Tatoeëerkunswerke
Tatoeëerkunswerke

Tatoeëerkunswerke: van littekens na kuns

Twee vroue se littekens, na fisies en psigies pynlike operasies, word in tatoeëerkunswerke omskep. Mandy Hazel, wat ’n dubbele mastektomie gehad het, en Kristina Stojiljokovic, wat ’n dubbele heupvervanging gehad het, deel met ons hoe tatoeëermerke oor hul littekens hul lewens verander het. Deur Suzanne Kotzé

Foto’s: Liesl Le Roux, Tattoeëerkunstenaar: Maggie Murray, Hare en grimering: Merle Titus; Blomme: Theresa Potgieter van bedinkt.com Stilis: Robynn Deedat 

Dubbele mastekomie, agt operasies en baie littekens later: Mandy Hazel se tatoeëerkunswerke

Na ’n dubbele mastektomie en agt operasies, baie komplikasies, littekens en vervorming later, het Mandy gesukkel om haar liggaam te aanvaar. Na veertien jaar het Mandy besluit om haar littekens in iets mooi te omskep.

“Die ondervinding om die tatoeëering te laat doen was soos ’n 48-ure lange terapiesessie; dit het my lewe verander,” vertel Mandy .

“In ’n neutedop het dit my laat voel of ek weer beheer en mag teruggeneem het. Ek het ’n nuwe persoon geword.

Ek kon weer in die spieël kyk en mooi en sterk voel. Vir die eerste keer in 14 jaar het ek gevoel of ek in beheer is oor wat met my liggaam gebeur. Die het ’n hele omwenteling in my siel, in my sin vir selfwaarde teweeggebring. Ek voel vernuwe.

Vandat ek die eerste keer vir Maggie ontmoet het, was ek mal oor haar ontwerpe, en haar empatie en deernis het my laat besef dat sy die regte persoon is om te vertrou met hierdie proses. Ek het haar vrye teuels gegee met die ontwerp.”

Mandy se raad

“Doen wat jy ookal kan om jou mag en beheer terug te neem. Dit maak nie saak hoe klein dit is nie, wat jy doen kan ’n reuseverskil maak. Leer om jouself te aanvaar, selfvertroue te hê en die wêreld binne te tree – en soos ’n heel persoon te voel. Dit sal jou lewe verander.  

Dubbelheupvervanging, ’n loopraam, krukke en nog ’n operasie later: Kristina Stojiljkovic se tatoeëerkunswerke

Vyf jaar gekede het fotograaf Kristina Stojiljkovic op 42 jarige ouderdom ’n dubbele heupvervanging kry weens heupdisplasie wat sy vanaf geboorte reeds gehad het. Na ’n jaar waarin sy weer moes leer loop en maande lank met ’n loopraam en krukke moes regkom, terwyl haar dogtertjie Frankie-Rae steeds ’n baba was, moes sy nog ’n heupoperasie ondergaan (Psoas release operasie) en weer ’n jaar van herstel deurmaak.

“As gevolg van dit het ek littekens op my heupe, wat my herinner aan die psigiese en emosionele stryd en dat my een kant nooit ten volle sal herstel nie,” vertel Kristina.

Die simboliek van Kristina se littekens

“Gedurende hierdie reis het ek ongelooflike mense ontmoet en ek het besef daar is vele vroue wat in stilte swaarkry met dieselfde tipe stories en ondervindings,” skryf Kristina op haar blog loveandrockets.co.za

Operasies, medikasie en littekens laat alles ’n merk op ’n mens se psige, jou selfvertroue, jou selfwaarde en jou lewenslange herinneringe.

Elke keer as ek my littekens gesien het, het dit al die emosies van vrees, selfveragting, frustrasie en teleurstelling in my eie liggaam en tekortkominge teruggebring. Die ander sy van my littekens is ook egter een van liefde, aanmoediging en ondersteuning wat ek ontvang het van my familie en vriende. Dit is hierdie gevoel van ligtheid wat ek wou voel, as ek na my littekens kyk. Ek wou hê iemand moes hierdie storie vasvang op my liggaam en dit is waarom ek vir Maggie gevra het om hierdie tatoeëermerk aan te bring.

