Voertsek swembroek-angs

Hoeveel keer het jy nie al iets lekkers misgeloop nie, omdat jy dalk skaam is om in ’n swembroek te verskyn? Jy is nie alleen nie, maar kom ons laat dit gaan en begin die lewe in alle vorms en groottes geniet. Deur Suzanne Kotzé


Hoeveel keer het ek nie al ’n verskoning uitgedink oor hoekom ek nie saam met vriende op daai stranduitsappie kan gaan nie, of hoekom ek nie wil swem by die swembad-partytjie nie. En nou as ek terugdink, besef ek dat ek toe baie maerder en mooier was as nou en soveel misgeloop het. Dit het alles verander toe ek veertig geword het, en besluit het ‘nou gee ek nie om nie, ek gaan niks verder misloop nie.’

As jongmeisie in die negentigs was Kate Moss so ’n idol, dat die van ons met kurwes tog nooit so ‘mooi’ kon wees nie. Selfs in Victoria Beckham se dokumentêr praat sy oor haar gewig en hoe daar in die media aanmerkings was oor hoe ‘vet’ sy was na haar kinders se geboorte. Mid 2000’s was dit seker op sy ergste. Dink maar aan hoe Britney Spears, Nicole Richie, Reneé Zelwegger (in haar ‘Playboy Bunny’ uitrusting in Bridget Jones) veroordeel is oor hoe hulle lyk.

Geen wonder soveel vroue ervaar swembroek-angs nie.

Swembroek-angs en self-objektifikasie

Vir baie vroue laat die blote gedagte daaraan om in ’n swembroek in die openbaar te verskyn hulle meer as liggies ongemaklik voel; dit kan skaamte, selfbewustheid en vermyding veroorsaak. Navorsing wys dat sielkundige en kulturele magte agter hierdie bekende somervrees sit.

’n Kernverduideliking is selfobjektivering: in kulture wat gereeld vroue se liggame evalueer, internaliseer baie vroue ’n “buitestander se blik” wat hul voorkoms monitor in plaas daarvan om hul liggame van binne te ervaar.

Let gerus ook op hoe jyself na ander vroue se lywe kyk. Jy is dalk selfkrities en dink dalk ‘sjoe, ek weet nou nie of jy die lyf het om jou boude so te wys nie.’ Hoe meer ons ander mense se liggame objektiveer, hoe meer doen ons dit ook met onsself.

Probeer jou gedagtes beheer as jy agterkom jy doen dit. Begin eerder kyk na hoe baie mense hulself geniet in die water of op die strand.

Daar is selfs navorsing wat wys dat dat die blote aanpas (of verbeel om aan te pas) van ’n hierdie gevoel van selfobjektivering, liggaamsskaamte en voorkomsangs verhoog in vergelyking met die aantrek van alledaagse klere.

Sosiale vergelyking

Sosiale vergelyking en media-ideale versterk die effek. Wanneer skraal (dikwels ge-retoesjeerde [retouched]) liggame tydskrifte en feeds oorheers, meet vroue hulself dikwels teen eng, onrealistiese standaarde. In swembroeke, wat natuurlik veel meer lyf wys, is daardie vergelykings pynlik opvallend. Toenemende blootstelling aan sosiale media en liggaamsontevredenheid gaan hand aan hand en kan druk dat ons op ’n seker manier moet lyk en die angs wat daarmee gepaard gaan net meer maak.

Dankie tog vir positiewe rolmodelle soos Mel die Storieverteller

Mel die Storieverteller deel:

Met die son en see seisoen wat op pad is, wil ek jou net herinner:

“Selluliet is net tekstuur! Nie ’n tragedie nie! Almal het dit! Die tragedie is die mense wat jou waarde koppel aan hoe baie of hoe min selluliet jy het. Selluliet is ’n natuurlike afweringsmiddel teen oppervlakkige mense, en dus is dit eintlik ‘n wonderlike ding. Die regte man sal jou en die lyf wat saam met jou kom, in al sy fases, LOVE! Dis normaal! So asseblief! Trek daai costume aan en geniet die somer! Jy leef net eenkeer!!”

Bronne:

Mel die Storieverteller Facebook (met vergunning van Mel geplaas)

Fredrickson, B. L., & Roberts, T. A. (1997). Objectification theory: Toward understanding women’s lived experiences and mental health risks. Psychology of Women Quarterly, 21, 173–206.

Rai, S., & Sharma, R. (2024). Body Perceptions and Psychological Well-Being: A Review. Journal of Psychosocial Research, 19(1), 249–260. https://doi.org/10.32381/JPR.2024.19.01.18

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
wakkerwordwenke
6 Wakkerwordwenke vir naguile
error: Content is protected !!