Soetmelksvlei; ’n kuier op ’n 19de eeuse plaaswerf

Met ’n kuier by Babylonstoren se nuwe Soetmelksvlei word jy meegevoer na ’n (perfekte) plaaswerf van die 19de eeu. Verbeel jouself jy het ’n oupa- en oumagrootjie met die mooiste plaas. In die tyd voor elektrisiteit of motorkarre. In ’n tyd waar alles met die hand gemaak is. Wees gereed vir ’n unieke geskiedkundige ervaring teen die hange van Simonsberg. Deur Suzanne Kotzé. Foto’s Babylonstoren

Ons het glad nie geweet wat om te verwag toe die span van Babylonstoren ons genooi het om by Soetmelksvlei te kom kuier nie. Op ’n ysige sonskynwintersdag klim ons in Landrovers wat jou kompleet laat voel of jy op ’n safari-rit gaan terwyl jy die pragtige natuurskoon inneem, terwyl in ’n stem in die oorfone jou meer vertel oor die omgewing.

Kom jy by Soetmelksvlei aan, voel dit kompleet asof jy ’n ander eeu binnetree. Een waar jy aan varsgebroude moerkoffie (geskink uit ’n blikketel wat op die vuurherd prut) teug terwyl plaasbotter op die varsgebakte brood smelt.

Die son skyn saggies deur die hortjies, en jy hoor plaasdiertjies en die klik, klak van die ystersmid wat besig is om rooiwarm yster te slaan en plaasgereedskap te maak.

Hierdie is een van die vele ervarings wat deur die vernuftige span van Babylonstoren opgedroom is. ’n Span meesterbouers en geskiedkundiges werk al ’n geruime tyd lank hard agter die skerms aan hierdie buitengewone projek.

Daar is selfs ’n museoloog (’n museumspesialis), Elsa Vogt, aangestel.  Sy was aan die stuur van sake toe hierdie multisensoriese reis deur tyd beplan is. “Die kultuur van selfstandigheid wat plaaslewe in die laat 1800’s gekenmerk het, fassineer my. Dit was ’n geslote ekosisteem waar alles handgemaak was en op die plaas herstel is, met ’n verstommende vlak van bedrewenheid,”sê Elsa.

Soetmelksvlei, ’n interaktiewe plaaswerf

Die hoof van Soetmelksvlei, Adele Johnson en haar span, is baie opgewonde om besoekers op die plaas te verwelkom. “Ná jare se harde werk en voorbereiding is dit wonderlik om ons kennis en passie vir handwerk te deel met ander wat dit ook waardeer,” sê Adele. “My grootste bekommernis is dat besoekers sal onderskat hóé baie hier is om te sien en te ontdek.” 

En hier is baie om te doen, ons het nie by al die aktwiteite uitgekom nie, en is reeds aan die beplan vir ’n volgende besoek saam met ons gesinne. Hierdie is ’n wonderlike manier om kinders van die 19de eeu te leer. Beslis baie meer interessant as enige geskiedenisboek!

Wat kan jy sien en doen by Soetmelksvlei?

Die Plaashuis

Op die sonstoep van die plaashuis word jy versoek om jou skoene uit te trek. Moenie bekommerd wees nie, jy kry glyvrye sokkies om aan te trek.

Die sonlig skyn deur kantgordyne terwyl jy van vertrek na vertrek stap. Die mooiste meubels van die laat 1900’s en die kleinste besonderhede voer jou terug, en jy kan jouself indink hoe dit gevoel het om hier te woon.

Die plaaskombuis is natuurlik ’n hoogtepunt, en die hart van die huis soos dit hoort. Kruietakke en koperpanne en kombuisgereedskap hang voor die groot vuurherd.

Stap jy uit die kombuis is daar natuurlik ’n kombuistuin, ook met vrugte- en groentevariëteite van die tydperk. En ’n klein Tuiniershuisie waar gedroogde medisinale kruie hang en ’n klein matrassie in die hoek is.

Die Ou Kelder

Die Ou Kelder is ’n wonderkamer in die ware 19de eeuse sin van die woord: deels vertoonkas, deels pophuis en deels leeskamer.

