Tekens dat jy besluitnemingsmoegheid het

Ons neem meer as 35 000 besluite per dag, geen wonder dat so baie van ons met besluitnemingsmoegheid sukkel nie. Hier is tekens van besluitnemingsmoegheid en wat om hieromtrent te doen.  Deur Suzanne Kotzé

Tydens ’n motiveringspraatjie by ’n funksie wat ek bygewoon het, noem motiveringspreker Lele Shabangu die woorde decision-fatigue oftewel besluitnemingsmoegheid. En net daar het ek ’n ‘aha-oomblik’. Die besef dat daardie ‘maklike’ epos wat ek nog nie beantwoord het nie, of die WhatsApp wat steeds ongelees is, alles deel is van besluitnemingsmoegheid.

Wat is besluitnemingsmoegheid?

Besluitnemingsmoegheid is ook bekend as besluitnemingsverlamming. Dit is geestelike uitputting as gevolg van die meer as 35 000 besluite wat ons daagliks moet neem. En ja, jy lees reg, 35 000 besuilte per dag. Navorsing bewys dit.

Baie van die besluite word geneem sonder dat jy eers besef jy neem ’n besluit. Gaan jy koffie of tee drink? Gaan jy daai Instagram plasing like of gaan jy iets byskryf of net verby scroll? En dan is daar die besluite wat soos besluite voel; werksbesluite, huisbesluite, familiebesluite. Nimmereindige besluite wat tot emosionele moegheid en selfs uitbranding bydra.

Hoe later in die dag, hoe moeër word ons (deels van al die besluite wat ons reeds moes neem) en hoe swakker word ons besluitnemingsvermoeë.

Tekens dat jy besluitnemingsmoegheid ervaar.

Breinmis

Jy voel konstant asof jy in ’n dwaal is. Daar is net soveel om te doen en besluite om te neem.

Impulsiewe kopies

Jy het nog gedink jy gaan etes beplan, maar kon nie besluit wat nie, en nou koop jy gou vir vanaand ’n paar goed. Dieselfde slaai (wat waarskynlik reeds in jou yskas is) o, en is daar nog aartappels, kom ek koop maar nog. En môre namiddag doen jy dit weer.

Interessante feit: Navorsers by Cornel Universiteit in die VSA het bevind dat ons daagliks 226,7 besluite net oor kos neem.

Jy voel oorweldig en stel uit

Jy voel so oorweldig deur die taak wat jy moet aanpak en al die besluite wat jy moet neem, dat jy eerder jou kop in die grond druk en daarvan probeer vergeet en uitstel, eerder as om net te begin. En dan plaas jy natuurlik net nog meer druk op jouself

Besluitnemingsvermyding

As jy reeds geestelik uitgeput voel, ignoreer of vermy jy dalk take wat besluitneming verg. Dit word dalk makliker om net ‘nee’ te sê as om byvoorbeeld positiewe en negatiewe punte teen mekaar op te weeg.

Alle besluite voel ewe moelik

Dit word moeliker om moeilike/ernstige versus maklike besluite van mekaar te onderskei. Alle besluite voel ewe moelik.

Redes vir besluitnemingsmoegheid

Te min slaap

As jy moeg is van te min slaap, sal jy dit moeiliker vind om besluite te neem.

Honger

Hoeveel keer het jy nie al ’n slegte besluit geneem omdat jy ‘hangry’ is nie!

Die hoeveelheid besluite

Sommige weke en dae het jy dalk meer besluite om te neem as ander, of jou moegheid van besluite neem hoop op, tot jy net nie meer kan nie.

Tyd van die dag

“Dit gebeur baie keer hier rondom 15:00 in die werksdag, wanneer jy dalk honger is of jou brein moeg is,” verduidelik Lele.

Voorkom besluitnemingsmoegheid só

“Dit is belangrik om jou besluitnemingsvaardighede te beskerm, ander neem jy ’n swak of verkeerde besluit,” sê Lele.  

Ken jou liggaamsritme

Is jy ’n oggendmens, reël byvoorbeeld vergaderings waar jy besluite moet neem vir soggens of doen jou moeilike take dadelik. En as jy soggens sukkel omdat jy ’n naguil is, gee jou brein kans om wakker te word, en reël eerder laat-oggend of middag-vergaderings en doen jou ‘makliker’ take eerste.

Wees voorbereid

Wat om aan te trek, of wat om te eet vir ontbyt is dalk klein besluite waaroor jy tob in die oggend. As dit jy is, probeer eerder om ’n tipe uniform vir jouself te skep. Byvoorbeeld, ’n broek en hemp of Maandae, ’n rok en baadjie op Dinsdae, of sit jou klere die aand voor die tyd uit. Net so met etes; as dit vir jou ’n bron van ‘oordink’ is, beplan vooraf jou maaltye.

Vermy op-die-nippertjie-besluite

Moenie uitsel nie! Jy los die besluit vir op die nippertjie, want jy kan net nie so vêr kom om die besluit te neem nie, en dan laat jy dalk jouself en ander mense in die steek, wat weer tot skuldgevoelens lei.  As jy byvoorbeeld weet jy het ’n afspraak met vriendinne, besluit wie jy gaan vra om jou kinders op te pas, en reël dit eerder as wat jy ’n uur voor die tyd alles probeer reël en so oorweldig voel dat jy net kanselleer. Dan sit jy by die huis, en voel skuldig met vriendinne wat dalk verstaan of dalk ook nie.  Of jy dink mense is kwaad vir jou, en jy vermy hulle (onnodig).

Slaap genoeg

Liggaam en siel het dit nodig en ja, dit kan help met besluitneming ook.

Moenie vergeet om te eet/of kos in te pak nie

Jy is ‘hangry’ en neem nie net daarom slegte besluite nie, maar gryp dalk na ’n beskikbare pakkie tjips of sjokolade, wat dalk die gaatjie vul, maar jou ’n halfuur later net mislik laat voel.

Ontkoppel en herlaai

Bêre jou foon of tablet en skakel jou sosiale media gereeld af. Soos genoem kan selfs om sosiale media dop te hou, gevul wees met besluite. Maak tyd om ’n boek te lees, bewustelik tyd in die natuur te spandeer en werklik af te skakel van besluite neem. Herlaai eers jou eie batterye, voor jy weer jou foon herlaai.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
#ownyourstory
error: Content is protected !!