Dit is soms te maklik om negatief te voel oor ons jeug, maar die huidige generasie jongmense beskik oor seldsame kwaliteite wat hulle van vorige generasies onderskei. So klink gerus jou glasie op ons jeug, want hier is vyf redes om die jeug te vier. Deur sielkundige Gerda Kriel.
10/06/2022
Die Griekse filosoof Socrates het soos ’n ontnugterde ouer geklink toe hy sy bekende stelling oor kinders gemaak het: “Kinders het swak maniere, geen respek vir outoriteit nie, disrespek vir ouer mense en maak eerder praatjies as om te oefen. Hulle staan nie meer op wanneer hulle seniors ’n vertrek binnestap nie, wys hulle ouers tereg en maak hulle onderwysers se lewens net moeilik. Die kinders van vandag is tiranne.” En hierdie komende van ’n man wat reeds in 300 v.C gesterf het!
Vele ouers maak vandag hierdie presiese stelling oor kinders, en tog beskik die huidige generasie jongmense oor seldsame kwaliteite wat hulle van vorige generasies onderskei. So klink gerus jou glasie op ons jeug, want hier is vyf redes om die jeug te vier:
1. Die jeug is meer aanvaardend as van te vore

Die kind met die snaakse haarstyl, die aangenome kind, die langeraat of die rooikopkind: nie een is meer op die kantlyn nie. Vandag se jeug toon baie sterker aanvaardingsgedrag as vroeër generasies. Hulle is meer bewus van boeliegedrag en maak dikwels groter moeite om die buiteperde te betrek by die kring.
Vier dit saam met jou kind, dat hulle maats maak met ’n spektrum van kinders wat elkeen unieke talente en gawes het.
2. Hulle is bewus van hulle uniekheid
Al word almal aanvaar, is daar ’n gemak in hulle eie vel wat maak dat hulle skaamteloos is oor wie hulle is. Van kleresmaak tot musieksmaak, die jeug van vandag doen baie meer moeite daarmee om uit te vind waarvan hulle hou, en om daarmee gemaklik te wees.
Vier jou kind se uniekheid en se vreugdes saam met hulle, al lyk dit anders as jou idees.
3. Hulle maak seker hulle stemme word gehoor.

Van menseregte tot klimaatsverandering, die jeug van vandag weet hoe om gehoor te word. Hulle maak hulle stemme dik, en hulle is nie skaam om dit op die wêreldverhoog te doen nie. Selfs jong kinders snap deesdae die verantwoordelikheid wat ons het om na ons planeet om te sien, en ouers word dikwels deur kinders aangemoedig om plastiek te vermy of om te herwin.
Vier ons planeet saam met jou kind deur ’n boom te plant of iewers van julle tyd te skenk.
4. Die jeug is innoverend.
Jongmense kom deesdae met die ongelooflikste voorstelle na vore. Van innovasie in die tegnologie-sfeer tot water-tegnologie in droogtegeteisterde lande, oral lees ons van jongmense wat met kreatiewe oplossings vir ou probleme vorendag kom. Die oogpunt waaruit hulle die wêreld aanskou plaas hulle in die wonderlike posisie waarin hulle merkwaardige verskille kan maak!
Vier dit wanneer jou kind iets doen op ’n kreatiewe manier waaraan jyself nog nooit gedink het nie.
5. Hulle weet hoe om die DVD-speler te laat werk.
Wel, meer as dit: hulle weet bykans hoe alle tegnologie werk. En as hulle nie weet nie, snap hulle dit vining en kry dit baie vinnig reg om veranderinge te maak. As jy sukkel of vasbrand kan jy enige person jonger as 25 vra om te help, hulle sal waarskynlik binne ’n japtrap jou probleem oplos.
Vier jou kind se rekenaarvaardighede deur by hulle te leer! Hulle verbaas jou dalk net!
Ek wil werklik elke ouer op hierdie jeugdag aanmoedig om verby hulle eie misnoeë met die jeug te kyk en eerder te fokus op die wonderlike eienskappe waaroor ons jeug beskik. As ons die goud in hulle wil ontgin, sal ons moet begin optree asof daar werklik goud in hulle is. Vier dus die jeug in jou lewe op hierdie Jeugdag, en geniet die kleurrykheid wat met die jeug saamgaan!

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com