Ons het hierdie lipstiffiewenke by grimeerkunstenaars geleer en dit maak so ’n groot verskil. Van afskilfer tot verbloemer om jou buitelyne. Deur Suzanne Kotzé
Ons kan byna nie glo die gemiddelde vrou het net sewe lipstffies en gebruik slegs 2,6 daarvan gereeld nie. Dit is wat navorsers van Cheskin & Masten bevind het. Ons weet nie van jou nie, maar ons ontdek gereeld ‘nuwe/ou’ lipstiffies in ons handsakke en ons skat ons handsaklipstiffies alleen is seker sewe.
Grimeerkunstenaars se lipstiffiewenke
1. Skilfer jou lippe af; jou lipstiffie sal langer aanbly
“Ek skilfer altyd eers die lippe af deur lipbalsem te gebruik en van daardie weggooibare maskaraborseltjies (waarmee jy ook jou wenkbroue kan opkam). Wend die lipbalsem aan en borsel saggies oor jou lippe met die borseltjie,” is grimeerkunstenaar Renée de Witt se raad.
2. Moenie van die buitehoeke van jou mond vergeet nie
“Baie vroue smeer net lipstiffie in die middel van hul mond aan en vergeet van die buitehoeke. Onthou dit veral ook as jy ’n lippotlood aanwend,” sê Renée
3. Pasop vir lipstiffie wat te bleek is
“’n Mooi lipkleur kan so baie vir jou doen. En ’n natuurlike “nude” skakering lyk goed op byna elkeen. Maak net seker dat die skakering nie ligter as jou velkleur is nie, anders sal dit jou gesig aftrek en vaal laat lyk,” sê grimeerkunstenaar Alicia Buckle.
4. Wend verbloemer aan die buitelyne van jou lippe
Hierdie werk veral goed as jy rooi lipstiffie dra. Renée wend altyd ’n klein bietjie verbloemer om die buitelyne van die lippe sodat lipstiffie nie ‘bloei’ nie.
5. Versigtig vir lippe met duidelike lyne rondom
Hierdie is veral ’n fout wat jou kan laat ouer lyk, sê grimeerkunstenaar Cheryl Parker. “Gebruik eerder ’n rooskleurige potlood, omlyn en kleur jou lippe daarmee in. Wend ’n lipsalf wat effense glans skep bo-oor aan.”
Van ons gunseling lipkleure
Natuurlike lipkleure
Hiervan het jy minstens twee nodig, een vir jou handsak en een in jou grimeerlaai, want dit bly meeste van ons se elkedag lipstiffie.