vel wat hang
vel wat hang

Vel wat hang (en kan jy iets daaraan doen)?

Jy kyk in die spieël en ewe skielik sien jy jou vel wat hang, jou gesig lyk anders en jy is seker jou ooglid of wang was gister nog op ’n ander plek. Maar hoekom begin ons vel hang, en wat kan ons daaraan doen. ’n Dermatoloog en velkundiges gee raad. Deur Suzanne Kotzé

23/06/2023

Die redes vir vel wat hang

Zoya Nell, opleidings inhoud-ontwikkelaar, by Isa Carstens Academy verduidelik.

Veroudering, swaartekrag en eksterne faktore soos sonskade, besoedeling en leefstylkeuses (soos rook) dra by dat vel begin hang. 

Die fisiese struktuur van die vel, spier, en strategies geplaaste vetneerlae (fat pads) word deur swaartekrag afgetrek. Die vet-kompartemente krimp saam met die beendigtheid van die skedel; en die dermis wat die grootste laag van die vel se drie-laag struktuur is, verdun oor tyd.  

Jou vel se samestelling en vel wat hang

Die dermis bestaan uit onder andere uit die proteïne: kollageen en elastien.  

Kollageen

Kollageen is soos die matras van die vel, hoe dikker, hoe gesonder, hoe meer blakend en glad lyk die oppervlak. Soos ons ouer word, word jou kollageen se kwaliteit swakker, en daarom word die vel mettertyd dunner

Elastien

Elastien gee die soepelheid wat die vel weer laat terugskuif na die oorspronklike posisie toe. Soos ons ouer word, verminder elastien wat dan die terugspring-eienskap van die vel minder maak.  

Die vet-kompartemente (neerlae)

Jou spiere verswak en jou vet-kompartemente verskuif en krimp. Die vet-kompartemente bo jou wangbene krimp en veroorsaak ’n holte onder die oogbank.  Die skadu’s wat veroorsaak word, speel  ’n groot rol in hoe vinnig die veroudering opmerklik word.

Lees meer oor vet-neerlae hier 

Op watter ouderdom begin jou vel hang?

Zoya verduidelik

“Dit hang van persoon tot persoon af, asook genetika, geslag, plekkie onder die son en herkoms.  Gewoonlik wys ligter velkleure veroudering vinniger as dié met hoër pigment-inhoud.  Lyntjies en verkleuring (ekstra of geen pigment wat as donkerder kolle op die vel vertoon, of kolle wat spierwit/kleurloos is) agv pigmentasie, of rooi aartjies agv verswakte kapillêre strukture, word gesien as die aanvanklike tekens dat die vel se struktuur en bykomende komponente begin verswak.

Die middel 20’s tot middel 30’s is wanneer die vel gewoonlik die onderliggende skade begin wys en die tekstuur (oppervlak) begin verander.  Dit beteken lyntjies begin wys wanneer jy glimlag, maar gaan weer weg wanneer jy ophou glimlag.  

Teen die middel 40’s kan ons gewoonlik die sonskade van die tienerjare op die oppervlak begin sien, saam met die lyntjies wat dan permanent op die vel sigbaar is – wanneer ons nie glimlag nie.

Mens moet perspektief behou oor veroudering.  Om ouer te word met ’n gebalanseerde versorgingsroetine skep ’n fondasie vir ’n gesonde voorkoms deurentyd wat ’n spieëlbeeld is van ’n gesonde lewe gelei.”

Zoya Nell

Jou vel word minder elasties soos jy ouer word.

Kaapse dermatoloog dr. Suretha Kannenberg verduidelik:

“Jy het minder hialuroonsuur, kollageen en elastiese vesels in jou vel soos jy ouer word. Dit gebeur as gevolg van ’n kombinasie van minder produksie (geneties bepaal en dus intrinsieke veroudering) en verhoogde afbraak, aangemoedig deur eksterne trauma soos son, sigaretrook en besoedeling (dus ekstrinsieke veroudering). Met hierdie word die dermis (dus die dieper lagie van die vel) dunner, die vel word fyner en raak meer geneig tot plooie. 

