Vyf weke gelede was die Oekraïnse-oorlog ondenkbaar en beslis ook nie iets wat hierdie vyf Oekraïniese vroue verwag het nie, want die woord oorlog behoort in ’n ander tydperk, ’n ander eeu. Gedurende die eerste maand is reeds 10 miljoene Oekraïniese mense van hulle tuistes verdring, met meer as 3.5 miljoen wat landuit gevlug het na veiligheid. Baie van hierdie mense is kinders en vroue. Vroue soos ek en jy. Mammas. Soos ek, soos jy. Deur sielkundige Gerda Kriel
25/03/2022
Vyf Oekraïniese vroue wat nou in Suid-Afrika bly, gesels oor die Oekraïnse-oorlog
In tye van oorlog, is dit vroue wat vir die voortbestaan van die samelewing verantwoordelik is. Dis vroue wat kinders veilig hou, ’n tuiste in haar arms skep en biddend vir ’n mooier môre wag. Dis dan ook die vroue van die Oekraïne wie se stemme ons in hierdie artikel wil eer.
1. Yana Kuvik. (Afkomstig van Lviv. Ma van een dogter.)
“Nee”, glimlag haar sagte oë vir my. “Ons is nie bekommerd oor oorlog nie! Rusland sal ons nie inval nie. Jy moet verstaan, hulle dreig en omsingel Oekraïne al vir 80 jaar. En as daar oorlog sou wees, sal dit dalk net rondom die grens wees.”
Ons ontmoet Yana en haar gesin by ’n braai, twee weke voor Rusland se inval. Hulle hou vakansie in Suid-Afrika, en Yana is bruingebrand en sorgvry. Haar dogter sit digby haar, gerusgestel deur haar ma se vertroue.
Twee weke later gesels ons weer. Die vakansie is verby, maar Yana is nog in Suid-Afrika. Gestrand.
“Ek moes my dogter alles vertel, net soos dit is. Dat Rusland ons binnegeval het, en dat hulle soldate ons stede binnevaar. Sy is tien jaar oud, sy verstaan alles. En sy is bekommerd, sy volg die nuus saam met ons. En ons kan nie huistoe gaan nie. Hierdie oorlog is onregverdig. Dit maak ons bang. Ek probeer begryp hoe so iets toegelaat kon word in vandag se wêreld. Ons is ‘n vredevolle nasie. Ek wil hê hierdie oorlog moet verby wees, ek wil huistoe gaan, terug na my geliefdes. As hierdie nagmerrie net wil klaarkry.”
(Yana is ’n ongelooflike bakker en verkoop tans van haar koeke in Stanford en by Hermanus se markies om ’n inkomste vir haar gesin te skep terwyl hulle in Suid-Afrika gestrand is. Besoek haar gerus daar.)
2. Lyudmyla van Aarde (Afkomstig van Kyiv, woonagtig in Stellenbosch. Ma van vier kinders)
“Vir die eerste tien dae van die oorlog, was my gedagtes glad nie by my kinders nie.
In ’n stadium het my tien maande oue baba so gehuil dat ek gedink het hy is siek. Eindelik het ek besef dat ek so afgetrokke was as gevolg van my gedagtes en vrese vir my geliefdes in Ukraïne, dat ek vergeet het om my kind te voed.
Ek is bekommerd oor my familie daar. My oom en sy gesin woon in ’n dorpie wat omsingel is deur Russiese troepe. Om veilig te bly skuil hulle in die kelder van hulle huis.
My kinders mag glad nie nuus kyk uit die Oekraïne nie, dis selfs te traumaties vir ons as volwassenes. Maar ek moes verduidelik dat Rusland die oorlog in Oekraïne begin het, en dat baie mense nou swaarkry.
Ek het ’n Russiese vriendin in Stellenbosch. My dogter se eerste vraag was of die Russiese tannie ook nou teen ons is?
Ek moes verduidelik dat Russiese mense wat nie vir Jesus ken nie teen Oekraïne veg, maar dat daar baie Russiese gelowiges is wat gekant is teen hierdie oorlog en nie saam veg teen Oekraïne nie.
Ons hoor gedurig van wonderwerke: missiele wat geloods word en val maar nooit ontplof nie, motorongelukke waarin mense ongeskonde uit die wrak klim.
Lyudmyla van Aarde
Ek voel geëerd om deel van hierdie nasie te wees. Oekraïners staan saam soos nooit te vore nie.
Daar is twee weermagte wat nou veg: een met wapens teen Rusland om Oekraïne te bevry, en die ander weermag veg op ons knieë – biddend en vastend om weer hoop in ons land te herstel.”
