Voormalige Protea netbalspeler en TV-aanbieder Vanes-Mari du Toit deel 9 lewenslesse met ons wat sport jou kind kan leer. Ouers met kinders wat aan sport deelneem, lees gerus hier. Sy deel ook raad (en wat om nie te doen nie) met sport-ouers. Deur Suzanne Kotzé. Foto’s Kristina Stojiljkovic
13/05/2023
Vanes-Mari du Toit deel met ons 9 lewenslesse wat sport jou kind kan leer
Vanes-Mari du Toit was jare lank ’n Springbok netbalspeler en was ook betrokke in afrigting. Al is sy deesdae meer bekend as TV-aanbieder, het sport haar ’n hele klompie lewenslesse geleer wat sy steeds in haar alledaagse lewe toepas.
1. Om agting vir jou spanmaats te hê
Almal in jou span is daar om saam aan iets groter as hulself te werk. As ons saam wen moet ons ook saam kan verloor. Dit is altyd lekker om ’n saam wen te vier, maar as mens saam verloor kan sommige mense in hulle eie koppe ingaan. Hulle voel dalk hulle het iets bygedra tot die verloor: Nie genoeg onderskep nie, of nie die doel ingeskiet nie.
Dit is belangrik om te leer dat saam wen lekker is, maar ons moet saam kan verloor ook, en dit beteken dat dit nie één persoon se skuld is nie.
2. Om jou beste te kan wees vir jou span.
Daar is ’n sêding in sport dat ’n span so goed is soos sy slegste speler. Die onus rus op jou om goed voor te berei en reg te wees sodat jy nie jou span in die steek laat nie.
3. Verloor is onvermydelik en dit leer veerkragtigheid
Dit is deel van sport. Daar is niemand wat al deelgeneem het aan sport en nog nooit verloor het nie. Dit gaan oor hoe jy die verloor hanteer, en dit kom terug na veerkragtigheid. Om die goed en sleg in die verloor te kan sien. Vat die verloor en leer hoe jy kan verbeter, watter foute het jy gemaak het en wat om nie weer te doen nie. Hierdie is wat sport vir my beteken.

“Van die grootste lesse wat sport my geleer het, is om veerkragtig te wees. Om altyd jou kop op te lig, want daar is altyd nog ’n volgende wedstryd en om altyd te streef na hoër hoogtes.”
4. Dit leer jou om voor te berei vir alle fassette van jou lewe
Ek het al agtergekom dat mense wat sport beoefen baie veelsydig is. Sport is een faset van jou lewe, en dit wat jy in sport toepas, om hard te werk en te probeer wen, word ook toegepas in ander fasette van jou lewe.
Met sport is die voorbereiding vir wedstryde baie meer as wat die ‘wen’-oomblikke is. Jy sit baie meer ure in om te oefen as wat die wen-oomblikke is. Sport het my geleer om hard te werk en voor te berei vir daardie wen-oomblikke van alle fasette van my lewe, by die werk, met my familie, in my geloof.
5. Hoe om ’n balans te handhaaf in die lewe
Daar is baie dissipline en balans wat in jou daaglikse lewe toegepas moet word. Sport het my (en baie ander) geleer om kompeterend te wees en te wil wen, maar om ’n balans te handhaaf tussen die twee.
Om nie ekstreme teleurstelling te beleef as jy verloor nie, of ekstreme blydskap te ervaar as jy wen nie (Laasgenoemde kan jou vinnig cockey maak). Om te weet dat, al is sport baie fisies, jy ook situasies op ’n emosionele en intellektuele wyse moet kan hanteer en dat daar ’n balans moet wees.
6. Hoe om kritiek te hanteer
In sport probeer ’n mens altyd die beste wees. Daar gaan altyd kritiek wees van jou afrigters en ook selfkritiek, as jy nie tevrede is met jouself nie. ’n Mens leer hoe om hierdie kritiek te filter tussen opbouende kritiek of afbrekende kritiek.
Dit is goed om te onthou dat kritiek tydelik is, maar hoe jy dit hanteer en toepas jou kan laat groei vorentoe.
7. Eer jou talent

