Hierdie is wat Trix Vivier besef het: “As jy ’n aktrise is, moet jy eintlik die onmootlike probeer regkry, van in iemand anders se kop leef (terwyl jy ’n rol vertolk), maar ook daar wees vir jou kind en familie en jouself ook. Sy gesels oor werk-lewe balans en haar rol as Jana in Fraksie. Deur Suzanne Kotzé
21/10/2022
Ons gesels met Trix Vivier via Zoom vanuit Doebai wat deesdae haar tweede huis is. Sy, haar man en seuntjie leef deesdae tussen Doebai, Kaapstad en Amsterdam.

“Ons is al vir so lank gewoond aan so rondbly tussen verskillende stede,” vertel sy. Trix het juis vir die verfilming van Legacy vanaf Kaapstad na Johannesburg getrek. En toe seisoen 1 klaar was (en Trix byna agt maande swanger was), het hulle terug Kaap toe getrek. Drie maande na haar seuntjie se geboorte in Augustus 2021, het Trix weer geheen-en-weer (soms met en soms sonder haar seuntjie) tussen Johannesburg en Kaapstad om seisoen twee te verfilm.
Na die verfilming van seisoen twee het sy besluit om af te skaal en eers ’n breek te neem, want die angstigheid van ten volle te moet fokus op haar rol, die rondreis en wat te min slaap aan jou doen, het sy tol geëis.
En toe verfilm Trix Vivier twee hoofrolle rolle byna terselfdertyd
Na skaars twee maande word Trix toe die hoofrol van Ami Prinsloo in Minder as Niks aangebied, waarvoor sy gevoel het sy net nie nee kon sê nie. Twee weke later word sy gebel en ook die rol van Jana in Fraksie aangebied. En so word Junie gewy aan repetisies en verfilming van Fraksie, Julie aan verfilming aan Minder as Niks en Augustus tot einde September weer aan die verfilming van Fraksie.
“Ek het tersefdertyd aan al hierdie projekte gewerk, maar ook steeds ’n gesinslewe gehad, so ek moes vinnig leer hoe om werk-lewe balans toe te pas.”
10 dinge wat Trix Vivier geleer het oor haar loopbaan en ma-wees balans

