onderverf
onderverf

Wat is die onderverf-grimeertegniek en hoe doen jy dit?

Die onderverf-grimeertegniek kan sekerlik ook verkeerdom grimering gedoop word. Blosser en kontoerprodukte wat voor onderlaag aangewend word? ’n Grimeerkunstenaar verduidelik hoe die onderverf-grimeertegniek werk en gee wenke oor hoe om dit te doen. Deur Suzanne Kotzé

13/10/2023

Met die hoeveelheid kere wat jy reels of TikToks sien van blosser en kontoerprodukte wat voor jou onderlaag aangeverf word, neem ons jou nie kwalik as jy dink hierdie is net nog ’n sosiale media tegniek wat gaan oorwaai nie.  Ons het maklik meer as ’n dekade gelede daarvan begin leer, danksy M.A.C. se trends grimeerboek wat jaarliks bekendgestel word aan uitgesoekte media.

Grimeerkunstenaar Raine Tauber, wat self al op vele internasionale modeweke gewerk het,  stem saam dat hierdie tegniek beslis nie nuut is nie. “Die grimeerkunstenaar Kevyn Aucoin het reeds hierdie tegniek gedurende die 90’s gebruik, om ’n soomlose, maar gevormde (sculpted) voorkoms te skep.”

As jy hierdie tegniek reg doen, kan dit ’n baie mooi natuurlike voorkoms sonder enige harde lyne skep. Daardie harde lyne is veral kenmerkend van kontoering en mag jou dalk so afsit, dat jy glad nie kontoering wil probeer nie. Met hierdie tegniek is dit egter baie minder sigbaar.

So doen jy die onderverf-grimeertegniek

Raine verduidelik

1. Kies produkte van dieselfde afwerking

“Kies produkte met dieselfde tekstuur; óf alles poeier óf alles room. Ek verkies romerige teksture vir hierdie tegniek”

2. Berei jou vel goed voor.

Raine sê: “Berei jou vel soos gewoonlik voor met jou velsorgprodukte voordat jy met jou grimering begin.

Ons sê: Dit is natuurlik altyd belangrik om te onthou dat jou vel die skilderdoek vir jou grimering is. Jy wil seker maak dat jou vel glad is(deur gereeld af te skilfer) en goed gehidreerd voordat jy met grimering begin. Anders sit jou grimering net aan die dooie velletjies vas en lyk dit nie mooi glad en natuurlik nie. Ons sou ’n ligte tekstuur hidrerende serum (een met hialuroonsuur) aanbeveel.

3. Wend kontoerprodukte, gevolg deur blosser en beklemtoner aan.

Onthou donkerder kontoerpodukte ‘steek weg’ en beklemtoner trek aandag. Gebruik gerus hierdie oulike skets wat Raine gemaak het, om te sien wat jy waar kan aanwend. Dit is natuurlik bloot ’n riglyn.

Jy kan die stap met grimeerkwassies óf jou vingers, as jy dit verkies, doen.

4. Meng die buitelyne

Ek verkies dat die kontoerproduk, blosser en beklemtoner sagte rande moet hê, maar die kleur-intensiteit moet steeds sigbaar wees. So ek fokus om die rande te meng/of te ‘blur’.

5. Tik jou onderlaag aan

“Ek hou daarvan om ’n klam Beauty Blender sponsie te gebruik om onderlaag aan te tik. Ek verkies onderlaag met ligte tot medium dekking hiervoor. Sommige mense hou daarvan om ook verbloemer aan te wend voor onderlaag. Ek verkies dit egter om verbloemer aan te wend na die onderlaag. Jou onderlaag mag dalk reeds enige merkies toemaak, en dit is nie nodig om onnodig verbloemer te gebruik, tensy die merkies steeds sigbaar is nadat jy onderlaag aangewend het nie.”

Jy wonder dalk (soos ons) of die produkte wat jy voor jou onderlaag aangewend het nie, nie net gaan verdwyn onder jou onderlaag nie. Raine verduidelik: “Omdat jy reeds die produkte liggies ingemeng het, sit dit nie net bo-op jou vel nie, en deur die onderlaag slegs liggies aan te tik, sal jy dit nie oor die res van jou gesig smeer nie.

Produkte wat jy hiervoor benodig

Jy het heel waarskynlik reeds hierdie produkte by die huis.

Raine se gunsteling produkte om te gebruik is:

Chanel Les Beiges Bronzing Cream-gel Bronzer for a Healthy Sun-kissed Glow
Bobbi Brown Pot Rouge (R680, bobbibrown.co.za)
MAC Cream Colour Base (R545, maccosmetics.co.za)

Ons sê probeer ook

Romerige blossers

Sisley Phyto Blush Twist
(R1250, Woolworths)
Catrice Cheek Flirt Face Stick (R125,95, houseofcosmetics.co.za)
MAC Pro Face Palette Blush (R740, MAC)

Beklemtoners

Chanel Multi-use Glow Stick (R905, Woolworths)
Sisley Stylo Lumière (R1 100, Sisley.com, aangewese Woolworths en Edgars)
Stila Complete Harmony Lip & Cheek Stick Kitten Highlighter (R520, Clicks)

Kontoerprodukte

Jy hoef nie noodwendig ’n spesiale kontoerproduk te gebruik nie. Jy kan ’n romerige verbronser of selfs onderlaag wat so twee skakerings te donker is, gebruik.

Catrice Magic Shaper Contour & Glow Stick (R125,95, houseofcosmetics.co.za)
Westman Atelier Face Trace Contour Stick (R1 410, skins.co.za

Volg gerus vir Raine Tauber op Instagram

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
’n Dermatoloog gee raad: Velsorgroetine vir ‘lui’ tienerseuns
error: Content is protected !!