5 vrae om jou eie ma-wees identiteit te vestig

Om ’n Ma soos jou ma te wees, of nie … Daar is min lewensrolle wat swaarder gebuk gaan onder die gewig van verwagtinge as jou rol as Ma. Dit kom voor asof almal ’n opinie het oor wat ’n “goeie” ma nou eintlik is. Deur Milan Murray van The My Story Tribe.

04/05/2024

Die “momfluencer” beweging op sosiale media skep verskeie persepsies van die ideale prentjie van ouerskap. ’n Mens se eie ma is in die meeste gevalle jou grootste voorbeeld van Ma-wees. Onwetend vorm ’n raamwerk van ouerskap in jou kop. Sommige van ons streef om daardie voorbeeld na te volg. Ander probeer weer daadwerklik daarvan afwyk.

Milan Murray, aktrise en skrywer, verwys in haar bloginskrywing op www.themystorytribe.com na hoe haar eie ma en ouma haar ouerskapstyl beïnvloed het.


Milan het met ’n paar ander bekendes ook gesels oor hulle ouerskapstyle en hoe hulle eie ma’s dit beïnvloed het.  Na aanleiding daarvan het ons hierdie 5 vrae saamgestel om jou eie “tekstuur” van ouerskap te bepaal:

1. Wat is my storie?

Elkeen het ’n unieke lewenstorie. Waneer ons ophou vergelyk en in ag neem dat ons verlede en unieke omstandighede ons ouerskap-aanslag vorm, kan ons onsself makliker losmaak van ander se verwagtinge.

 Rozanne Mckenzie, omroeper en TV persoonlikheid, staan sterk gegrond in haar eie storie:

Foto: Blyde Smit 

“Ek het nooit gedink ek sal ’n ma wees nie. My ma is ’n enkelouer en sy het baie hulp gekry van my ouma om my groot te maak. Ek sukkel nogal sonder ’n “village”. Ek is wel baie gelukkig dat ek ’n man het wat ’n fantastiese pa is. Ek is die enigste kind en my maternal vibe het eers ingeskop na die geboorte van my seuntjie in 2014.

Ek sukkel soms om heeltemal selfless te wees, want ek het gedink dis wat ’n goeie mamma maak, maar ek is die beste mamma wat ek kan wees vir my kinders.

 Rozanne Mckenzie

Foute en al, en dis genoeg. Dis nie nodig om perfek te wees nie. Ek moet dit ’n bietjie meer gereeld in gedagte hou. My ma-wees storie is uniek deurdat ek elke dag voel asof ek iets nuuts leer oor myself en oor my kinders.

Aktrise Christi Panagio beaam dat haar storie ook uniek is. Sy tuisskool haar twee dogters en erken dat sy onnodig energie mors en fokus verloor waneer sy haar met ander ma’s vergelyk.

Foto: Charles Junior Louw

“’n Mens leer gelukkig uiteindelik om net jou eie ding te doen en dat elke familie ’n unieke dinamika het.”

2. Wat is my waardes?

’n Mense se unieke stel waardes bepaal waarop jy as ouer in jou opvoedig gaan fokus.

“My ma het ons leer jammer sê” gesels aktrise Erica Wessels oor een van haar waardes.

“In die begin het dit geforseerd gevoel, maar later ’n gemaklike weerstandlose besluit. Dis ’n goeie vaardigheid om te hê in verhoudings in hierdie lewe. En daarvoor is ek my ma baie dankbaar. Ook empatie. Sy’t ons geleer om mense te ‘sien’ buite hulle lewensomstandighede of finansiele/sosiale status. Dis wat ek my kinders sal leer. Almal het ’n storie. Elkeen het waarde.”

Net soos Erica empatie hoog ag, noem Christi dat sy waarde heg daaraan om haar dogters in waarheid groot te maak. “My doelwit is om my meisies so ‘age-appropriate’ as moontlik te probeer hou en grootmaak. Ek is vasberade om hulle koppe altyd vol waarheid te vul, sodat daar nie plek vir leuens is nie.”