3. Oleksandra Carstens (Afkomstig van Sumy, woonagtig in Stellenbosch. Ma van twee.)
“Daar is nie genoeg woorde, trane of emosies om te beskryf hoe ons voel nie. My hele familie: my broer, suster en ouers woon in Oekraïne. Hulle kindertjies is almal nog klein, sommige nog in die kleuterskool.
Toe die oorlog begin, moes hulle almal uit hulle huise naby die Russiese grens vlug na die Weste van Oekraïne. My ma is 67. Hulle skuil nou in my broer se woonstel op die vyfde verdieping – nege van hulle tesaam. Die woonstel se glasvensters bied geen beskerming teen die bomme wat rondom hulle ontplof nie.
As die sirenes loei, gryp die kindertjies hulle speelgoed. Hulle weet die sirenes beteken hulle gaan moet wegkruip agter mure en daar probeer hulle speel.
Oleksandra Carstens
Ek het my eie kinders probeer beskerm teen die waarheid, maar iemand het my oudste by die skool daarvan vertel, en ek moes dit vir haar probeer verduidelik.
Hierdie hele oorlog is van die bose. Dit is irrasioneel, onverklaarbaar, onlogies. Hoe verklaar ’n mens so iets? Al wat ons vra is dat julle saam met ons bid. Gebede bring wonderwerke.”
4. Lyudmyla Heath (Afkomstig van Oleksyandriya, woonagtig in Stellenbosch. Ma van drie.)
“Ek woon al 20 jaar in Suid- Afrika, my Ma se familie is nog in die Oekraïne, en my broer woon nog in Oleksyandriya.
Emosioneel is dit so moeilik vir ons, dis moeilik om my broer se stem te hoor, te hoor hoe hy alleen is.
Alles daar is toe, en die enigste kos wat hulle het is kos wat hulle in die Somer preserveer het. Ons probeer my kinders nog baie beskerm teen die oorlog. Hulle idees van wat dit is is maar wat hulle op strokiesprente sien, maar die konsep dat iemand dood kan gaan daarvan het nie posgevat nie.
As daar een ding is wat die oorlog gedoen het, is dit om die hele wêreld bymekaar te bring. Is dit nie jammer dat dit so ’n groot tragedie neem om die wêreld te verenig nie?
Lyudmyla Heath
Ons moet saam bid vir die onskuldige mense daar, ou mense, siek mense en kindertjies. En ons wat in Suid-Afrika woon, moet besef hoe ongelooflik geseënd ons is. Dis tyd vir ons, as vroue in Suid-Afrika om die beste moontlike liefde wat binne ons is vir ons gesinne te gee. Soen hulle, druk hulle. Neem beheer van jou gesinslewe en wees intensioneel daarmee!
Leef elke dag met jou gesin asof dit jou laaste is, jy weet nooit wanneer dinge vir altyd kan verander nie.”
5. Natalia Novikova (Afkomstig van Kyiv, woonagtig in Kaapstad. Ma van drie.)
“Ek is diep versteurd deur die oorlog in Oekraïne. Gelukkig was my ma en susterskind nie in die land ten tyde van die begin van die oorlog nie, en die meeste van my familie is in areas wat tans nog veilig is, maar die eerste weke van die oorlog was verskriklik.
Ons het gedurig probeer om te hoor of almal veilig is. Die meeste van die manlike vriende en kenisse wat ek daar het, is reeds deel van die weermag. My broer het nog nie aangesluit nie, maar ek besef dis net ’n kwessie van tyd.
’n Jaar gelede was ons op ‘n ski-vakansie in Oekraïne saam met ons familie en vriende wat daar woon. Ons het by die lughawe op Ivano-Frankivsk geland, drie generasies van geliefdes saam op reis. Vandag is hulle almal verplaas, sommige na die Weste van Oekraïne, sommige na Europa, en sommige het by die weermag aangesluit.
Ek het vandag ’n nuusflits op CNN gesien wat beeldmateriaal uit Harkiv gewys het. In die middel van die puin en wrakstukke, sit ‘n man alleen en speel tjello.
Dit is vir my die hart van Oekraïne: ons bly lief vir ons land, ons verstaan hoe vryheid waarlik lyk, en ons sal dit nooit prysgee nie.
Natalia Novikova
(As jy finansiële ondersteuning wil stuur Oekraïne toe, kan jy by die volgende skakel ’n lys van organisasies met etiese reputasies vind; https://www.cnbc.com/2022/03/09/heres-a-list-of-top-rated-charities-to-help-the-ukraine-relief-effort.html. )
Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com