Kyk jy mooi na jou duursame leer-items? Ons is self daaraan skuldig dat ons nie altyd ons leerprodukte goed versorg nie. Ons het by ’n paar kenners in die leerindustrie raad en sorgwenke vir ons leer-items aangevra, en ons glo jy gaan hierdie handige wenke nie wil vergeet nie! Deur Justine Kroes
Hoe maak ek my leer-items skoon?
Kenners by Eden and CO wat luukse leerprodukte vervaardig se raad:
- Vee een keer per maand skoon met ’n skoon katoenlappie om enige stof en vuilheid te verwyder.
- Behandel die leer elke twee of drie maande met ’n leerbehandeling (leather food).
- Wees versigtig om nie te veel van die leerbehandeling aan te wend nie, dit kan jou leer taai maak en afgee op jou klere.
- Nadat jy die leerbehandeling aangewend het, kan jou leerproduk gepoets word met ’n skoon, sagte katoenlappie om enige oorblywende produk te verwyder.
Die leerkenners by Missibaba se raad: “’n Leer-item wat goed versorg word, kan jou jare lank hou. Dit is wel belangrik om te weet watter vir tipe leer jy sorg, en as jy nie weet nie vra ’n professionele kenner – hier is ’n paar riglyne oor hoe om leer uit te ken;
- Geseëlde leer (sealed leather) Leer wat effens blink met ’n glansende oppervlak – nie mat nie. Gebruik byewas om die leer te behandel.
- Sweedsleer en Nubuck leer; het ’n sagte, amper fluweelagtige tekstuur. Die tipe leer is porieus en word makliker vuil as ander leertipes. Dit blink ook maklik na jare se gebruik. Gebruik ’n spesiale sweedsleer borseltjie om vuilheid af te borsel en gebruik ’n beskermende sproei elke 3 na 6 maande.
- Veg Tan-leer: leer met ’n mat oppervlak wat gekleur is maar nie geseël is nie. Hierdie tipe leer is baie porieus en sal maklik enige olie of water absorbeer. Jy kan byewas poleerder (beeswax polish) gebruik om hierdie tipe leer te behandel asook jaarliks ’n beskermende sproei.
Vir leerskoene:
- Eden and Co se wenke: “As die binnesole van die skoen van sweedsleer gemaak is, gebruik ’n spesiale sweedsleer borseltjie (suede brush) en borsel die leer in een rigting om vuilheid te verwyder. Wend daarna ’n sweedsleer- of Nubuck-behandeling aan met ’n sagte katoen lap in klein sirkel bewegings.
- Vir leerskoene; vee skoon met ’n sagte katoenlap en wend ’n leerbehandeling aan soos nodig. Eden and Co gebruik PLUSH Hide Food op al hul leerprodukte.
My leerhandsak het waterskade of ’n vlek, wat nou?
Kenners by Eden and CO se raad;
- Verwyder eerstens soveel vog as moontlik met ’n droë katoenlappie. Vir vlekke – gebruik ’n skoon katoenlappie of sneesdoekie en druk-druk saggies op die gevlekte area om nattigheid te absorbeer.
- Moet glad nie water en skoonmaakmiddels aan die vlek aanwend nie, dit sal dit net vererger.
- Moet glad nie “wipes” of asyn of enige ander chemikalieë gebruik nie, dit kan die leer beskadig en selfs die kleur van die leer verander.
- Pak skoon wit papier binne in die sak en los oornag teen kamertemperatuur om droog te word, dit sal ook help dat jou sak sy vorm behou.
- Behandel eers met ’n leerbehandeling wanneer jou sak heeltemal droog is.
- Moet nooit met ’n haardroër droogblaas of in die son laat om droog te word nie, dit sal jou leer beskadig.
14 Handige leersorgwenke
- Om die lewensduur van jou leer-items te verleng – maak gereeld jou leer skoon en wend leer-behandeling elke twee tot drie maande aan.
- Probeer om jou leer-item weg te hou van hitte en enige chemikalieë wat dit mag beskadig.
- Indien moontlik, probeer om enige waterskade te vermy. Hou byvoorbeeld jou handsak op jou skouer, stoel of skoot en hang dit op aan daardie hakie agter die badkamerdeur.
- Beskerm jou leer-item vooraf met ’n beskermende sproei, dit dien as ’n lagie ter beskerming en dit kan water en ander skade moontlik voorkom.
- Besoek dalk ’n leerkenner soos Woodheads, of ’n droogskoonmaker wat in leer spesialiseer vir die behandeling van duurder en groter leer-items. Of selfs net as jy skrikkerig is om jou leer-item self skoon te maak.
- Voor jy met die skoonmaakproses begin, toets eers ’n klein stukkie leer (op ’n onsigbare gedeelte soos die binnekant) om te sien hoe die leer reageer.
- Wees versigtig vir oop penne, parfuum en grimering los in jou handsak gooi – hou eerder grimering en penne in ’n aparte waterdigte sakkie vir ingeval iets dalk lek. Ink, grimering en parfuum is van die moelikste vlekke om skoon te kry.
- Kenners by Missibaba bevel aan, as jy in ’n droë klimaat woon, om jou handsak met ’n byewas poetsmiddel/poleerder te versorg (beeswax polish). Dit sal verhoed dat die leer kraak.
- Wees versigtig dat die kleur (veral denim) van jou kledingstukke nie aan jou leer-item afvryf nie.
- Moet nooit jou handsak in direkte sonlig laat nie, die kleur van die leer sal al hoe dowwer raak.
- Druk skoon papier of sneespapier in jou leerhandsak sodat die handsak sy vorm behou.
- Stoor jou leerhandsakke in stofsakke, dit sal beskerm teen stof. As jou handsak nie met ’n stofsak gekom het nie, gebruik sommer ’n ou kussingsloop om jou handsak in te bewaar.
- Moenie jou leer-item in plastieksakke bêre nie, leer is ’n natuurlike vessel en kan muf opdoen.
- Eden and Co se raad “As jou leerhandsak oud en gedaan lyk, behandel gereeld met ’n leer behandeling. As jy kan, belê in goeie kwaliteit, egte leer. Hierdie tipe leer raak net beter en mooier met tyd. Onthou klein merkies en effense kleurverskille is deel van leer se outentieke karakter.”
Lees ook: Ken jy jou baadjies en jasse?