‘Woke’ is meer as net die verlede tyd van wakker. Vandag is dit so deel van spreektaal dat dit reeds ook verdeeldheid veroorsaak het. Die term, wat reeds vanaf die 1960’s ’n aanvanklike en sterk konnotasie met rasse-diskriminasie het, verwys egter deesdae ook na sosiale diskriminasie en seksuele oriëntasie en hoe jy identifiseer. Deur Suzanne Kotzé
02/05/2022
So rukkie terug is ek by my jaarlikse ‘girls’ weekend’ saam my skoolvriendinne. Terwyl ons luilekker om die swembad lê en gesels (so gemaklik soos jy net kan met dekade-oue vriende) oor alles van eerste liefdes tot egskeidings, werk, familie en kinders vra iemand: “julle maar wat presies beteken ‘woke’?” En ons almal weet min of meer wat dit beteken maar niemand weet presies nie. Dit terwyl die term so ‘oud’ is dat mense reeds aan die baklei is hieroor; van ‘woke-washing’ tot ‘toxic woke culture.’
So, wat beteken die term ‘woke’?
Volgens die Oxford English Dictionary word ‘woke’ as byvoeglike naamwoord figuurlik gebruik om te verwys na ‘bewus’ of ‘goed ingelig’, veral in ’n politieke of kulturele sin. Gedurende die afgelope dekade is dit egter algemeen gebruik om te verwys na bewustheid van rasse- of sosiale- diskriminasie en onreg.
Om ‘woke’ te wees in terme van rasse-diskriminasie
Die term ‘woke’ is vanaf sy oorsprong gedurende die 1940’s dikwels in terme van rasse-diskriminasie gebruik. In later jare (2008) is dit veral bekend gemaak deur ’n liedjie van Erykah Badu, Master Reacher. Die koor gedeeltjie van die liedjie is ‘I stay woke’.
Die hutsmerk #staywoke is veral ook deur die Black Lives Matter beweging gebruik nadat die ongewapende tiener, Trayvon Martin, deur ’n buurtwag vrywilliger doodgeskiet is in Florida, VSA.
Een jaar na George Floyd se dood (polisieman Derek Chauvan het op sy nek gekniel vir nege minute), het Floyd se broer die volgende gesê:
“Now that your eyes are open and you know what my culture goes through, I want my culture to stay woke but I want the other cultures that’s supporting us to stay woke.”
Terence Floyd
Daar is baie mense wat sterk voel daaroor dat ‘woke’ net in terme van rasse-diskriminasie en kwessies gebruik mag word, aangesien dit die oorsprong is. Lees gerus een so ’n mening in hierdie artikel: Exhibit A Bill Maher: Why White People Should Stop Using The Term ‘Woke’…Immediately
Om ‘woke’ te wees in terme van seksuele- en geslagsoriëntasie
Cis, ‘them’, ‘they’, hierdie kan verwarrend wees.
Maar eers moet jy die verskil verstaan tussen geslags- en seksuele oriëntasie
Geslag
Geslag klassifiseer jou as manlik, vroulik of intergeslagtelik; gebaseer op jou geslagsdele tydens geboorte.
Seksuele oriëntasie
Seksuele oriëntasie verwys na wie jy aangetrokke voel.
Binêre geslag (Gender binary)
Die idee dat geslag óf manlik óf vroulik is.
Bi-seksueel
’n Seksuele identiteit gebaseer op jou aantrekking tot mense van die teenoorgestelde en dieselfde geslag. Vandaar die voornaamwoord ‘bi’, wat twee beteken.
Cisgender
As jou geslagsidentiteit die liggaam pas waarin in gebore is, is jy cisgender (of cis in kort). So as jy as vrou gebore is en ook so voel. Dit is egter nie dieselfde as jou seksuele oriëntasie nie. Jy kan gay, reguit, bi ens. wees terwyl jy cis is.
Drag queen en drag king
Gewoonlik ’n gay man (maar nie noodwendig gay nie) wat ’n optree-kunstenaar is en wie se toneelspel uitdrukkings van hipervroulikheid bevat en wat gewoonlik sensasionele vroueklere op die verhoog aantrek.
Drag king is die manlike weergawe hiervan, waar ’n vrou die rol van ’n man vertolk.
Die klere is deel van hulle optrede en hulle is nie noodwending crossdressers (mans wat vroueklere dra, en vroue wat mansklere dra en nie noodwending gay is nie).
