Ja asseblief, ons is reg om meegevoer te word na ’n tropiese paradys met Oscar de la Renta Bella Tropicale. Totsiens grou weer, hallo sonskyn en mengeldrankies. Deur Suzanne Kotzé. Foto’s Tegan Smith
Promosie
Mode-ontwerper Oscar de la Renta was nie net bekend vir sy pragskeppings in die mode-wêreld nie, maar ook as tuinliefhebber. Soveel so dat sy tropiese tuin in Punta Cana in die Dominikaanse Republiek (waarvan hy ook ’n boorling is) die inspirasie agter ontwerpers Fernando Garcia en Laura Kim se Lente mode-versameling in 2023 was.
Die tuin was natuurlik ook die inspirasie agter die fyngeur Oscar de la Renta Bella Tropicale.
Die pragtige bottel van die Oscar de la Renta Bella Tropicale fyngeur
Ons asems was behoorlik weggeslaan met die besondere bottel. Dit is amper of jy al weet hoe die fyngeur gaan ruik nog voordat jy die mooi bottel se doppie afhaal. Die drie-dimensionele blare en blomme in koraal wat die voorkant van die bottel versier, skep klaar die tropiese gevoel, en jy verbeel jou sommer dat jy jouself in ’n tropiese tuin bevind.
Die goue doppie (kenmerkend aan die Bella fyngeurversameling) is geïnspireer deur die die son.
Hoe ruik Oscar de la Renta Bella Tropicale?
Vir my ruik dit soos somervakansie op ’n tropiese eiland. (Dit herinner my aan mengeldrankies in kokosneute bedien op die strand in Mauritius.) En met die dae wat al hoe korter en kouer word, is ek beslis reg om meegevoer te word na ’n tropiese paradys waar die son heerlik skyn.
En dit is presies ook wat parfumier Nicole Mancini wou vasvang:
“Die geur voer jou dadelik mee deur beelde van ’n kleurvolle paradys op te wek, terwyl jy aan ’n tropiese mengeldrankie teug, omring deur ’n oorvloed van natuur.”
’n Welige tropiese tuin, ryk aan blomme, helder groenigheid en warm sonskyn is die inspirasie agter die fyngeur.
Die geurnote
Die topnote (dit wat jy eerste ruik) is pynappel Fresca (’n drankie gemaak van pynappel, lemmetjie, ys en suiker), rooi koraal en sitrusakkoord (’n mengsel van verskillende sitrusnote).
Die middelnote (wat jy gewoonlik na so rofweg 15 minute begin ruik) is ilang-ilang, kokosneutwater en lemoenblom absolue. Van hierdie is die kokosneutwater vir my die een wat eerste na vore kom.
Die basisnote is tonkabone, sandelhout en oseaanmis muskus.