1. Jy is in ’n liefdesdriehoek van aktrise-, ma- en jouselfwees
As jy ’n aktrise is, moet jy eintlik die onmootlike probeer regkry, van in iemand anders se kop leef (terwyl jy ’n rol vertolk), maar ook daar wees vir jou kind en familie en jouself ook. En al drie van hierdie verg eintlik jou liefde, aandag en insae. En so gereeld vergeet ’n mens van jouself. En dit is weer problematies vir toneelspel, want as jy van jouself vergeet of jou beker nie volmaak nie, kan jy ook nie vir jou karakter gee wat nodig is nie.
2. Terug-werk-toe-gaan-angs is erg
Mens fokus baie op post-partum depressie maar die geestes-angs (mental anxiety) van teruggaan werk toe as jy nie ondersteun voel by die werk nie is erg. Die meeste vroue word tuis ondersteun, maar as hulle nie ondersteun voel by die werk nie, is daar vreeslik baie angstigheid en onderliggende spanning wat daarmee gepaard gaan.
3. ’n Ondersteunende werksplek is kardinaal
“’n Mens wil nie regtig die woorde forward-thinking gebruik nie, want dit is eintlik hoe dit moet wees by alles werksplekke, maar Tshedza Pictures (die produksie-maatskappy van Legacy) was werklik ondersteunend. Hulle het regtig die werksplek vir my aangepas en dit was wonderlik om te sien hoe dit vir ma’s kan wees.
Die produksie-span van Fraksie het weer aangebied dat ek my baba kan saambring werk toe (wat ek toe nie gedoen het nie). Voordat ek ’n ma geword het, het ek nooit besef hoe onmoontlik dit eintlik vir ma’s is om terug te gaan werk toe as daar nie ’n ondersteuningsraamwerk by die werk is nie. By Fraksie en Legacy was hulle ook baie toegeeflik oor die klere wat ek as Jana moes dra. ’n Vrou se lyf verander na ’n baba en ek het nie kans gesien vir die stywe, korporatiewe snyerspakkies wat Jana moes dra nie. Hulle het die klere toe so aangepas en moeite gedoen dat ek steeds gemaklik voel, terwyl hulle ’n soortgelyke voorkoms skep.
4. Die effek van moegheid en min slaap is alles-oorheersend
Niemand berei jou voor vir effek van min slaap nie. Dit het my nogal gevang. Daar is so min mense wat verstaan hoe min of geen slaap jou beïnvloed nie. Van jou gemoedstoestand tot jou werksvermoë en selfvertroue in jou eie vaardighed. Ek was gelukkig dat ek soms kon sê (tydens Legacy en Fraksie se verfilming): ‘Julle, ek het net twee ure geslaap.’ En almal was so ondersteunend en het selfs aangebied om my scenes te verminder (wat ek natuurlik nooit aanvaar het nie).
5. Die woorde terugbons (bounce back) na die geboorte van ‘n kind moet verban word
Daar is hierdie ekstra druk deur die samelewing om terug te bons. En ek HAAT hierdie term.
As mense dit vir my sê wil ek dit in klein stukkies opbreek en by die toilet afspoel!
Dit maak dat jy wil wys dat ek kan teruggaan, en werk asof niks verander het nie en ek kan ’n ma wees en alles doen. En jy besef nie regtig wat dit verg om net weer soos ’n mens te voel, nadat jy ’n baba gehad het nie.
6. Vra vir hulp
Ek vra vir hulp, ek vra vir hulp, ek vra vir hulp.”
Ek kan dit nie genoeg sê nie! Ek het my ma, ’n au-pair en ’n dame wat help met skoonmaak waarop ek staatmaak en nie sonder kan klaarkom nie. Om ’n ondersteuningsraamwerk by die huis daar te stel is seker die heel belangrikste ding waarmee jy kan begin.
7. Moenie eers probeer om perfeksie na te streef nie
Ek haal die verwagting om perfek te wees van myself af. Ek gaan nooit ’n perfekte ma wees wat perfekte toebroodjies maak en die perfekte oefenprogram en die perfekte ontwikkelingsklassies bywoon nie. Al wat jou kind van jou nodig het is om geliefd en veilig te voel en dat dinge konsekwent moet bly. Ek haal hierdie belaglike verwagtinge wat ons vroue op mekaar sit van myself af.
8. Al die liefde hoef nie van die ma af te kom nie
Hierdie is so ’n groot mite. Jou kind kan liefde van ander vroue (in my geval my ma, ons au-pair en die skoonmaker) ook kry en natuurlik by sy pa ook. Ek hoef nie die alleenvoorsiener van al die liefde aan my kind te wees nie.
9. Vergeet van ‘balle in die lug hou’
Dit is nog ’n term waarvan Trix glad nie hou nie. “Iemand het onlangs tydens ’n onderhoud vir my gevra: ‘So, hoe hou jy al die balle in die lug.’ En ek het myself vervies hiervoor, en gesê:
“Ons balle is op die grond, so op die grond dat ons kan sokker speel daarmee.”
Dit is ’n onrealistiese prentjie en verwagting dat ons balle in die lug moet hou. En dit is nie my rol om alleen die balle in die lug te hou nie. Life is messy. Wie ookal die ‘balle in die lug’ frase uitgedink het, moet sommer in die tronk gegooi word.
10. Haal asem
“Ek beoefen al vir baie jare lank joga. Deesdae kry ek dalk nie meer so baie tyd om joga te doen nie, maar die asemhalingstegnieke wat jy tydens joga gebruik kom dikwels tot my redding. Om dikwels net ’n vinnige minuut te neem en tien keer diep asem te haal (10 tellings in en 10 tellings uit x 10) help! Om bewus te wees van jou voete op die vloer en die mure om jou, help jou om geanker te voel.
Ek het dit juis gebruik net voordat ons met die onderhoud begin het. Ek het iets laat val en my seuntjie se jogurt het op die vloer geval. Die mense wat ons woonstel moet kom regmaak het hier aangekom terwyl ek weet ek reeds effens laat was vir ons onderhoud. Mens onderskat die krag van asemhaling.”
Trix Vivier oor Jana in Fraksie

Jana se huwelik skyn die lig op die geslagstereotipes in ’n huwelik. Jana was die broodwinner in haar huis, en haar man Alwyn (vertolk deur Sean Marco Vorster) het geëmansipeerd gevoel. In ruil het hy nie vir haar liefde en ondersteuning gegee nie, en dit is hoekom sy hom toe verneuk het. Daar was van haar verwag om ’n broodwinner te wees, ’n vrou vir haar man te wees, ’n ma vir haar dogterjie, Emmy (vertolk deur Rizane Rossouw) te wees. Sy het nooit regtig aandag gegee aan haarself nie, en in die proses het sy so alleen begin voel dat sy ’n affair gehad het. En dan is ’n mens geneig om te dink dit is die enigste ding wat tot die afbreek van hulle familie gelei het. Maar eintlik was die huwelik reeds gebroke.
Ek het die rol van Jana met soveel deernis benader, want ek het ’n klein bietjie meer insig in haar situasie gehad. Toe ek die draaiboek gelees het, het ek dadelik empatie en deernis gevoel teenoor haar. Ek het gesien wat sy probeer doen. Sy het nie genoeg ondersteuning van die samelewing gehad nie, want ons bly steeds in ’n baie paternalistiese samelewing.
Fraksie wys op Dinsdae om 20:00 op Kyknet, DSTV en is ook beskikbaar op DSTV catchup. Wees gewaarsku, as jy eers begin kyk, gaan jy nie wil ophou nie! So sit gerus ’n dag of twee opsy.