Hierdie gesondheids- en welwees podgooie kan enige vervelige motorrit (of in in die kar sit en wag, en wag, en wag) in ’n tydjie verander waarin jy iets kan leer en hopelik motiveer dit jou. Deur Suzanne Kotzé
20/05/2023
Gesondheids- en welwees podgooie
Hierdie podgooie is tans op ons luister of ‘om-te-luister’-lysies.
1. Huberman Labb
As jy gereeld Stylvol lees, het jy waarskynlik al ’n keer of wat van Dr. Andrew Huberman se aanhalings gelees. Ons is groot aanhangers van die Huberman Lab podgooi waar dr. Huberman oor interessante wetenskaplike konsepte gesels. Hy doen dit op so ’n manier dat selfs ons leke dit ook verstaan. Soms het hy kenners wat bydra en ander kere is dit net hy. Die podgooie is wel lank, maar jy hoef nie alles op een slag te luister nie.
As jy meer visueel is, het hy ook weergawes op YouTube. Hy dek ’n wye verskeidenheid van onderwerpe, almal oor neuro-wetenskap; hoe ons brein en sy konneksies ons liggaam se organe, ons gedrag, gesondheid en persepsies beheer.
Ideaal vir jou as jy daarvan hou om te verstaan hoe dinge (en veral jou lyf en brein) werk, belangstel in navorsing en wetenskap, maar nie altyd die jargon daarondom verstaan nie.
Luister hier
2. Hurdle
In elke episode van Hurdle gesels die aanbieder Emily Abbate (’n voormalige tydskrif- fiksheidsredakteur) met iemand wat deur ’n moeilike tyd in hul lewe (’n hurdle) gegaan het. Emily selfs het geweldig baie gewig verloor, en sy het ’n eerlike, geen nonsens aanslag. Sy is lief vir oefen, en fiksheid is een van die onderwerpe wat gedek word. Sy gesels ook oor emosionele welweeskwessies. Sy gesels op so ’n manier dat dit voel asof ’n vriendin met jou oor die foon praat of ’n lang voicenote stuur.
Die podgooie is gewoonlik so 45 minute tot een uur lank, maar op Vrydae het sy ’n kort 9 minute podgooi, wat gewoonlik een of ander self-motiverende onderwerp dek soos hoe jy daagliks meer teenwoordig kan wees. Sy stel ook gereeld uitdagings aan haar luisteraars.
Ons hou veral van haar positiewe aanslag en die manier waarop sy praat; sy laat jou voel asof jy haar ken, soos ’n vriendin. En sy is ook nie prekerig nie.
Ideaal vir jou as jy hou van oefen, of motivering kort om te begin oefen of van inspirerende lewenstories hou.
Luister hier
3. The Optimal Body Podcast
Hierdie podgooi word aangebied deur ’n ‘influencer’ fisioterapeut, Dr. Jen Esquer, en haar fisioterapeut man Dr. Dominic. Hulle het so ’n tipiese ‘gelukkige’, positiewe aanslag en manier van praat. Die doel van die podgooi is om jou te help verstaan wat ‘optimaal’ vir jou liggaam beteken. Hulle dek verskeie onderwerpe van stywe heupe tot seer knieë en wat jy daaraan kan doen. Hulle gesels ook oor hulle eie uitdagings terwyl hulle die luisteraars meer leer oor spesifieke beserings of behandelings.
Ideaal vir jou as jy belangstel in hoe jou lyf werk, hoekom jy soms sekere pyne ondervind en wat om daaraan te doen en ook vir mense wat gereeld oefen.
Luister hier
4. Foodtrainers
Foodtrainers word aangebied deur New Yorkse dieetkundige en skrywer Lauren Slayton. Voordat sy Foodtrainers begin het, het sy by St.Luke’s-Rooseveldts Obesity Research Unit gewerk.
Lauren het ’n reguit aanslag (wat ’n mens soms laat lag) terwyl sy oor alles van voeding ‘trends’ tot haar eie wenke en wat sy graag eet deel. Sy gesels ook soms oor geestesgesondheidskwessies en goed soos ’n positiewe liggaamsbeeld.
Ons hou daarvan, want sy inspireer jou sonder dat jy skuldig voel. Sy verskyn gereeld op TV-programme. Die episodes is nie te lank nie, 30 minute of minder.
Ideaal vir jou jou as jy belangstel in ’n gesonde leefstyl en eet, maar nie altyd weet wat om te glo nie.
Luister dit op
5. The Mel Robbins Podcast
Bekende outeur Mel Robbins (skrywer van The High 5 Habit en The 5 Second Rule) se podgooi is nie verniet gereeld bo-aan die podgooi ranglys nie. Eens ’n prokureer en CNN kommentator het Mel breekpunt bereik na haar man se restaurantbesigheid in 2008 bankrot gespeel het. Sy was werkloos, hulle het miljoene rande se skuld gehad, sy het gesukkel met angstigheid en het te veel gedrink. Dit is toe Mel haar wêreldbekende vyf sekonde reël begin toepas het. Sy het vir haarself gesê as sy binne vyf sekondes uit die bed kan klim, kan sy depressie en angstigheid oorkom. ’n Boek hieroor en vele toekennings later is sy ’n wêreldbekende motiveringspreker. In haar podgooi fokus sy daarop om praktiese raad te gee om haar luisteraars te inpireer, motiveer en te bemagtig. Sy gesels ook sommer oor wat in haar persoonlike lewe aangaan (soms is dit skreeusnaaks) en gee raad vir luisteraars of voer onderhoude met kundiges.
Ideaal vir jou as jy gereed is om beheer van jou lewe te neem en veranderinge toe te pas, en dalk motivering kort om dit te doen.