Winter hoef nie ’n donker depressiewe tyd te wees nie, gebruik hierdie winterwelwees-gewoontes om liggaam en siel te herlaai. Deur Suzanne Kotzé
Winterwelwees-gewoontes om te probeer
1. Hou aan beweeg
Die versoeking is beslis groot om jou alarm dood te druk en eerder te slaap as om in die donker op te staan om te oefen. Of saans as jy tuis kom, is dit dalk al reeds donker. Navorsing wys egter dat oefening gedurende die winter juis voordelig kan wees vir jou.
Verbeterede uithouvermoë
Gedurende die winter kan die koue help om jou uithouvermoë ’n hupstoot te gee, aangesien jou hart nie so hard hoef te werk nie en jy minder. warm kry en sweet. Saam help dit dat jy meer effektief kan oefen.
Wit vet verbrand
Navorsing wys ook deur te oefen in koue weer kan help om hardnekkige wit vet (soos die om jou maag en dye) kan verander in die ‘gesonder’ bruin vet. (Hierdie is juis ook een van die voordele wat kouewater-swem het).
Verbrand meer energie (omdat ons liggame moet opwarm)
Nog ’n studie wys dat oefening in die buitelug gedurende die winter meer energie as gedurende ander tye van die jaar verbrand. Ons verbruik meer energie om ons liggame op te warm.
Meer endorfiene=beter luim
Dieselfde studie wys dat meer immuunligaampies vervaardig word gedurende oefening in die winter as in die somer. Dit help dat meer suurstof jou brein bereik, wat die funksie help verber en ook die hoeveel endorfiene (wat help beskerm teen die winter se ‘af’ gevoel) wat afgeskei word.
Onthou net om goed op te warm voordat jy begin oefen en dra lae (veral as jy buite oefen). ’n Flitsliggie om jou kop as jy buite in die donker oefen is ook ’n moet. En onthou ligreflekterende klere as jy naby verkeer oefen.
2. Slaap gerus meer
Dr. Dale Rae, ’n slaapwetenskaplike aan die Universiteit Kaastad het ’n doktorsgraad in slaapwetenskap, en is ook die direkteur van sleepscience.co.za en sê:
“Lig is die hoofbron van ons sirkadiese ritme. Ons retinas stuur ’n boodskap dat dit lig of donker is na ons pineale klier (in ons brein geleë) wat dan melatonien afskei. Saans het ons tot tien keer meer melatonien, en juis hierom word daar dikwels na melatonien as die ‘slaaphormoon’ verwys. Natuurlike sonlig soggens stuur weer die boodskap vir jou brein dat dit tyd is vir opstaan. In ’n ideale wêreld sou ons van natuurlike sonlig, en nie wekkers nie, wakker word.”
Aangesien die dae korter en die aande langer is gedurende winter, maak dit net sin dat ons meer slaap nodig het. En al hiberneer ons dalk nie gedurende die winter nie, wys navorsing juis dat ons wel meer slaap nodig het gedurende die herfs en winter omdat dit minder lig is.
“Die meeste mense het in dié tydperk so ’n uur meer slaaptyd nodig,” sê dr. Dale.
3. Hygge by jou huis
Om lekker snoesig by die huis te wees gedurende die winter is ’n goeie herinnering om jou lewenspas effens stadiger te maak. Deur eenvoudig tuis en teenwoordig te wees, help ons ook om geluk in die oomblik te vind. Steek gerus die kaggelvuur en kerse aan, lees op die bank onder ’n vertroetelende kombers en drink jou glas rooiwyn of koffie of tee met ekstra genoegdoening.
Familie-fliekaande en bordspeletjies help weer met konneksie.
4. Geniet die wintersonnetjie
Neuro-wetenskaplike Professor Andrew Huberman van die Huberman Lab aan die Stanford Universiteit in die VSA vind oggendsonlig so belangrik dat hy al verskeie praatjies en podgooie hieroor gedoen het. “Om na oggendsonlig te kyk, is onder my top vyf aksies om geestes- en fisiese gesondheid sowel as prestasie te ondersteun.
Die top vyf aksies sluit in
- Slaap
- Beweging (oefen)
- Voedingstowwe
- (Son)lig
- Verhoudings
Gedurende die winter is dit natuurlik ekstra lekker om tyd in die sonlig deur te bring aangesien dit nie so fel en warm is nie.
Die voordele van oggendsonlig
- help met fokus gedurende die dag
- help met beter slaap
- verbeter jou immuunsisteem
- moontlike gewigsverlies
- kan help met depressie
- verminder spanning
- goed om sekere velsiektes te behandel
Geniet die koesterende wintertyd.