oudmodiese dekorstyl
oudmodiese dekorstyl

Vyf oudmodiese dekortrends. Of is dit?

Volg jy hierdie oudmodiese dekortrends? En is dit regtig oudmodies dekortrends? Volgens baie bronne op die internet is dit, maar ons is nie so seker nie en het kundige raad gekry. Deur Suzanne Kotzé

19/08/2022

Ons het by die kundige Erica Schalkwyk, eienaar en kreatiewe direkteur van Form Interior Design & Decor in Johannesburg, aangeklop vir hulp oor hierdie sogenaamde “oudmodiese dekortrends”.

“Ons glo nie juis in dekortrends nie,” sê Erica. “Ons glo jou huis moet hulde bring aan wie jy is en ’n veilige hawe van gemak wees.

Die geheim is nie om trends toe te pas en jou smaak te verander nie, maar om ’n spasie funksioneel en esteties vir jou te laat werk.”

Erica Schalkwyk, Form Interiors

Vyf oudmodies dekortrends

Volgens verskeie artikels wat ons die afgelope ruk gelees het, word hierdie trends as oudmodies gesien. Erica vertel hoe jy dit wel vir jou kan laat werk.

Oudmodiese dekortrend 1: Klassieke plaashuis

As jy met klassieke meubelstukke werk, is die truuk om ’n jukstaposisie tussen oud en nuut te skep. Werk in moderne en rustieke afrondings en die ou klassieke dekor sal nuwe lewe en ’n tikkie skop kry.

Oudmodiese dekortrend 2: ‘Bling’ en fluweel

Die geheim hier is om geliefde juweelskakerings en blink fluweel slegs as aksente te gebruik in ’n tematiese spasie, soos ’n ‘vintage’ tipe spasie of oordadige dramatiese ruimte. Laat dit die verrassingselement wees, in plaas daarvan om dit oral op elke element in die kamer te gebruik. Werk met skoon lyne en ‘boom’.

Oudmodiese dekortrend 3: Muurpapier 

Daar is geen manier wat muurpapier ooit oudmodies sal wees nie! Die prentjie of kuns dalk, maar muurpapier nee! Dit is juis ’n wonderlike manier om prettig te wees, sonder dat dit ’n fortuin kos. En as jy nie muurpapier kan bekostig nie, kan jy ook verf en kleurbloktegnieke gebruik. Moenie bang wees om te waag met ’n vervelige muur nie. Daar is ook wonderlike kunstenaars wie se werk ewe mooi op muurpapier gedruk sal lyk as in ’n raam.

Oudmodiese dekortrend 4: Oopplan leefruimtes 

Baie mense het nie ’n keuse as om oopplan te leef in byvoorbeeld oopplan woonstelle nie. Die truuk is egter om jou spasie op te breek sodat jy jou verskillende aktiwiteite kan kompartementeer. Om werk byvoorbeeld apart te hou van goed wat jy geniet. Werk en gimtoerusting kan byvoorbeeld in die TV-kamer wees terwyl kalmerende aktiwiteite soos joga of lees in die slaapkamer kan wees. Probeer om soveel moontlike spasies in jou huis te gebruik vir verskillende funksies en laat die energie van daardie funksie oorvloei in die energie van die ander funksie. Jy kan byvoorbeeld negatiewe werkenergie of frustrasie oorswaai in oefening.

Oudmodiese dekortrend 5: “Fast Furniture”

Ons kan nie almal bekostig om nie ‘fast furniture’ (meubels wat in grootmaat deur groot winkels voorsien word) te koop nie. Maar as jy kan, ondersteun gerus ’n plaaslike kunstenaar or verskaffer wat vir jou goed kan maak sonder dat jy ’n fortuin hoef te spandeer. Maak goed bymekaar wat jy liefhet eerder as wat jou spasie propvol staan met goedkoop ingevoerde goedere. Spaar, droom en ondersteun Suid-Afrikaanse vakmanskap. Daar is nêrens in die wêreld waar jy die talent teen die prys kan kry wat ons in ons land het nie. 

Die top oudmodies dekortrend: om trends te volg

Hou op om trends te volg. Wie gee om wat ’n ‘influencer’ of binneshuise versierder sê: skep ’n huis wat vol goed en mense is waarvan jy hou. ’n Hawe waar jy veiligheid en gemak kan vind en ’n plek wat jou gelukkig laat voel, weg van die wêreld daarbuite.


Besoek forminterior.co.za vir meer inligting

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
blompotte
Maak ’n stelling met blompotte
error: Content is protected !!