Die lekker ding van spansport is dat jy deel is van ’n eenheid en julle werk saam tot iets groter as jyself. Dit is belangrik om altyd eer te gee aan jou talent.
Die talent wat jy kry is soos ’n geskenk van God, en as jy sport beoefen is dit ’n manier om vir God dankie te sê vir jou talent. As jy dit onthou, maak dinge wat jy nie kan beheer nie, meer saak nie. Wat jy kan beheer is om jou talent ten toon te stel en die beste moontlik te probeer wees, dissipline te hê, en te oefen en die regte houding te hê. Dit alles kan jy beheer. So benut jou talent ten volle.
8. Om jou rol in die span te speel
Of jy nou in ’n sportspan is of in ’n korporatiewe omgewing is waar jy as ’n span moet saamwerk, is daar verskillende rolspelers in ’n span. Jy kry ’n leier, ’n ‘time-keeper’ (iemand wat almal altyd op tyd hou), die motiveerder en een wat almal opbeur, die grapjas, die introvert, ekstroverte ens. ’n Span is soos ’n lucky packet of ’n smartiebox van verskillende kleure en geure. As jy kan saamtrek en saamwerk na iets groters toe, het elke persoon en dit wat hulle bydra ’n beter en groter effek op die span as geheel.
En onthou, net omdat iemand nie soos jy is nie, beteken dit nie jy moet hulle afbreek nie of nie verstaan nie. Dit is juis die prag van ’n span, verskillende mense met verskillende talente en stories. As elke persoon besef dat waar jy ookal gaan in jou lewe, het elke mens ’n doel en hulle eie stories en waardes. Respekteer dit van jou spanmaats of mense in jou omgewing, en julle sal beter saamwerk en mekaar kan opbou in plaas van afbreek.
9. Omskep jou frustrasie en teleurstelling in produktiwiteit
Beserings en terugslae is onvoorkombaar. In plaas daarvan om in ’n swart gat van selfbetwyfeling, depressie en kwaadwees vir jouself te verval. Soms gebeur goed met ’n rede en soms is goed buite jou beheer en daar is ’n les hierin.
Ouer-ondersteuning en sport
In haar dae as afrigter het Vanes-Mari natuurlik ook baie met ouers te doen gekry en ons het haar gevra watter raad sy aan ouers het wat hulle kinders in sport wil ondersteun. Ons is self dikwels verbaas oor die gedrag wat mens van grootmense en ouers langs kinders se sportvelde sien.
1. Daar is ’n baie fyn lyn tussen ouer-ondersteuning en ouer-dominering.
Jy kry baie ouers wat ‘overly invested’ is in hulle kind se sportloopbaan en ook gewoonlik taamlik emosioneel is oor besluite wat gemaak word. Dan kry jy weer weer ouers wat hulle kinders die geleentheid bied sonder om oorbetrokke te wees. En ook ouers wat baie onbetrokke is.
My raad sal wees om ’n balans te kry, en om jou kind toe te laat om te doen wat hulle moet doen om die beste weergawe van hulself te wees. En nie die weergawe wat jy wil hê hulle moet wees nie. Gee hulle die ruimte om dit te kan doen terwyl jy ’n ondersteunende rol inneem. En weereens net te beheer wat jy kan beheer.
2. Jou afbrekende kritiek het ’n negtiewe effek op jou kind se psige

Om jou kind af te breek nadat jou kind nie gespeel het soos jy verwag het nie is baie erg. Dit het so ’n negatiewe uitwerking jou kind se psige. Nie net kry hulle dit van die afrigter af nie, maar nou hoor hulle dit ook by hulle ouers. Hoe moet ’n kind positief bly as hulle dit van alle kante af kry as hulle dalk nie ’n goeie dag op die veld gehad het nie?
Dit is belangrik dat ouers in ag neem dat daar reeds soveel goed is waarmee groeie kinders op skool moet deal. Daar is hormone, akademiese druk, verskillende sosiale groepe, body awareness. Kinders groei en moet aan hulle nuwe liggame gewoond raak.
3. Wees die stuurman van jou kind se skip
Besef jou kind het ’n talent, en in plaas daarvan om jou kind te wil beheer, help hom/haar/hulle eerder om op die regte pad te bly. Doen dit deur hulle te ondersteun en hulle nie noodwendig te wil trek na waar jy hulle wil hê nie.
4. Gun jou kind sy/haar kans on hulle eie lesse te leer
As jy jou kind nie ‘smother’ nie, gee jy hulle die geleentheid om hulle eie lesse te leer. Hê eerder ’n oop gesprek met jou kind oor hulle sport, hoe hulle voel en hoe jy kan help en ondersteun.
5. Moenie daai ouer wees wat altyd ’n groot bohaai opskop nie
Baie ouers voel dalk, hulle betaal baie geld, of hulle verwag sekere resultate, maar kinders is nie robotte of masjiene nie. Daar is soveel meer elemente aan dit.
Jy kry daardie ekstreme ouers wat altyd ’n bohaai opskop en op die einde van die dag net ’n verleentheid is. Ek was al by baie skole, en glo my jy kry hierdie ouers oral.
’n Afrigter is ook daar om hulle talent as afrigter uit te leef, en hulle leer ook soos hulle aangaan. Neem ook eerder ’n ondersteunende rol in met die afrigter, eerder as wat jy hulle afbreek en afkraak. Net so met ’n skeidsregter. Gun almal die rol wat hulle moet speel.
6. Moenie jou kind gebruik om jou verlore drome te bewaarheid nie
Sommige ouers was dalk nie baie goed met sport nie, of het nooit hulle eie drome bewaarheid nie, en gebruik hulle kind om hierdie drome uit te leef. Dit gebeur baie.
Enige kind wil sy ouer tevrede stel en nie teleurstel nie. Daar is nie kinders wat ek ken, wat daarop uit is om hulle ouers teleur te stel nie. Inteendeel, kinders doen deurgaans net goed om hulle ouers tevrede te stel.
My advies vir ouers sal wees om na jou kind te kyk en jouself die vraag af te vra en ook ’n oop gesprek met jou kind te hê, oor wat jou kind wil hê, en waarvan hulle hou en hulle gelukkig maak. Onthou, as jou kind geniet wat hy/sy doen is dit die grootste prys, groter as enige trofee of medalje.

Vanes-Mari du Toit is die aanbieder van die splinternuwe netbalprogram Yay! It’s #NetballFriday elke Vrydag 18.30 op Supersport. “Ek is super-opgewonde oor die program, waarvan ek ook mede-vervaardiger is. Ons gesels met voormalige netbalspelers en vriende van netbal terwyl ons die dae aftel tot die wêreldbeker wat op 28 Julie in Kaapstad begin.”