Vloeibare-oogomlynergids vir sukkelaars

Om vloeibare oogomlyner aan te wend is geen grap nie. Lyne wat skeef en krom is (en later maar in ’n ‘smokey eye’ verander) is hoe die meeste van ons dit doen.  Ons sukkel self met oogomlyner en het vir hulp gevra. Hoop hierdie wenke kan ons en jou help. Deur Suzanne Kotzé

Vloeibare oogomlynertruuks

Ons het Kaapse grimeerkunstenaar Jade Leggat Smith gevra om vir ons haar beste oogomlynertruuks te leer.

1. Poeier jou ooglede

As jy nie oogskadu aanwend nie, wend gesigpoeier aan jou ooglede om enige oortollige olie te absorbeer. (Hierdie olie kan maak dat jou oogomlyner smeer).

2. Maak seker jy het genoeg tyd

Moenie eers daaraan dink om vloeibare oogomlyner aan te wend as jy gejaagd is nie. Dit is wanneer jy foute maak, en hierdie is ’n tydsame proses.

3. ’n Vergrootspieëltjies is handig

Veral as jy ’n brildraer is.

4. Die regte spasie is belangrik

Rus jou elmboog op jou spieëltafel. Om dit so staan-staan-arm-in-die-lug te probeer aanwend, is moeilikheid soek. Jou arm en hand moet stabiel wees.

5. Lig jou ooglid

Gebruik jou vinger om jou ooglid effens opwaarts te trek. Dit help dat die ooglid gladder en meer reguit is, wat maak dat jy die lyntjie beter kan teken.

6. Begin met ’n oogpotlood

Trek eers jou streep met oogpotlood. Dit is makliker om foute reg te maak of oor te begin. Gaan daarna bo-oor met jou vloeibare oogomlyner.

7. Kul die opwip

As jy ’n plooi of twee langs jou ooghoek het, en sukkel met die opwip (wat dan juis hier val), kul die opwip. Trek jou opwiplyntjie effens bokant die plek waar dit normaalweg sal wees.

8. Gebruik jou vinger om die wip te help.

Net nadat jy die opwip lyntjie getrek het, gebruik jou ringvinger en vee net onder die lyntjie opwaarts.

9. Moenie een reguit lyn probeer trek nie

Dit is selfs vir grimeerkunstenaars moeilik. Trek eerder eers klein lyntjies en gaan dan bo-oor die lyntjies om een lyn te vorm.

10. Gebruik die stempel metode

Verbeel jouself dat die punt van jou vloeibare oogomlyner ’n tipe stempel is en druk en rol die lyntjies aan eerder as om een lyn te probeer trek.

11. Oorweeg die stippellynmetode

Teken ’n paar strepies/kolletjies en verbind dit dan om ’n lyn te vorm.

12. Trek twee lyntjies vir jou wip

Een by die vou van die oog opwaarts en een van buitehoek na die punt van die ander lyntjie, kleur dan die driehoekie wat vorm in. 

13. Buite na binne

Jade sê sy trek gewoonlik die lyn van die buitehoek na die binnehoek. En ook nie een streep nie, maar klein lyntjies langs mekaar (wat een vorm).

14. Kyk af vir ’n dun lyn in jou binnehoek

Los die binnehoek vir laaste. Om daardie dun fyn lyntjie in jou binnehoek te kry, kyk af (sit jou spieeltjie plat neer) en konsentreer om tot by die binnehoek te kom. Onthou jy wil hê jou lyn moet van dun (binne) na dikker (op die wip) gaan.

15. Onthou van jou waterlyn

Lig jou ooglid op en trek ’n fyn lyntjie in die waterlyn (die pienk gedeelte net onder jou wimpers) van jou boonste lid. Hierdie fyn lyntjie laat jou wimpers voller lyk. (Hierdie truuk kan jy gebruik saam met ander ooggrimeervoorkomste ook, net om jou wimpers te laat voller lyk.)

16. Weet skoonmaak is deel van die proses

Hou oorpluisies en grimeerverwyderaar byderhand, nie net vir wanneer jy foute maak (en dit so vinnig as moontlik wil skoonvee voor dit droogword nie), maar ook om onder jou getrekte lyntjie te vee om die lyn skerp en grafies te laat lyk en om van enige oogomlyner onder die lyntjie ontslae te raak.

17. Verbloemer is ’n uitveër

Gebruik ’n klein kwassie om skoon/reg te maak.

18. Kies ’n vloeibare oogomlyner wat ook vir jou wimpers sorg

Ons het Revlon ColorStay Lash Serum + Liner (R229,95) gebruik. Dit is nie net ’n oogomlyner nie, maar sorg ook vir jou wimpers. Dit bevat mikro-alge, afkomstig vanaf Tahiti, bekend daarvoor dat dit kan vernuwe wat help dat jou wimpers gesond lyk en bly. Die punt van die oogomlyner help dat die oogomlyner makliker aanwend, sonder dat dit trekkerig voel. Dit word vinnig droog, het ’n pikswart kleur en die spesiale ‘Adapti-Flex Color Lock’ tegnologie help dat dit aanbly, nie verdof of smeer nie.

19. Aanhouer wen (hopelik)

Ons gaan hard probeer en oefen, want ons is mal oor hierdie voorkoms en wil dit so graag ook netjies kan doen.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
fyn hare salome de wet
7 Goed wat elke vrou met fyn hare moet weet
error: Content is protected !!