As jy vyf jaar gelede vir my gesê het jy (of ek!) sal eendag tekkies by enige uitrusting kan dra dan het ek jou nie geglo nie. Die modewêreld en modereëls het die afgelope paar jaar vele grense verskuif, veral wanneer dit kom by gemaklike skoene. Jou tekkies kan jy nou by enige uitrusting dra, as jy dalk gewonder het hoe om dit steeds op ’n stylvolle manier aan te pak, hier is 9 tekkiedra-wenke, plus 4 tekkietrends op ons stylradar; Deur Justine Kroes
03/02/2023
9 Tekkiedra-wenke
1. Hou dit skoon
Voorkomskonsultant en persoonlike tekkieliefhebber Simone Lombard sê: “Hou dit skoon! Dit lyk onprofessioneel en slordig om met vuil sneakers of tekkies te gaan werk.”
2. Volg die 20/80 reël
Simone verduidelik “As jy jou sneakers of tekkies werk toe dra, maak seker die res van jou uitrusting is netjies. Volg die 20% informeel en 80% formeel benadering. Balanseer jou klere-items om nie slonserig te lyk nie.
3. Iets vir elke stylpersoonlikheid
Simone sê “Om tekkies te dra is ’n manier om jou stylpersoonlikheid te wys en uit te druk. Die bonus is natuurlik dat dit prakties en gemaklik is”. Voorkomskonsultant Ronel Le Roux stem hiermee saam “Verskillende stylpersoonlikhede verkies verskillende tipe tekkies, daar is nie noodwendig ’n reg of ’n verkeerd nie, dit gaan alles oor hoe jy dit dra.
’n Minimalistiese persoonlikheid gaan heel waarskynlik ’n plein wit tekkie verkies;
’n Dramatiese stylpersoonlikheid gaan dalk tekkies met ’n bietjie blink verkies.
’n Kreatiewe stylpersoonlikheid gaan ’n bonkige of dalk helderkleurige tekkie verkies.
’n Sagte, vroulike persoonlikheid sal dalk sagte neutrale kleure met blompatrone of sagte afwerkings verkies;
4. Speel met kleur
Vir ’n meer professionele voorkoms indien jy graag meer bonkige gekleurde tekkies wil dra, kombineer dit met meer neutrale kleure, verduidelik Ronel. As jou werksplek nie baie formele uitrustings vereis nie, en meer gemaklik is, gebruik jou helder tekkie as kleurblok of monokroom inspirasie vir jou uitrusting.
5. Maak dit só meer vroulik
Dra jou sportiewe of bonkige tekkies by ’n vroulike rok of romp vir ’n sagter maar steeds stylvolle en gemaklike uitrusting.
6. Hou die silhoeët van jou uitrusting in gedagte
Wanneer jy ’n lang wyepypbroek dra, kies ’n tekkie met bietjie van ’n platform om bietjie hoogte te gee en jou broek ’n bietjie te lig sodat dit nie op die grond sleep nie. So ook waanneer jy bonkige oorgroot kledingstukke dra, balanseer dit uit met minimalistiese tekkies.
7. Dra retro-styl tekkies so
As jy ’n meer outydse /retrotekkie wil dra, kombineer dit met moderne sjiek items vir kontras en om te verhoed dat jy lyk asof jy reg uit die 90’s getydreis het.
8. Dra oefentekkies so
Ja jy kan nou jou oefentekkies by ENIGE uitrusting dra! Die belangrikste hier is om seker te maak hierdie tekkie is skoon en netjies wanneer jy dit by enige iets anders as jou oefenklere dra.
Speel hier met kontras – as jy ’n tekkie in ’n helder skakering dra, kombineer dit met neutrale klere items, of andersom. Nog ’n manier om kontras te skep is om meer formele uitrustings by jou oefentekkie te dra.
9. Probeer ’n sokkie!
Hierdie jaar is die sokkie terug, wit, deursigtig of met patrone, noem dit! Wees ’n bietjie waaghalsig, en kies iets met ’n patroon om jou uitrusting op te kikker of gaan vir ’n plein wit enkelhoogte sokkie, hierdie werk nogal oulik saam met rompe of korter rokkies sê Ronel.
4 Tekkietrends wat vanjaar groot gaan wees
1. Volhoubaar en omgewingsvriendelik
Die modewêreld se fokus is vanjaar beslis op volhoubare mode en modekeuses. Alhoemeer mense kies omgewingsvriendelike tekkies. Van veganistiese leer tot die gebruik van afval en herwinbare materiale om tekkies te maak.
2. Oefen, stap (hike) tekkie
Die oefentekkie trend het begin met die “dad sneaker” tendens so ’n paar jaar gelede en is vandag nog groot nuus. Vanjaar is selfs stap (hike) tekkies ook ’n gewilde keuse om by enige uitrusting te dra.
3. Retrotekkies
Dit is g’n geheim dat die retrocore modetendens tans groot nuus is nie, en daarby ook natuurlik retro- styl tekkies, welkom terug by die 90’s!
4. Futuristiese tekkies
Die modewêreld ry beslis ’n futuristiese golf hierdie jaar, en dit was duidelik op die modeloopplanke, veral met skoene en tekkies. Dink aan silwer tekkies, tekkies sonder veters, tekkies met gaas en die wat van neopreen (duikpakmateriaal) gemaak is.