Ek het die afgelope twee jaar gewig verloor en natuurlik ook ouer geword, en ek is baie bewus daarvan dat hierdie twee elemente (veral saam) kan bydra dat jou vel begin hang en dat jy ouer kan begin lyk. Dr Maureen Allem van Skin Renewal het hulle Triple Tightening Lift behandeling voorgestel. Ek het vier sessies beproef en hier is die resulate. Deur Suzanne Kotzé.
Wat is die Triple Tightening Lift behandeling?
Die Triple Tightening Lift is ’n nie-indringende behandeling wat ’n chemiese afskilfering, radiofrekwensie, Nd:YAG-laserverferming en Laser Genesis gebruik om saam om die vel van die oppervlak tot in die dieper strukturele lae te hernuwe en verjong.
Nadat ek vier behandelings voltooi het, was die veranderinge nie net iets wat ek kon voel nie, maar iets wat ek kon sien. As ek terugkyk na my voor-en-na-foto’s, sien ek beslis die verskil.
En toe bied dit veel meer as net verferming.
Resultate wat vir my sigbaar was na die behandeling
Ek het my voor en na foto’s vir ChatGPT gewys en gevra wat die mees sigbare verskil was, (net om seker te maak ek verbeel myself nie, want jy is mos altyd subjektief) en ons het dieselfde verskille raakgesien.


1. Minder rooiheid
Ek het nie besef hoe erg my rooiheid is totdat ek die twee foto’s langs mekaar gesien het nie. Die rooiheid veral rondom my neus, wange en ken was baie sigbaar.
In die na-foto lyk my veltoon merkbaar kalmer en meer eenvormig.
Laser Genesis het hier ’n groot rol gespeel, aangesien dit spesifiek rooiheid teiken en help vir ’n meer egalige en gebalanseerde voorkoms.
2. Meer eweredige en gladder vel
As ek die twee foto’s vergelyk is die tekstuurverandering ook baie sigbaar. (Ek kry sommer skaam oor al my porieë op die voorfoto!)
In die voorfoto lyk die vel growwer en meer oneweredig. In die nafoto lyk die oppervlak gladder, helderder en meer verfyn.
Die melksuur-afskilfering en die kollageen-stimulerende lasers het duidelik saamgewerk om hierdie verbetering te skep.
3. Gesonder vel
Een van die mees verrassende verskille was hoe my vel gevoel het. Na vier behandelings het dit sterker, minder dun en meer gehidreerd gevoel.
4. Effense lig rondom die kakebeen
Dr. Maureen het vir my verduidelik dat soos ons ouer word, die volume van ons gesig verander van ’n jeugdige driehoek na ’n piramiede met die volume wat beweeg van ons wange na ons kakebeen area.
Daarom het ons het veral met die Nd:YAG laser gefokus op my kakebeen-area. En al is dit nie ’n drastiese verskil nie, lyk my kakebeen meer gedefinieerd en die dubbelken lyk ook kleiner.
Hoe werk die behandeling?
Die Triple Tightening Lift werk in vier fases en dit neem so uur ’n en ’n half tot twee ure. Daar is geen aftyd (downtime) daarna nie. Jy lyk dalk vir die eerste paar minute effens rooi.
Stap 1 Melksuur en DMAE afskilfering
Die behandeling begin met ’n chemiese afskilfering wat 10% melksuur bevat om die buitelagie van jou val liggies af te skilfer. Dit help met hidrasie en om jou vel helderder te laat lyk. Dit bevat ook DMAE (Dimethylaminoethanol) wat help met verferming deur die toon en tekstuur van vel wat hang te verbeter.
Jy voel ’n effense tintelende gevoel soos die suur werk. ’n Neutraliseerder word aan jou gesig gespuit en dan is dit tyd vir die radio frekwensie deel.
Stap 2: Titania radio frekwensie

’n Jel word aan jou gesig gesmeer sodat die kop van die Titania-masjien oor jou vel kan gly. Die kop is warm en verhit jou vel 42–44°C, die optimale temperatuur om kollageen te stimuleer. Soos die vel verhit, bevorder dit ook jou bloedvloei wat help dat jou vel helder en meer glansend lyk, sodat dit kollageen kan stimuleer en sirkulasie ’n hupstoot kan gee. Dit help om glans te gee en om vel stywer/fermer te maak.
Die RF energie help om om jou vel te verferm, plooie gladder te maak en dit help veral met ’n dubbelken. En juis hierom is dit waarom die terapeut die meeste van die tyd op die area spandeer het.
Ek het hierdie deel van die behandeling nie as ongemaklik ervaar nie, jou vel word net warmer.
Stap 3 ND: YAG Laser verferming

Jel word weer aangewend en dan word jou vel afgekoel met ’n yspak. Die ys verkoel jou vel sodat dit die volgende stap beter kan verduur. Met die ND: Yag word daar dieper in jou dermis gewerk waar dit ’n gekontroleerde termiese besering veroorsaak. Die hitte veroorsaak dat jou kollageenvesels saamtrek en gee ’n onmiddelike geligte en fermer effek. Oor tyd stimuleer dit ook die selle van die fibroblast-selle (verantwoordelik vir kolageen, elsatien en hialuroonsuur-produksie).
Dit voel amper asof jou vel met ’n warm rekkie geskiet word. Dit is bietjie ongemaklik, maar nie seer nie.
Stap 4: Laser Genesis

Die laaste stap help om fyn lyntjies te versag, rooiheid te verminder en porieë gladder te maak. Die Laser Genesis gebruik verskillende groottes laserkolle. Die kleinste een teiken die epidermale laag om die oppervlakprobleme soos rooiheid, fyn lyntjies en vergrote porieë aan te spreek. ’n Mediumgrootte kol werk dieper om kolageen te stimuleer. Die grootste kol werk diep om van jou dieper plooie te teiken en help met meer dramatiese verferming.
Saam help die vier stappe om jou vel te lig, verferm en dieper dele van jou vel te hernuwe. My terapeut, Ganeefah, sê die behandeling is ideaal vir almal wat ’n vebeterde veltoon en tekstuur vereis en elastisiteit wil verbeter sonder om mediese prosedures te laat doen.
Die behandeling eindig met ’n strelende masker en ’n heerlike gesigmassering en velsorg. Wees gereed om in ’n beswyming uit te loop.
Na vier sessies kan ek beslis sien dat die Triple Tightening Lift sigbare en betekenisvolle verskille gemaak het. My vel is
- Kalmer en minder rooi
- ’n Gladder tekstuur
- Voel gesonder en sterker
- Het effens meer kakebeen definisie en vermindering van ’n dubbelken


Ek hou daarvan dat ek ook weet my vel is gesonder en dat die resultate oor die volgende paar weke nog meer sigbaar gaan word. Een van my vriendinne het wel onlangs opgemerk dat ek dan nou soos Benjamin Button is, so dalk is die verandering meer sigbaar as wat ek dink.
Ek het my behandelings by Skin Renewal in Claremont laat doen. Dit kos R5895 per behandeling. Dit is beskikbaar by takke reg oor die land. Besoek gerus https://www.skinrenewal.co.za





