter verstaan het. Ek weet nou dat omdat ek ’n tipe 2 is, ek daarvan hou om te gee, soms te veel en tot nadeel van myself. As ek in ’n goeie spasie is, groei ek na tipe 4 as ek egter in ’n slegte spasie is neig ek na tipe 8.Deur bewus te wees hiervan, kan ek nou let op wat my positiewe en negatiewe eienskappe is en hopelik so groei. Ek weet nou ek moet ‘journal’ om meer bewus te word van my eie gevoelens, meer nee sê en meer goed net vir myself doen. En dan is tipe 1, ook een van my vlerke.
Wat presies is ‘n Gesertifiseerde Enneagram Coach?
Om ander mense van die Enneagram te leer en om Enneagramtoetse te kan aanbied, moet die persoon ’n kursus doen en geregistreer wees as ’n “coach”. Arina vertel dat sy haar Enneagram en lewens-afrigter kwalifikasies deur InnerLifeSkills® voltooi het.
Volgens InnerLifeSkills se webwerf bied hulle ook gratis inleidings lewensafrigters en Enneagram kursusse. Dit is dalk ’n goeie beginpunt sou jy belangstel om dit self te doen.
Daar is verskeie organisasies wat kursusse aanbied en verskillende tipe Enneagram afrigters. Jy kry ook sielkundiges wat Enneagram afrigters is.
Een ding is seker, dit is altyd goed om onsself beter te verstaan en te probeer groei en te verbeter.
Jy kan vir Arina ‘n epos stuur na arina.lange@gmail.com Volg haar op Instagram Enneagram in Afrikaans en Facebook
“Maybe the journey isn’t so much about becoming anything. Maybe it’s about un-becoming everything that isn’t really you, so you can be who you were meant to be in the first place.”
Paulo Coelho