Sumien Brink New York styl blyplek
Sumien Brink New York styl blyplek

Sumien Brink se New York-styl blyplek

Dekorbekende, Sumien Brink se New York-styl blyplek was eens ’n effens verslete kantoorspasie. Met behulp van die slim ontwerp van Etienne Hanekom het hulle binne net meer as ses weke die oop spasie omgetower in ’n sonnige New York-styl blyplek.

Verwerk deur Suzanne Kotzé, Foto’s Mickey Hoyle

Meer oor Sumien Brink se New York-styl blyplek

Sumien Brink

“Wie sou ooit kon dink dat ek so 10 jaar gelede my knus skakelhuisie in Tamboerskloof sou verruil vir ’n groot effens, verslete kantoorruimte in die Kaapse middestad? Beslis nie ek nie, maar toe die hysbak op die vierde vloer oopmaak en ek sien die groot 223 vierkante meter spasie, there was no turning back!

Sumien Brink New York-styl blyplek

Met behulp van die slim ontwerp van Etienne Hanekom het ons binne net meer as ses weke die oop spasie omgetower in ’n sonnige New York-styl blyplek,” vertel Sumien. 

Die industriële boho-styl

Sumien vertel dat hierdie tipe styl op Pinterest ‘Industrial Boho’ genoem word. “Basies is dit om industriële stukke te meng met sagter voorwerpe en dan plante oral. Daar was geen strukturele veranderinge nie, net baie skoonmaak. Ons het die houtvloere, wat nie in ’n wonderlik toestand was nie, swart geverf, wat ’n eenheid geskep het in die groot spasie. Ek het al die goeters wat ek oor die jare versamel het, op ’n nuwe manier bymekaar gesit.

Slaapkamer geskep met perspeks sinkplate

Dit was Etienne se briljante idee om die perspeks sinkplate te gebruik om twee slaapkamers te skep. Dis ’n baie vinnige en maklike manier om ’n nuwe spasie te skep, en omdat dit bietjie deursigtig is, laat dit lig in die slaapkamers in.

Badkamer 

Sumien Brink badkamer

Die badkamer het bestaan uit drie toilette en drie piepklein wasbakkies. Ons het dit alles uitgehaal en die spasie verdeel in ’n ruim stort en klein aantrekkamertje. Die trollie het my vriendin Lindi vir my gegee en die hake kom van my huisie in Tamboerskloof. Dit is baie handig vir handdoeke en klere. Ons het die hele area met wit metroteëls geteel en al die naïewe landskappies kom van die Milnertonmark

Sumien se werkspasie

Hierdie is my happy place in hierdie huis.

Ek het wieletjies laat sit aan alles wat ek moontlik kon, sodat ek dit maklik alleen kan rondskuif. 

Sumien Brink werkspasie

’n Goedkoop en maklike manier om prente te hang, is met ’n dun staalkabeltjie teen die muur waaraan jy enige spesiale prente met klein klampies kan ophang. Dit word dan sommer ’n kunsuitstalling in wording. As jy moeg raak vir ’n prent, vervang dit met ’n ander.

’n Kombuis met sakpas staaloppervlakke en baie plante

Al die staal kombuisoppervlakke kom van ’n catering winkel in Woodstock en was besonder bekostigbaar en baie prakties. Omdat ek mal oor kook is, het ek die geld eerder spandeer op ’n goeie stoof.

Na baie probeerslae het ek uitgevind dat al plante wat hier goed groei, vetplante en Peace Lilies is wat ek by Woolworths koop. Soos alles wat kan in my huis, is die werkstafels ook op wiele. 

Sitkamer met ’n uitstrekbank en baie boeke

Die bank was een van die min goed wat ek nuut gekoop het.

As ek enige raad kan gee daaoor om ’n nuwe bank aan te skaf, sorg dat jy heeltemal kan uitstrek daarop.

Sumien Brink leefkamer groen bank

Myne verdeel ook die sit-area en die eet-area. Die groen kleur pas by alles en beklemtoon die plante. Die boekrakke was my een groot vereiste. Nou kan al my boeke op een plek wees. Hulle raak soos kunswerke in eie reg.

Meubels wat ‘vertrekke’ skep

Toe ek besef dat my ou ‘deco’ kassies presies dieselfde wydte as die pilare is, het ek dadelik geweet dat ek die regte skuif gemaak het. En hulle verdeel die leef-area van die kombuis sonder om die lang siglyne te belemmer. Hulle is ook almal op wiele.

Staalrakke gekontrasteer met natuurlike elemente

Hierdie is die basis van die hele huis: Die industriële gemeng en in kontras met die natuurlike.

Besoek gerus ettiennehanekom.com om nog van Ettiene se werk te sien. Kry sy kontakbesonderhede hier.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Dekorgeskenke vir Kersfees
error: Content is protected !!