Rozanne voeg by dat eerlikheid oor haar eie vermoëns en beperkinge as ma vir haar ’n waarde is: “Hoe my ma en my ouma my grootgemaak het, speel ’n belangrike rol in die tipe ma wat ek is. Hulle het altyd vir my goeie waardes geleer en ek probeer om dit aan my kinders oor te dra.

Dis moeilik om ’n ma te wees, maar mens is altyd te bang om dit te sê.

 Rozanne Mckenzie

Hulle het nooit gekla of dit laat lyk dat daar moeilike dae is nie. So dit is hoe ek dinge bietjie anders doen as hulle. Ek is baie oop met my kinders oor die uitdagings van ma-wees en hulle verstaan. Ek dink die eerlikheid maak ’n groot verskil. Ek is ’n ma, maar ek is ook net ’n mens.

3. Waar lê my grenslyn?

Grenslyne (“boundaries”) is deesdae ’n gonswoord in die liberale, “woke” kultuur van die Gen Z generasie. Dalk is dit ’n woord wat ons maar meer in ons eie woordeskat kan verwelkom.

Sal jy jou kind laat uitslaap of nie? Sal jy jou kind laat Uber, of nie? Mag jou kind op sosiale media wees, of nie? Op die ou end is jy die een wat die grenslyn bepaal. Jou huishouding, jou grenslyn.

Milan noem in haar blog dat sy moes vrede maak dat haar eie grenslyne baie ver van selfs haar beste vriendin s’n lê: “My vriende moes vir lief neem met die feit dat my grenslyne vir my kinders baie keer bloot ’n stippellyn is.

Ek erken dat ek baie buigbaar is, omdat ek my kinders grootmaak om eie, verantwoordelike besluite te neem.

Milan Murray

Ek is al lekker gekritiseer daaroor, maar dis my ouerskapstyl en ek is gemaklik daarmee.”

4. Wie is my anker?

Jou tipe ondersteuningsnetwerk bepaal heel dikwels jou ouerskapstyl. Sommige van ons is enkelma’s. Ander is deel van ’n groot uitgebreide familie. Jou toegang tot ’n anker en klankbord het ’n groot invloed op hoe jy ouerskap benader.

Het jy iemand wat jy kan bel as jy ’n blaaskans nodig het? Het jy ’n mentor wat jou lei om jou eie stem te eien?

Erica benadruk die waarde van ondersteuning:

“Luister mooi na jou innerlike stem. As jy weet jy’t hulp nodig en jou gemoed is laag en jou vreugde min, vra vir hulp, sonder skaamte.

Erica Wessels

Gaan sien iemand, kry ’n night nurse sodat jy een maal ’n week kan slaap (indien jy dit kan beskostig) of praat met ander eerlike outentieke ma’s. Daar is baie waarde in die gedeelde ervaring”

5. Wat sê my instink?

Soms laat al die teenstrydige raad in die stapel ouerskap handleidings langs jou bed jou voel soos ’n verkleurmannetjie op ’n Smartie-boksie! Jou vriendin sê een ding en jou ma sê iets anders.  Heel dikwels is dit dan beter om na jou eie stem te luister.

Erica sê juis dat sy vir elke eerste-keer-ma hierdie toewens: “Moenie te veel luister na wat vir ander werk nie. Luister na jou gut. Leer om jou instink te volg. Jy ken jou baba of kind die beste van almal en elke kind is anders. Konneksie tussen jou en haar/hom is uiteraard die belangrikste en al wat sy/jy wil hê.”

Christi beaam dit:

“My grootste geskenk aan myself en my kinders is dat ek, soos ek ouer word, my instink vertrou. Ek fokus op wat ék moet doen en probeer seker maak dat wát ek doen, op die ou end vrugte afwerp.”

Christi Panagio

Oordink hierdie vyf vrae en bepaal jou eie, unieke tekstuur van ma-wees. Gelukkige Moedersdag!

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Besigbly planne
Besigbly-planne vir verveelde kinders
error: Content is protected !!