Gay (homoseksueel)
Dit verwys na die seksuele identiteit waar een persoon aangetrokke is tot dieselfde geslag. Sommige mense verkies egter om die woord queer te gebruik, aangesien hulle voel dit is meer inklusief. Die term kan egter ook problematies wees aangesien dit ook sinoniem met vreemd of weird is.
Geslagspektrum
Die meer inklusiewe manier om na geslag te kyk as nie net manlik of vroulik nie, maar met geslagsidentiteite tussen-in (of buite) manlik en vroulik.
Geslagsoorgang
As ’n persoon begin leef volgens hulle geslagsidentiteit, eerder as die geslag waarmee hulle gebore is. Dit kan die volgende insluit: om jou klere, voorkoms, naam en voornaamwoord (sy, haar, hom, hulle) te verander. Sommige mense verander hulle identiteisdokumente, kry hormoonterapie of operasies sodat hoe hulle ligame fisies lyk ooreenstem met die geslag wat hulle voel.
Gender fluid
Die verandering met tyd in ’n persoon se geslagsuitdrukking of geslagsidentiteit of beide. Die verandering kan dalk net in ’n persoon se geslaguitdrukking wees of in hul geslagsidentiteit of beide.
Sommige mense ontwikkel ’n geslagsidentiteit gedurende hul kinderjare, terwyl ander mense met een geslag assosieer op ’n sekere tyd en dan weer met ’n ander geslag op ’n latere tyd. Dit is nie dieselfde as ’n trans persoon wat met een identiteit gebore word, en met ’n ander assosieer nie.
’n Persoon wat byvoorbeeld as ’n seun vanaf geboorte tot vroeë twintigs geïdentifiseer het, en dan as nie-binêr funksioneer en weer later as manlik of vroulik identifiseer, kan as gender fluid gesien word. Al mag hy/sy hom/haar nooit self so beskryf nie.
Lees gerus meer hier: Gender Fluidity: What it means and why support matters
Nie-binêr (Nonbinary)
Wanneer jou geslag nie manlik of vroulik is nie. Die sambreelterm sluit mense in wat glo hulle is meer as een geslag, gender fluid, of glo hulle behoort aan geen geslag nie. Hulle gebruik ook hulle (them/they) as voornaamwoord aangesien hulle nie met sy/hom/haar identifiseer nie.
Lees meer hier:
Panseksueel
Hierdie word dikwels met biseksualiteit verwar. As jy pan is, is jy aangetrokke tot alle geslagte, sonder dat jy aan geslagsverskille dink.
Transgeslagtelik (Transgender)
As jou geslagsidentiteit nie by jou gegewe geslag (waarmee jy gebore is) pas nie, is jy trans. Om ’n transpersoon respekvol te behandel, moet jy na die persoon verwys na gelang van hulle geslagsidentiteit en nie na hul geslag tydens geboorte nie. So iemand wat as manlik gebore is, maar vandag as ’n vrou leef is ’n transgender vrou en daar word na haar verwys as sy/haar. Iemand wat as vroulik gebore is en vandag as man leef is ’n transgender man en daar word na hom verwys as hom/sy.
Onthou egter dat geslagsidentiteit nie dieselfde as seksuele voorkeur is nie. Jy kan trans wees en reguit, bi, gay ens. ook wees.
As jy onseker is hoe om na iemand te verwys of aan te spreek, vra hulle.
Om ‘woke’ te wees en ander sosiale kwessies
Om ‘woke’ te wees verwys ook daarna om kennis en belangstelling te hê in ander sosiale kwessies soos kulturele toe-eiening, wit bevoorregting, die omgewing, volhoubaarheid en vele meer.
Ons het almal sekere brille op waardeur ons die wêreld sien. Haal daai brille af, en probeer die wêreld ook deur iemand anders se bril sien. Maar regtig sien, en probeer verstaan sonder vooroordeel. Moenie net toeklap omdat dit wat jy glo reg is, anders is nie. Onthou die wêreld is nie swart en wit en grys nie, daar is ’n reënboog van kleur, kultuur, oortuigings en identiteite tussen die swart en wit. Is jy ‘woke’? Jy kan dalk so dink, maar moet dit nooit ooit sê nie. Daar gaan nog iets wees waarvan jy nie weet nie. Al wat ons kan doen is om te probeer wakker wees.