Dit voel so maklik of die ma die spilpunt is waar rondom ’n gesin draai (hei, ek sien jou, Supermamma wat al die balle in die lug hou!), maar ’n betrokke Pa is net so belangrik. Deur sielkundige Gerda Kriel.
11/06/2023
Ons weet lankal reeds dat kinders floreer in ’n omgewing waar hulle primêre versorger hulle met liefde, deernis en empatie grootmaak. Daardie eienskappe word so dikwels aan ’n ma toegeskryf, dat dit maklik is om te dink dat die Mamma se rol die belangrikste is! Nuwe navorsing wys egter vir ons dat die teenwoordigheid van ’n betrokke Pa vir kinders onskatbare voordele inhou! Met Vadersdag om die draai is hier vyf redes waarom jy gerus vir Pappa meer tyd saam met die kroos kan gee.
Die redes waarom ’n betrokke Pa so belangrik is
1. Groter veiligheid en geborgenheid
Navorsing dui daarop dat kinders met ’n betrokke vaderfiguur in hulle lewens, groter beskerming teen seksuele, emosionele en fisieke mishandeling geniet. Daar word gevind dat hulle ook groter emosionele geborgenheid toon, wat waargeneem kan word in die ontwikkeling van hulle volwasse verhoudings sowel as die ontwikkeling van hulle emosionele intelligensie.
2. Akademiese prestasie
Wanneer pa’s betrokke is in die lewe van ’n kind, is daar ’n 43% groter kans dat die kind A’s op skool sal verwerf, en ’n 33% kleiner kans dat die kind ’n graad sal herhaal, teenoor kinders wat afwesige pa’s het. Verder is die kans vir ’n kind wat ‘n hegte band met ’n vaderfiguur het om tersiêre opleiding te betree, twee keer groter as wanneer die kind nie ’n band met die pa het nie.
3. Minder gedragsprobleme
Adolessensie is ’n tyd wanneer jong mense, veral jong mans, grense toets en nuwe (dikwels ongewenste) gedrag beoefen. Die betrokkenheid van pa’s in hulle tienerkinders se lewens, verminder die eksperimentele gedrag, en verlaag ook die risiko-gedrag waaraan kinders deelneem. Navorsing toon ook dat kinders met betrokke pa’s minder deelneem aan kriminele of wettelose gedrag.
4. Beter selfbeeld en gesonde self-konsep
Kinders met ’n positiewe en teenwoordige vaderfiguur se algehele selfbeeld en selfkonsep is beter as kinders wat sonder so ’n vaderfiguur grootword. Die pa word ’n spieël waarmee die kind homself vergelyk, of waarbinne die kind homself kan reflekteer. Deurdat die pa ook vir die kind duidelike grense en riglyne gee, ontwikkel die kind ’n beter sin van wat hulle kan doen, en sal hulle ook deelneem aan meer pro-sosiale gedrag.
5. Gesonder geesteswelstand
Navorsing dui aan dat kinders wat nie met ’n gesonde vaderfiguur grootword nie, meer geneig is om geestesgesondheidsprobleme soos angs, depressie en selfs selfdood te ontwikkel. Daarteenoor sal kinders wat grootword met ’n positiewe, betrokke pa, meer veerkragtigheid toon in die teenwoordigheid van uitdagings en stressors.
Om dissipline toe te pas bly belangrik
Dis duidelik dat die positiewe teenwoordigheid van ’n pa of vaderfiguur in ’n kind se lewe van onskatbare waarde kan wees. Dis egter belangrik om te noem dat die pa moeite moet doen om op te daag vir die kind. En die kind op ’n liefdevolle maar outoritatiewe wyse moet dissiplineer. Outoritatiewe dissipline is liefdevol, maar daar is duidelike onderskeid tussen die kind en die ouer. Dit stel duidelike grense en verwagtings aan die kind, waarbinne die kind veilig kan voel om hulle vaardighede te meet. Wanneer die kind grense oortree, of nie doen wat verwag is nie, sal die outoritatiewe vaderfiguur voorspelbare en konsekwente dissipline toepas. Dit is belangrik dat die kind die ouer kan vertrou, en dat die ouer hulle woord aan die kind sal hou.
Navorsing dui ook daarop dat kinders pa’s wat lof gee en hulle aanmoedig om hulle beste te doen, werklik na waarde ag. Die verhouding tussen hierdie pa’s en hulle kinders is gebaseer op baie positiewe affek wat gedeel word.
In Suid-Afrika het 65% van kinders nie ’n teenwoordige vaderfiguur in hulle lewens nie. As jy dus een van die gelukkiges is wie se kinders se pa’s in hulle lewens is, moedig positiewe interaksie tussen hulle aan.
As jy egter, soos so baie ander vroue, kinders grootmaak met min of geen interaksie vanaf die pa, kan jy ’n oom of oupa nader roep om hierdie rol in jou kind se lewe te vervul.
Indien jy enige pa ken wat sy vaardighede as pa wil uitbou en ontwikkel, besoek gerus www.fathersmatter.co.za vir ’n hele reeks hulpbronne. Kom ons vier hierdie Vadersdag nie net Pa’s nie, kom ons vier ook die rol wat hulle kan speel sodat ons kinders se lewens positief daarby kan baat vind!
Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com