Dek ’n Italiaans geïnspireerde tafel vir jou volgende buitekuier; van gestroop en rustiek tot kleurvol en speels. Deur Suzanne Kotzé
Die Italianers is bekend vir hul warm onthaalstyl. ’n Italiaanse kuier bring die elemente van kos, familie en feesvier saam.
Italiaanse inspirasie; gestroop en rustiek
Die tafel en dekor het ’n byna gestroopte gevoel, terwyl die gaste (en kos) die geselligheid bring.



Die gevoel
Gestroop, rustiek en aards.
Die kleure:
Aardse sakerings soos klei, room, steen, mosterdgeel en groen.
Die basis:
Jy het nie noodwendig ’n tafeldoek nodig as jy ’n rou houttafel het, en vir ’n meer rustieke voorkoms gaan nie. Gestroopte natuurlike linne, geel, groen of geruite tafeldoeke werk goed.
Die middelpunt
- Vars kruie en groenigheid: soos roosmaryn, bloekom- en olyftakke
- Vars vrugte/groente: soos suurlemoene, vye, tamaties ens. in ’n bak of los op die tafel
- Kerse; ’n mengsel van eenvoudige kort teeliggies of lang kerse wat ’n warm gloed skep.
Eetgerei
- Borde: eenvoudige wit borde, of borde wat handgemaak lyk
- Groot plat opdienborde in die middel van die tafel, vir ’n familiestyl fees
- Linne/lap servette
Afronding
- Olyfolie en balsamiese asyn botteltjie op die tafel
- Broodmandjie met rustieke brode in linne toegedraai
- Kraffies vir wyn en water












Dolce Vita Alfresco
Die bonter tipe tafeldek styl staan bekend as die Dolce Vita Alfresco of Italiaanse Riviera styl.



Die gevoel
Speels en spontaan vir ’n luilekker kuier.
Die kleure:
Dit word gekenmerk deur helder, sondeurdrenkte kleure. Koraal, oranje, groen, Amalfi-kus blou, suurlemoengeel, tamatierooi, kruiegroen, terracotta saam met neutrale skakerings.
Die basis
’n Gestreepte of patroontafeldoek saam met skulpvormige afwerkings en plekmatjies.
Die middelpunt
Helder bossies blomme wat nie te netjies of te styf gerangskik is nie. bougainvillea, hibiskus en rose, sommer so ingedruk. Suurlemoene kan ook werk.
Bont en gestreepte kerse van verskillende hoogtes
Eetgerei
- Borde met ’n skulppatroon of strepe. Borde wat lyk of dit handgeverf is. Meng en pas gerus verskillende borde en patrone.
- Plat opdienborde in strepe of patrone of met skulpafwerkingdetail.
- Gekleurde glase
Afronding
Span gerus liggies oor jou tafel vir ’n feestelike, laataand kuiergevoel. Amper of jy op ’n markplein in Italië sit en ’n trekklavier gaan begin speel.












Die belangrikste van enige lekker kuier is natuurlik die geselskap en samesyn, maar ’n mooi gedekte tafel laat jou gaste dadelik spesiaal voel en sit jou in die luim. So ‘salut’ en lekker kuier.





