kollageen
kollageen

Kollageen: fantasties of ’n foefie?

Dis nie nuus dat ons liggaam se vermoë om kollageen te vervaardig verminder soos ons ouer word nie. Ongelukkig breek ons liggame ook kollageen vinniger af soos die jare aanstap. Dis dus ook nie nuus dat die kollageen-aanvulling-bedryf baie winsgewind is nie. Dié proteïen, wat die basiese struktuur van ons bindweefsel vorm en bykans 80% van ons vel verteenwoordig, word in poeiers en stropies verkoop, en dit vlieg soos soetkoek van die rakke af met beloftes van verjonging en pynlose gewrigte Maar is dit regtig al die aandag werd? Deur Liezel Engelbrecht, geregistreerde dieetkundige

Vier goed om in ag te neem voor jy kollageenaanvullings gebruik

1 Die polisiëring van regulasies vir die aanvullingsmark in Suid-Afrika nie word nie goed toegepas nie.

Alle aanvullings gaan nie noodwendig deur dieselfde streng toetse om te kyk vir moontlike allergene of skadelike metale nie. Omdat kollageen afkomstig is van diereprodukte is dit belangrik om bewus te wees van moontlike allergene (soos vis, eiers en melkproteïen). Wees dus seker jy koop van ’n betroubare verskaffer as jy daarin sou belangstel. Doen navorsing oor die handelsmerk of kontak hulle om uit te vind of hulle die nodige bewyse kan toon dat die produk getoets is.

2 Dit is nie ‘n wondermiddel nie.

Kollageen kom slegs in dierebronne voor (meestal vanaf bene, bindweefsels soos ligamente, spiere, senings, en vel). Die teorie agter kollageenaanvullings is dat dieet-aanvullings sal help om die kollageen wat afgebreek word soos ons ouer word, vervang kan word en ons jeugdige voorkoms kan behou of herstel. Dit is egter nie nie moontlik om te voorspel waar die kollageen gebruik gaan word nie.

Wanneer die aanvullings in die spysverteringsproses afgebreek word tot in sy eenvoudigste vorm, aminosure, word dit deel van die totale aminosuurvoorraad tot ons liggaam se beskikking. Omdat aminosure die boublokke van alle selle is, sal dié aminosure dan gebruik word waarookal dit nodig is in die liggaam, of dit nou vir wondgenesing, spierbou, dermwandbeskerming, gewrigsgenesing of ander sellulêre funksies is. Enige proteïenbevattende kosbron, selfs die van plante afkomstig, kan dus potensieel afgebreek word en omgeskakel word om kollageenproduksie in die liggaam te ondersteun.

3 Wat is jou beginpunt?

Dit is moontlik dat mense wat meer voordele sien diegene is wat voorheen ’n tekort aan totale proteïen in hulle dieet gehad het. Dit sal dan sin maak dat jou vel, hare of naels in ’n beter toestand is as jy nou genoegsame totale proteïen inneem om jou liggaam se normale funksies optimaal te ondersteun.

4 Wat is jou doel?

Hoewel baie produkte hulself bemark as voordelig vir dermgesondheid, naelgesondheid en haargroei is daar nie sterk navorsing om dit te ondersteun nie. Hoewel ’n meta-analise van 19 studies daarop gedui het dat kollageenaanvullings wel voordele vir die vogtigheid en elastistiteit van jou vel kan inhou as dit vir sowat drie maande gebruik word, was die studies se metodes uiteenlopend en die groep deelnemers vesprei oor ’n groot ouderdomsgroep (20 tot 70), wat dit moeilik maak om dosering en die werklike waarde daarvan vir die individue vas te stel.

Die sterkste navorsing ten gunste van kollageenaanvulings is die wat dui op verligting van gewrigspyn en verbeterde gewrigsfunksionaliteit, onder meer in pasiënte met osteoartritis.