Estetiese behandelings wat kan help met vel wat hang 

Dr. Kannenberg beveel aan

1. ‘Micro-needling’ 

Microneedling is die een prosedure wat vir die meeste mense ’n moontlikheid kan wees – die koste is nie uitspattig duur nie. Maak egter seker om na ’n gekwalifiseerde terapeut te gaan vir die behandeling en maak seker dat die ‘device’ wat gebruik word van ‘n goeie kwaliteit is – daar is baie goedkoop namaaksels op die mark wat groot skade kan aanrig. Die wonderlike ding van hierdie prosedure is dat dit nie net die dieper lae van die vel aanspreek nie, maar ook die oppervlakkige lae – dus ’n alomvattende behandeling. 

2. Morpheus8 

Hierdie is die nuwe behandeling wat ’n kombinasie van ‘microneedling’ en radiofrekwensie is. Dit is wonderlik vir vel wat hang. ’n Mens kry natuurlik die beste resultate as ’n mens die probleem aanspreek voor die skade te erg is. Hierdie is ’n goeie prosedure om reeds in jou veertigs te begin oorweeg. 

3. Ligte vuller

Die ander prosedure wat wonderlik is op langtermyn is om ’n baie ligte vuller wat in die oppervlakkige lagies van die vel gespuit word, elke paar maande te doen – die beste is om dit elke ses maande te doen. Dit gee lekker hidrasie aan die vel en stimuleer pragtige kollageen- en elastiese weefselproduksie. 

“Moenie te lank wag met estetiese behandelings nie. Hoe vroeër ’n mens begin, hoe goedkoper gaan dit in die langtermyn uitwerk.

Dit klink vreemd om te hoor, maar om ’n baie slegte vel te probeer regruk is baie duurder as om klein proseduretjies gereeld te doen. Behou eerder wat jy het.”

Dr. Suretha Kannenberg.

4. BTL Emface

Stylvol het onlangs die BTL Emface behandeling by Body & Skin Clinic, Kaapstad (en ook in Johannesburg) begin toets. Dit soos ’n gimsessie vir jou gesig. Radiofrekwensie word gebruik wat kollageenproduksie en bloedtoevoer stimuleer.  Spesiale ‘plakkers’ (op jou wange en voorkop) word opgeplak wat aan die BTL masjien gekoppel is en HiFes energie word gebruik om jou spiere saam te trek. Dit help met lig en vel wat hang. 

Kyk gerus hoe Suzanne die behandeling getoets het hier.  

Leefstylkeuses wat kan help met teenveroudering en dat jou vel hang

Zoya se raad is:

“’n  Gesonde leefstyl hou vele voordele in, en een daarvan is ’n blakende gesonde vel om na uit te sien.  Menigte raad is beskikbaar, maar ’n paar basiese riglyne sal reeds help om na ‘n gebalanseerde leefstyl toe te beweeg:

  • Sonblootstelling in oormaat is nie gesond vir ons velle nie, ons weet dit.  Maar die son speel tog ’n rol in hoe gesond ons is en kan wees.  Matige sonblootstelling is wel nodig; 10 – 15 minute per dag oor die middag op ’n skoon vel om vitamien D te kan vorm (via die vel). Vitamien D speel  ’n integrale rol in menige funksies van die liggaam en immuunstelsel.  Dit is ook  ’n belangrike rolspeler in die gesondheid van ons vel se mikrobioom
  • Kleurvolle borde kos, met ekstra groen (die kalsium, magnesium en sink is kardinaal vir sellulêre gesondheid en kommunikasie)
  • Genoeg water om jou dors te les
  • Beweeg gereeld om natuurlike limfdreinering aan te moedig
  • Vitamien C is noodsaaklik om kollageen te produseer (dis wateroplosbaar, dus word dit nie gestoor soos vitamien D en A en E nie, neem daagliks in)
  • Genoeg slaap 

Taryn Wilkinson, nasionale opleier vir Gatineau beveel ook aan

  • “Onthou ook jou velsorgroetine saans is baie belangrik. Saans is jou vel op sy mees aktiefste en heel homself. Om jou vel saans te ondersteun met goeie bestanddele help jou vel hiermee.” 
  • Dra daagliks sonskerm, nie net om jou vel teen die son en blou lig afkomstig van die son te beskerm nie, maar ook blou lig wat deur LED ligte en skerms uitgestraal word. 
  • Verminder besoedeling deur op te hou rook, natuurlike lugverfrissers soos essensiële olies te gebruik (in plaas van spuitbotteltjies) en hou plante wat stuurstof produseer (soos spekbome of spinnekopplante) in jou huis. 

