Van moderedakteur tot voorkomskonsultant; Belangrike stylwenke waarvan elke vrou moet weet

Susra Matthee, voormalige moderedakteur by rooi rose en nou persoonlike voorkomskonsultant, deel die ses belangrikste stylwenke wat sy deur die jare geleer het. Deur Susra Matthee

Belangrikste stylwenke wat ek geleer het:

1. Kleur is belangrik

Om die regte kleure te dra wat by jou kleurskakering pas is belangriker as die nuutste trends. As jy naby ouderdom 40 kom, is dit nóg belangriker om die regte kleure en skakerings te dra, veral naby jou gesig. As jy jonger is moet jy waag en alle kleure dra!

2. Stapel-items ’n moet

Begin bou aan ’n basiese klerekas. Die items en patrone wat nooit uit die mode gaan nie (soos luiperddruk en wit tekkies). Dit gaan jou nog jare lank dien. Koop eerder minder en fokus op gehalte. Ten minste 80% van jou klerekas moet uit die basiese tydlose items bestaan. Die res van jou kopies kan mode trends wees.

3. Gee trends ’n kans

Dit bygesê – Moet nie dink dat jy nie trends kan volg omdat jy ouer is nie, dit laat jou juis jonger lyk. ’n Paar trekkerbandstewels of ’n boho skouersak is dalk al wat jy nodig het om jonk en funky te lyk.

Moenie ’n trend oordeel voor jy dit probeer het nie.

Van die style wat ek aan die begin die vreemdste geag het, het van my gunstelingstyle geraak. Probeer nuwe style, maar moet nie elke liewe trend probeer najaag nie. Selfs die mees stylvolle mense volg nie trends slaafs nie. Dra eerder iets unieks of tydloos. Indien jy wel ’n trend wil probeer, moenie te lank wag nie, jy wil nie op die wa spring wanneer almal al aanbeweeg het na die volgende een nie.

4. Gebruik stylkenners as inspirasie

Vind iemand wie se styl jy bewonder is een van my gunsteling stylwenke. Verkieslik iemand wie se styl by jou persoonlikheid en leefstyl pas. Hou ook net in gedagte dat nie al die kleure en style wat hulle dra noodwendig by jou gaan pas nie. Jy moet die styl jou eie maak. Mense wie se style ek bewonder:

@oliviapalermo. Ek is mal oor haar kleur-en stylkombinasies. Sy kan moeiteloos interessante items bymekaar sit sodat dit nog steeds klassiek en elegant lyk.

@fashion_jackson. Sy het die capsule wardrobe bemeester. Haar styl is klassiek en tydloos.

@jennamcarthur. Jenna het ’n manier om die groot trends te identifiseer, terwyl die res van ons nog daaroor wonder. Sy weet ook net hoe om dit bymekaar te sit.

@natalieborton. Haar styl is wearable en steeds fashionable. En sal by die meeste mense aanklank vind.

@jennalyonsnyc. Haar styl is interressant, stylvol en vir enige ouderdom.

5. Hou vas aan jou klere

Moet nie te vinnig van jou meestersktukke of vintage stukke ontslae raak nie,

mode het ’n manier om ’n vol sirkel te maak.

En buitendien, as dit iets sentimenteels of fantasties is, dra dit! Al is dit nie in die mode nie. Aan die ander kant, as dit iets is wat jy nooit dra nie, nie van hou nie en nie by jou pas nie – laat dit gaan!

6. Balans is belangrik

Daar is werklik verskillende liggaamstipes en klere-items wat beter by verskillende lyfvorme pas. Maar probeer fokus op jou sterk punte! Moet nie dink, as ek maar net maerder was nie.

Balans is belangriker as gewig. As jy jou skouers kan uitbalanseer met jou heupe sal jy maerder lyk. Dit het my tyd gevat om te besef, dis nie my heupe wat te breed is nie, dis my skouers wat te smal is! En daar is maniere hoe jy dit kan uitbalanseer.

