Vyf goed om te probeer vir ’n gesonder vakansie

Heeljaar werk ons hard daaraan om fikser en gesonder te wees, en dan kom die Desember- vakansie. Dalk moet ons dit ‘Té’sember vakansie noem. Té lekker kuier, té veel eet, té veel drink, té min oefen. Hier is vyf goed om te probeer vir ’n gesonder vakansie, sodat jy nie middel Januarie weer van vooraf moet begin werk nie. Deur Suzanne Kotzé.

Bietjie leeglé, te veel eet, en minder oefen is gewoonlik deel van vakansie. En ons sê beslik nie hou op nie (ons gaan nie), maar hier is maklike vakansie-gewoontes om net nie heeltemal van die wa af te val nie.

1. Stap na etes

Stap ná etes is dalk een van die maklikste gesondheidsgewoontes wat jy kan aanleer en die wetenskap sê dit werk regtig. ’n Ligte stap van selfs net 10–15 minute na ete help jou spiere om glukose uit jou bloedstroom te gebruik, wat minder bloedsuikerpieke en bestendiger energievlakke beteken. Dit is veral voordelig as jy groot gedeeltes van die dag sit of luilekker rondlê.

Stap ná etes kan bloedsuikerbeheer ook aansienlik verbeter, het navorsers van Diabetes Care wat bevind. Volgens die navorsing is  drie kort stappies na etes meer effektief was as een langer daaglikse stap.

Stap ná etes het ook spysverteringvoordele.  Dit moedig dermbeweging aan, wat opgeblasenheid en daardie swaar, oorvol gevoel kan verlig. Ligte beweging na ete ondersteun vertering en help die liggaam om voedingstowwe meer doeltreffend te verwerk.

Die beste deel? Jy hoef nie kragstap te doen of gimklere aan te trek nie. Hou dit ontspanne, gaan buite toe as jy kan, en dink daaraan as ’n herstel- eerder as ’n oefensessie.

Gesondheidskundiges stem saam dat konsekwentheid meer saak maak as intensiteit. ’n Ligte, gereelde stap ná etes kan stilletjies bydra dat jou metaboliese gesondheid en spysvertering verbeter en help dat jou energievlakke meer stabiel bly deur die res van die dag.

Lees ook: Stap, stap so; die vele voordele van aanhou beweeg

2. Wissel alkhololiese drankies af met vonkelwater

Dieetkundinge Liezel Engelbrecht gee die volgende raad

Oor die feestyd is dit maklik om meer alkoholiese drankies as gewoonlik te drink. Die gewoonte kan egter sy tol eis op jou gesondheid. Te veel alkohol oor die langtermyn kan skadelik wees vir jou lewer en hartgesondheid en ook jou slaapgewoontes beïnvloed. Dit kan dit ook moeilik maak om jou energie-inname te bestuur. Alkoholiese drankies is dikwels hoog in kilojoules.

Moet ook nie geflous word deur lae-alkohol of geen-alkohol wyn, mengeldrankies of bier nie: dit is dikwels steeds hoog in toegevoegde suikers of koolhidrate, en dus ook hoog in energie (hoewel daar ’n paar uitsonderings is).

Natuurlik is laer alkoholinname oor die algemeen gesonder, maar probeer om dit nie te vervang met ander hoë-suiker alternatiewe nie. Baie alkoholdrankies en alkoholalternatiewe bevat nie voedingstabelle nie, so dis moeilik om te weet hoeveel suiker, of ander bestanddele, jy inneem. As daar wel ’n voedingstabel is, mik vir so min suiker as moontlik.

Wees slim en vat vonkelwater saam as jy uitgaan saam met vriende, en maak seker jou glas is heeltyd vol. Dikwels teug ons maar net uit gewoonte aan ons alkoholdrankie, en ons hou daarvan as ons glas vol lyk. Probeer dus om slukkies af te wissel met jou water, ook geskink in ’n mooi glas. As jy die gasvrou is, sorg vir ’n paar groot, mooi glasbekers met water. Maak dit aantreklik deur bevrore bessies, skywe appel, kruisement, lemoen of aarbeie daarby te voeg.

3. Minder skermtyd, meer leestyd

Om selfs net ’n klein bietjie foontyd vir leestyd te verruil, kan ’n merkbare effek op jou fokus, stresvlakke en slaap hê. As jy ‘scroll’, hou dit jou brein in ’n toestand van konstante stimulasie, terwyl lees volgehoue ​​aandag aanmoedig en die senuweestelsel help om na ’n kalmer modus oor te skakel. Navorsing wys dat lees stres kan verminder, konsentrasie kan verbeter en selfs empatie kan bevorder, terwyl oormatige skermtyd gekoppel is aan geestelike moegheid, verminderde aandagspan en swakker slaapgehalte. Dit beteken nou nie dat jy ’n totale digitale detoks hoef te doen nie, maar net 10 minute se blaai in ’n boek, tydskrif of e-leser (in plaas van ‘scroll’) kan jou brein en gemoed help om rustiger te word.

Wenk: Sit jou foon in ’n ander vertrek of buite bereik neer terwyl jy lees. Dit help keer dat jy kort-kort jou lees onderbreek deur jou foon te gryp.

Lees ook: Maak só kinders lief vir lees

10 redes waarom lees goed is vir jou; bekendes en boekwurms deel

4. Skermvrye dag

Skermvrye Sondae is tans ’n gewilde beweging. Maar dit hoef natuurlik nie ’n Sondag te wees nie, maar enige dag van die week.

Deur een dag jou foon intensioneel af te skakel en jou verhouding weer aan te skakel het soveel voordele.

Die idee agter ’n skermvrye dag is om jou brein kans te gee om te rus, om weer met jou hande te werk en kreatief te raak of selfs net meer intensioneel met jou verhoudings te wees.

Moedig almal in die huis aan om dit te doen, en beplan uitstappies of kreatiewe aktiwiteite.

Lees meer hier: Skermvrye Sondae: hierdie welweestrend is dalk die probeerslag werd

5. Legkaart bou

Om een groot legkaart op ’n tafel uit te sit, waaraan almal so stuk-stuk saambou is ’n wonderlik gesinsaktiwiteit. Dit help ook dat jy afskakel, want jy konsentreer so om die regte stukkies te kry en te bou, dat jou brein te besig is om oor allerhande ander dinge te bekommer.

Dit laat jou ook goed voel as jy daardie stukkie kry wat pas. Navorsing wys dat wanneer jy daardie ‘aha’ oomblikke het, meer endorfiene afgeskei word. En endorfiene is natuurlik bekend as die goedvoelhormoon.

Lees meer hier: 7 redes waarom legkaartbou so goed is vir ons

Bronne

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
borskanker
Borskanker-inspirasie
error: Content is protected !!