Die aanwending van jou velsorgprodukte

Taryn beveel die volgende aan

  • Neem jou tyd wanneer jy jou gesig reinig of af te skilfer om jou vel te manipuleer (deur sirkelbewegings te maak) om bloedlvloei te stimuleer. Dit help dat meer suurstof en voedingstowwe na jou vel gestuur word, wat ook kollageenproduksie stimuleer.
  • Tik jou oogroom liggies aan van die middel van jou oogarea, na die buitekant en uitwaarts. 
  • As jy serum aanwend gebruik ’n strelende beweging vanaf die middel van jou gesig uitwaarts. 

Masseertegnieke wat help met vel wat hang 

“Massering is ’n effektiewe manier om die vel en die funksies daarvan te stimuleer.  Stimulering hou voordele in vir die vel en die onderliggende strukture.  Stimulering, hetsy met die hande of met ’n voorwerp (tool) of masjien, hou voordele in vir die bloedsirkulasie, limfdreinering, senuwee-kommunikasie, spiertonus en die gemoed.” Zoya.

Taryn Wilkinson, nasionale opleier vir Gatineau beveel aan

  • As jy ’n masker (soos Gatineua Defi-lift Mask) aanwend, gebruik jou kneukels om jou vel in sirkelbewegings te masseer. Gebruik ook jou kneukels om strelende, uitwaartse vee-bewegings te maak, van die middel van jou gesig uitwaarts. Knyp ook jou vel liggies, ook van die middel uitwaarts. 
  • Gebruik ’n voorwerp soos ’n ‘Jade roller’ of Gua sha (of selfs gewone teelepels as jy nie rollers of stene het nie). Sit dit in yskoue water voor jy dit gebruik vir ’n ‘cryo’ effek; dit help met bloedsirkulasie en om jou gesig saam te trek

Oefening vir jou gesig

Taryn beveel aan

  • Strek jou nek (deur te lank te maak en saam te trek)
  • Strek jou lippe deur te styf te trek van links na regs 
  • Masseer jou nek met jou kneukels, van onder na bo. Met die ouderdom word ons nekspiere swakker en swaartekrag trek ons gesigspiere af en massering help om dit te voorkom. 

Produkte vir vel wat hang

Gatineau Defi Lift Marine Firming Mask (R925, Orleans Cosmetics ) bevat ‘n mengsel van aktiewe bestanddele en klei om te help met verferming en lig.
Diego Dalla Palma FilLift Double Lift Serum (R2075, Orleans Cosmetics en uitgesoekte salonne). Aand
die een kant is ‘n dagserum wat jou vel glad maak en opplomp en aan die anderkant nagserum wat jou vel opplomp en herstel.
Neostrata Firming Tri-Therapy Lifting Serum (R1275, Dermastore en uitgesoekte dermatoloë en medi-spa’s) Begin hierdie serum sommer vroegtydig gebruik! Dit help met volume en oneweredig tekstuur.)
Endocare Expert Drop Firming Serum en Soft Peel Serum (R750, Dermastore). Die Firming Serum is vir soggens en help met verferming en lig, terwyl die Soft Peel serum vir aandgebruik is. Dit bevat onder andere Retinol.
Nuxe Merveillance Lift Firming Powdery Cream (R750 vir 50ml)
Die room voel effens poeierig soos dit ingesmeer word en dit help om ’n natuurlik ‘blur’
gevoel te skep, wat plooie ook minder sigbaar laat lyk. Vir normale tot kombinasievel.
Nivea Cellular Advance Anti-Age Day Cream (R385, Clicks) help om jou gesigkontoere te definieer, diep plooie te verminder en velstruktuur te verbeter.
Filorga Global-Repair Multi-revitalising nutrive balm se ryk, maar nie olierige room bevat seramiedes wat hidreer, Omega 3,6 en 9 wat die sperfunksie herstel, hialurooonsuur wat help met hidrasie en plooie en peptiedes wat hlep met kollageenvorming en glans. Veldigtheid, kontoere en vel wat hang word ook geteiken.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Dit hoort in jou elkedag-oral-saamgaan grimeersakkie
error: Content is protected !!