Meer oor Susra

Ek het op ’n plaas buite Napier groot geword en ek wou graag regte swot en mode was glad nie iets waaraan ek tyd of aandag spandeer het nie. Maar God het ander planne gehad, die regte deure het op die regte tyd oop of toe gegaan. Ek dink Hy het my voorberei vir wat ek nou doen. Van die tyd toe ek baie klein saam met my ouma naaldwerk gedoen het totdat ek by rooi rose beland het.

Na matriek het ek my drome vir regte, vir ’n onverklaarbare rede, verruil vir Clothing Management by die Kaapse Technikon. Na drie jaar, en aan die einde van my kursus, kon ’n vriendin gelukkig vir my ’n onderhoud vir ’n internskap by ELLE reël. Dit is waar my modereis begin het.

Daar is mense in my lewe wat my ’n kans gegee het, toe ek self nie eens sou nie! Jackie Burger was een van hulle, terwyl sy redakteur van ELLE was en my aangestel het as mode-intern. Ek het vir ’n jaar aan-en-af saam met haar en Jenna Barenblatt gewerk terwyl ek geswot het. Amaria Carstens, Sarie se moderedakteur, het ook af en toe vir Jackie uitgehelp en sy het weer vir Giselle Hön, voormalige rooi rose moderedakteur, van my vertel. So is ek aangestel by rooi rose as mode-assistent.

My rooi rose jare

Na vier jaar het Martie Pansegrouw, voormalige rooi rose redakteur vir my ’n kans gegee en aangestel as moderedakteur in Giselle se plek. Dis waarin ek myself die volgende tien jaar uitgeleef het. As ek terugkyk kan ek nie glo alles het so uitgewerk nie, en elkeen van hulle het ’n groot impak op my lewe gehad en was ’n groot mentor. Maar ek weet dit was nie blote geluk nie, eerder divine intervention.

My voorkomskonsultant reis;

Toe rooi rose verlede jaar tydens die eerste Covid 19 vlaag toemaak, het ek besef ek kan nie die gedagtes in my kop afskakel nie. Ek het besluit om ’n aanlyn Image Consultant en Personal shopping kursus deur ELLE Education te doen. Ek het eers gedink ek gaan dit net vir myself doen. Eers toe ek my uitslae in Januarie kry en ek volpunte vir die praktiese opdrag kry en 99% geheelpunt (iets wat ek in die Laerskool laas beleef het!) en my TUTOR se woorde “your assignment was near perfect, you have mastered the course” het my laat dink. Kom ek probeer dit, wat het ek om te verloor, en nou is ek absoluut mal daaroor!

 Die rooi rose ervaring was ongelooflik en ’n reuse voorreg. Ek sal nooit die shoots in Mauritius en Zambië vergeet nie,en die press trips na Spanje en Swede saam met Zara en H&M of die Louis Vuitton press trip na Parys en Venesië met eersteklas vlugte, 5 ster-hotelle op die Champs Élysées en die Grand Canal. Ek sal vir altyd die avonture en herinneringe koester.

My hart is steeds seer dat die tydskrif toegemaak het. Dit was ’n rouproses wat ons hele redaksie moes deurmaak, toe die tydskrif toemaak. Dit sal altyd ’n deel van ons wees. Ons was ’n gedugte span en ondersteun mekaar steeds in ons nuwe ventures. Maar ek weet, ek is waar ek nou moet wees in hierdie seisoen van my lewe.

Ek dink juis die feit dat mode nog altyd nie die heel belangrikste vir my was nie, tel in my guns. Ek kan die goud in die persoon raaksien en weet die mens is belangriker as die klere.

Ons is so geneig om te fokus op ons swak punte en dit wat ons nie het nie. Vir my is die heel belangrikste (voor kleur, lyfvorm en styl) dat iemand wat van my af weggaan weer besef hulle is mooi, uniek en perfek gemaak.

Elke konsultasie voel vir my soos om met ’n vriendin te gesels. Dit is deel van die lekkerte vir my, ek is mal oor mense!

Volg vir Susra hier op Instagram of beskoek haar webtuiste om ‘n konsultasie te boek.

Lees ook: Sorg so vir jou leer-items

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Die knooptrui; veelsydig vir elke seisoen
error: Content is protected !!