Soos die aande langer en kouer word, word ons winterslaapkamer ’n ontvlugting waar ons al hoe meer tyd wil deurbring. Gebruik gerus die Deense ‘hygge’-konsep om jou koesterende kamer te skep. Deur Suzanne Kotzé
Hygge jou winterslaapkamer so
Die Deense konsep Hygge verwys na daardie gevoel van genoegdoening wat jy kry as jy snoesig binnesmuurs ontspan en die klein, alledaagse dinge in die lewe geniet. Om jou slaapkamer te ‘hygge’ beteken om dit meer snoesig te laat voel en om ’n spasie te skep waar jy tevrede en ontspanne voel. ’n Spasie waar jy van jou sorge kan vergeet.
1. Tekstuur en nog tekstuur
Tekstuur speel ’n baie belangrike rol om ’n hygge-gevoel te skep.Winter is die ideale tyd om mooi teksture in jou kamer in te bring. Dink aan fluweelkussings, faux fur komberse (throws) of ’n dik wolkombers. Stileer jou bed so dat die verskillende teksture sigbaar is en oormekaar gebruik word.







2. Tyd vir winterlakens
Winterlakens is dalk nou nie iets wat ’n sigbare verskil aan jou kamer gaan maak nie, maar “om jou lakens te verander na winterslakens bly een van die maklikste maniere om jou slaapkamer reg te kry vir die winter,” sê dekorstiliste Kalinka Lombard en Heloise Louw.Warm flennie of winterlakens is by die meeste winkels verkrygbaar en maak dadelik jou bed meer snoesig.
Loer gerus na Volpes se winterlakens en Woolworths se winterbeddegoed.
3. ’n Warmer kleurpalet
Oorweeg gerus ’n wamer en of donkerder kleurpalet vir die winter. Aardse herskakerings vir slaapkamers bly ’n goeie keuse. Dink aan klei, roes, mosgroen en bruin skakerings.






As wit nou maar jou staatmakerkleur bly, oorweeg gerus hawermout of donkerder room skakerings. ’n Neutrale kleurpalet soos hawermout vir jou beddegoed in verskillende teksture, bly een van ons gunstelinge.




4. Matte, en nog matte
“Gebruik jou matte oormekaar in jou slaapkamer. Gebruik nog ’n mat in ’n komplementêre kleur of tekstuur saam met ’n mat wat jy reeds het.
Gebruik byvoordeeld jou persiese mat en gooi ’n growwe jutmat bo-oor. Of sit ’n wollerige, pelserige matjie langs jou mat neer. Jou voete hoef nooit op koue vloere te trap nie,” is Kalinka en Heloise van The Home Collective se raad.
5. Skep ’n snoesige sonhoekie in jou winterslaapkamer

Indien jy ’n venster in jou kamer het waar die sonnetjie lekker inskyn, benut die area gedurende die winter. Plaas ’n leunstoel of bankie daar, met ’n tafeltjie (plek vir ’n koffiebeker of glas rooiwyn).
Maak dit snoesig deur ’n mandjie met komberse daarin by dit neer te sit. En ’n paar gemaklike strooikussings.
Nou is dit die perfekte plek om in die wintersonnetjie ’n bietjie ‘me-time’ deur te bring.



Foto: Pinterest
6. Atmosferiese lampe
Maak heel eerste seker al die gloeilampe in jou kamer is warm (geel) en nie blou nie. Behalwe dat koue, blou lig ’n koue dagatmosfeer skep, kan dit jou ook laat sukkel met slaap aangesien jou brein blou lig met daglig assosieer.
Bedlampe en staanlampe skep ’n warm, gesellige atmosfeer.
Wenk: Ons het onlangs ons staanlamp se gloeilamp vervang met ’n ‘Smart’-gloeilamp wat jy met jou foon kan aan en afskakel (ons gebruik Alexa hiervoor). Nou hoef jy nie uit jou bed te klim om ’n lamp af te skakel nie.
7. Steek kerse aan


Kerse hoef nie net vir romanse te wees nie. Deur om kerse aan te steek, deel van jou aandroetine te maak, skep nie net ’n lieflike, gesellige atmosfeer nie, maar dit kan jou ook help om af te skakel en vinniger aan die slaap te raak. (Solank jy natuurlik nie met die kerse aan aan die slaap raak nie.) Jou brein begin dan die reuk van die kerse assosieer met slaaptyd en afskakel. (’n Goeie afskakelroetine voor bedtyd is baie belangrik vir ’n goeie nagrus. Lees meer hier: Sewe wenke om af te skakel voor slaaptyd.

8. Moenie van plante vergeet nie
Jy dink dalk nie aan plante in jou slaapkamer nie, maar plante kan help om ons te kalmeer en so ook beter te slaap. Juis hierom is slaapkamerplante baie gewild. Binneshuisversierder Sarah Ord beveel aan om groter plante in oorgroot mandjies naby ’n venster te plaas waar dit natuurlike lig kry.


Kayleigh Snyman van Plantify sê dat dit altyd belangrik is om na die lig in ’n vertrek te kyk; is dit helder, medium of min lig? Sy beveel die volgende plante aan wat nie net die lug suiwer nie, maar ook geskik is vir die meeste lig (behalwe direkte sonlig). Peace Lily, Cast Iron Plant, Love Palm en Chinese Evergreen is van die plante wat sy aanbeveel.
Lees meer hier: Plante in jou slaapkamer; hier is raad