Die Ou Stal Restaurant

Wat ’n hoogtepunt, om met vertroostende plaaskos (met ’n effense moderne kinkel natuurlik) bedien te word. Dink lamskerrie, slaphakskeentjies, roosterkoeke, plaaskonfyt en smullekker poedings. Wees gewaarsku, jou oë gaan dalk groter as jou maag wees.

Daar is binne en buitetafels, en heerlike speelplek vir die kinders.

Die plaaswinkel

In die Jonkershuis-plaaswinkel kan jy beskuit, piekels, konfyt en ingelegde produkte, gebreide en gehekelde komberse, handskoene, pantoffels en kindertruie koop. Hier kan jy selfs ’n opsitkers aanskaf, wat in die ou dae sou bepaal vir hoe lank ‘n vlerksleper mag vertoef.

Die watermeul

’n Tradisionele watermeul waar koring gemaal word, is nog een van die vele interessante ervarings. “My gunsteling is die watermeul. Dit was ’n reusetaak om van nuuts af een op te rig wat nes ’n 19de eeuse meul lyk en werk,” sê museoloog Elsa. 

Handwerkers

Hier is ’n groot klem daarop om alles met die hand te maak; van karringmelk en room tot skrynwerkers (wat stoele aan’t timmer is).

Die indrukwekkende ystersmid wys ook sy vaardighed vir ons. Hy maak onder meer pragtige handgemaakte ysterpanne, oondpanne en braaitoerusting wat in die plaaswinkel te koop is.

Plaasdiere

Terwyl die eende in die dam swem en reuse plaashoenders op die werf skrop, word ons vermaak deur die plaashond, Tessa, wat ook ’n swem vang in die dam. En sy het nie eers geïnteresseerd gelyk om ’n eend te vang nie. Die gemmerkat baljaar in die son terwyl jy duiwe hoor koer.

By die kraal, natuurlik met ’n windpomp in die agtergrond, is ’n koei- en perdestal, met afsonderlike kampe vir die skape en miniatuurdonkies, Faf en Tjokkie.

Aktwiteite

Daaglikse aktiwiteite vind op vasgestelde tye deur die dag plaas. Gaste word aangemoedig om te kom kyk hoe die koeie gemelk word, room afgeskei word, botter gemaak en koring gemaal word, en om vrae te vra en self deel te neem aan aktiwiteite. Soetmelksvlei bied verder ook werkswinkels aan waar vaardighede nuut aangeleer of verfyn kan word. Vasgestelde werkswinkeldatums moet vooraf aanlyn bespreek word. Daar is koswerkswinkels in die Vleiskamer of Melkkamer, terwyl dié ystersmid, houtwerkers en leerwerkers klasse in die Werkswinkel aanbied. Jy kan selfs leer hoe om jou eie mampoer te stook. 

Besoek Soetmelksvlei

Soetmelksvlei is elke dag van die week tussen 9:00 en 17:00 in die somer (September-Maart) en van Donderdag tot Sondag 9:00 tot 16:00 in die winter (April-Augustus) vir die publiek oop.

Gaste word om 08:30, en daarna alom die 30 minute tot 13:00 saam met een van ons gidse vanaf Babylonstoren vervoer. 

Vervoer vanaf Soetmelksvlei terug na Babylonstoren is om 11:00 en daarna elke uur, op die uur, tot 16:00 in die winter en tot 17:00 in die somer. 

  • R300 toegang per volwassene (sluit jaarlikse Babylonstoren-lidmaatskap ten waarde van R100 in). 
  • R200 toegang per volwassene met geldige Babylonstoren-lidmaatskap. 
  • R100 toegang per kind van 4–17 jaar oud. 
  • Gratis toegang vir kinders van 3 en jonger, mits hulle op ’n volwassene se skoot sit op die rit van Babylonstoren na Soetmelksvlei.  

Bespreek aanlyn by babylonstoren.com of skryf aan enquiries@babylonstoren.com 

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Maklike hoendergyro resep
error: Content is protected !!