Volgens SAHPRA (die Suid Afrikaanse Gesondheidsproduk Regulerings Gesag[LE1] ) is die enigste gesondheidsbewering wat ‘n kollageenproduk kan maak juis dít: dat dit kan “help met gewrigs-  en spierinflammasie”, met ‘n reikwydte dosis van 1,2 – 10g gehidroliseerde kollageen per dag, oor ‘n tydperk van 5 maande, en in konsultasie met gesondheidspraktisyn.


Drie dinge om te oorweeg voor jy dit koop

1 Hoe lyk jou dieet tans?

Onthou, aanvullings kan nie opmaak vir ’n minder goeie dieet nie. Die doel van aanvullings is óf om ‘n tekort aan te spreek (wat as gevolg van siekte, aborpsieprobleme of sub-optimale inname kan wees), óf omdat jy verhoogde behoeftes het (wat ook as gevolg van siekte kan wees, of omdat jy hard oefen). 

Kan jy dalk eerder die geld wat jy op kollageen spandeer aanwend tot ’n gebalanseerde dieet met genoegsame vleis- of plantproteïen?

Onthou ook dat vitamien C en sink beide ook belangrike voedingstowwe is vir kollageenproduksie, so maak seker jy kry genoeg van die tipe kos wat dit bevat. Kos ryk in vitamien C sluit in sitrus, tamaties, aarbeie, groen groente en soetrissies. Volgraanprodukte, lensies, bone, suiwel en skulpvis is goeie sinkbronne.

2 Is dit gehidrolseerd, en watter tipe is dit?

Indien jy dit wil beproef, wees bewus dat kollageen lang, stywe proteïene is wat bestaan uit drie aminosure wat vervleg is met mekaar. Dit moet gehidroliseer wees (wat beteken die lang, vervlegde aminosuurtoue moet afgebreek word in kleiner dele, wat dan kollageen-peptiedes genoem word) sodat dit beskikbaar is vir jou liggaam om te absorbeer. Hoewel dit nie noodwendig aangedui sal wees op die etiket nie, maak SAHPRA ook slegs melding van Tipe I en Tipe II kollageenprodukte, en nie van Tipe III wat ook in die vel voorkom en deur sommige handelsmerke bemark word nie.

3 Wie bemark dit?

Daar is groot geld te maak in die kollageenbedryf. Baie mense wat die produk bemark, dit voorskryf of aanbeveel, het dikwels finansiële baat daarby. Dit is ongelukkig moeilik om objektief na die feite en resultate te kyk as jy daarvoor betaal word, en dit baie graag deur ’n postiewe lens wil beskou.

Maar of jy nou inkoop op die idee van kollageenaanvullings of nie, ongekontamineerde bronne is veilig vir gebruik in die meeste gesonde mense, hoewel vroue wat swanger is dikwels aangeraai word om dit eerder te vermy. Dis dalk ’n goeie idee om ’n eerlike dagboek te hou van enige veranderinge (indien enige) wat jy opmerk as jy dit gebruik. Dus, as jou dieet, oefening en die res van jou velsorg, selfsorg en oefeningroetine dieselfde bly, en jy voeg slegs die een nuwe aanvulling by, kom jy ’n verskil agter? Dit kan jou dalk net baat om ’n bietjie skepties te wees.

Ander dinge wat kan inmeng met kollageenproduksie

Jy kan aanvullings gebruik tot jy blou is, maar ’n hoë suikerinname, rook, oormatige alkoholgebruik, swak slaappatrone, UV strale en spanning gaan jou verouderingsproses versnel. Sonbeskerming, ’n gesonde dieet, goeie slaap, matige alkoholinname en oefening vir stresverligting kan dalk net die voorskrif wees wat jy nodig het!


Liezel Engelbrecht
  • Liezel Engelbrecht is ’n geregistreerde dieetkundige van Kaapstad.
  • Besoek www.adsa.org.za vir ’n dieetkundige in jou area.
  • Vrywaring: Hierdie hulpbron is slegs vir opvoedkundige doeleindes en kan nie ’n individuele assessering of behandeling deur jou dokter of dieetkundige vervang nie

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
gewig
7 Dinge wat jou gewig beïnvloed – en die tipe gewig wat jy wil behou!
error: Content is protected !!