“My littekens verteenwoordig ’n fisiese realiteit wat my liggaam moes verduur en ek wou hê kuns moes die teenoorgestelde verteenwoordig; die sagte, liefdevolle emosies wat ek van vriende en familie ontvang het. My littekens is steeds op my heupe en sal altyd deel wees van my en wat my liggaam moes deurmaak verteenwoordig. Ek wou nie my littekens toemaak nie, maar diepte gee. Saam met die groewe, die fyn skakering en tatoeëermerke vertel dit my storie. Elke keer as ek na my heupe kyk het ek waardering vir wat dit geverg het sodat ek weer kon loop en voel weer ek die liefde wat ek ontvang het.

Kristina oor tatoeëerkunstanaar Maggie Murray

Kristina (regs) saam met tattoeëerkunstenaar: Maggie Murray

Maggie stel persoonlik belang en luister sodat sy ’n kunswerk kan skep in die mooiste, en mees sagkenste, vroulike styl. Sy is werklik ’n storieverteller.  Die tatoeëermerke op my heupe is omtrent 30cm lank en het ’n paar dae geneem om te skep. Die tyd wat ek saam met Maggie deurgebring het, is egter net so onvergeetlik soos haar warm glimlag. Om die regte kunstenaar te kies, met die regte styl en persoonlikheid, maak van tatoeëermerke kunswerke. 

Tattoeëerkunstenaar: Maggie Murray

Maggie doen natuurlik nie net tatoeëermerke oor littekens nie, maar elke nou en dan help sy om littekens, hetsy dit van operasies of selfskade is, te omskep in kunswerke. “Mense het soveel stories waarvan ons nie weet nie. Hierdie stories is persoonlik en die littekens wat agtergelaat word, trek onnodige aandag of ongevraagde vrae. Dit gaan nie altyd daaroor om die littekens toe te maak nie, maar om die fokus van goed na sleg verander, sodat die littekens nie die eerste ding is wat jy raaksien omtrent die persoon nie.”

Maggie glo dat dit alles deel is van ’n helingsproses; eers aanvaarding en dan om die storielyn te verander.

“Ek probeer om nie die littekens heeltemal toe te maak met ink nie. Mens kan sommige littekens nie heeltemal toekry nie, en dan los dit kaal kolle. Daarom probeer ek eerder saam met die litteken werk.

Ek probeer dit aan my kliënte oordra dat ons nie ons geskiedenis moet wegsteek nie, maar ons moet dit eerder besit. En die herinnering wat die littekens vir ons inhou, omskep in mooier herinneringe.

Met littekens is die senu-punte van die vel dikwels beskadig so tegnies behoort dit minder pynlik te wees, maar ek glo ons vel onthou trauma. Daarom is dit nie heeltemal gevoelloos nie, en daar kan dele wees wat taamlik sensitief voel.

Hou hierdie in gedagte as jy ’n tatoeëermerk wil laat aanbring

  • Praat eers met jou dokter daaroor
  • Littekens neem veel langer om te heel, so gee dit ’n paar ekstra maande voordat jy dit laat tatoeëer.

Ek dink dit is ’n wonderlike manier om weer selfvertroue terug te kry en om weer eienaarskap van ’n deel van jou lyf te neem. Dit is natuurlik ook ’n goeie verskoning om daardie tatoeëermerk te kry wat jy nog altyd wou hê.

Jy kan vir Maggie kontak deur ’n epos te stuur na  maggie@carvel.co.za

Lees ook: Tatoeëermerk-nasorg

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
groenvlaggie-vriendskap-3
Kom ons wapper groen vriendskapsvlaggies
error: Content is protected !!