As jy iemand is wat gereeld op die skaal klim, was jy dalk al dikwels gefrustreerd om jou gewig gedurig te sien wissel terwyl jy voel jy eetpatrone is onveranderd, of as jy aktief probeer gewig verloor of gesonder eet. Deur Liezel Engelbrecht, geregistreerde dieetkundige
13/01/2022
Water, en hoe dit jou gewig beïnvloed
Water is egter verantwoordelik vir ongeveer 55-65% van ’n vrou se gewig. Hier is ’n paar faktore wat die hoeveelheid water wat jy terughou, en dus ook jou gewig, van dag tot dag kan beïnvloed:
1. Sout
Hoe meer natrium (die hoofbestanddeel in sout) wat jy inneem, hoe meer geneig is jy om water terug te hou. Natrium is welbekend dat dit tot waterretensie kan lei. Dit is een van die redes hoekom hoë soutinname ook vermy moet word onder mense met hoë bloeddruk, omdat die verhoogde watervolume bloeddruk kan beïnvloed.
2. Kosvolume
Kos word in vloeibare vorm omgeskakel in ons verteringsproses sodat dit deur die liggaam kan beweeg en voedingstowwe opgeneem kan word. Dit kan sowat 1 kg van jou gewig uitmaak, afhangend van hoeveel jy geëet het en die tipe kos wat jy eet . (Sekere kostipes neem langer neem om deur die kolon te beweeg).

As jy dus groot maaltyd gehad het, kan jy dalk meer weeg op die skaal. Dit kan egter nie nie direk gekorreleer word met jou gewig nie. Een kilogram vet is gelykstaande aan ongeveer 29 000 kJ, so dis bykans onmoontlik om dit in ’n een groot ete (of selfs een dag) in te neem!
3. Afvalprodukte
Uriene en ontlasting kan saam ook ongeveer 1 kg van jou gewig uitmaak. Dis dus altyd ’n goeie idee om te weeg as jou blaas leeg is en ná jy ‘n stoelgang gehad het.
4. Sweet
Hoeveel jy sweet, hang af van baie dinge, soos jou metaboliese spoed (wat hoër is as jy meer spiere het), hoe warm dit is, hoeveel jy oefen, jou geslag en stresvlakke. Jou gewig kan met ’n hele paar kilogramme wissel afhangend van die faktore.

5. Jou siklus
Dit is normaal om water terug te hou tydens jou mensturale siklus omdat geslagshormone (progesteroon en estrogeen) jou waterhomeostase beïnvloed. ’n Verandering van 0,5 – 1,5 kg is nie vreemd tydens PMS nie, en jy behoort weer na jou gewone gewig terug te keer as jy by jou normale eetpatroon hou.
6. Dehidrasie
Wanneer jou liggaam se slim sensors voel jy neem nie genoeg water in nie, stuur dit ’n boodskap na ’n ander hormoon, vasopressin, wat met jou niere kommunikeer om dan minder water uit te skei. Dit kan lei tot waterretensie.
7. Jou eetpatroon
’n Hoë inname van koolhidraatryke kosse kan jou watergewig beïnvloed. Een gram koolhidrate benodig ongeveer 3 g water om as glikogeen (jou liggaam se energiereserwes) gestoor te word.
Baie mense dink egter verkeerdelik dat ’n baie lae koolhidraat dieet jou help om vet te verloor, omdat die skaal se naald sak, terwyl dit dikwels net watergewig is wat afgeskei word soos die glikogeenreserwes opgebruik word en minder dan gestoor word.
Vetmassa en spiermassa
Onthou dat wat jy op die skaal sien ’n kombinasie is van vetmassa, spiermassa en minerale is.
Vetmassa
Vetmassa is waarna meeste mense verwys as hulle sê hulle wil gewig verloor. Te veel vetselle, veral rondom die organe (genoem viserale vet), is gevaarlik en verhoog ons risiko op metaboliese siektes. Dis dus nie ’n slegte idee om van daardie tipe vetgewig te wil ontslae raak as dit oortollig is nie.
Spiermassa
Spiermassa is egter die tipe ‘gewig’ wat ons wil behou, maar ongelukkig dikwels verloor as kitsdiete gevolg word. Een kilogram spiere is egter baie meer kompak as een kilogram vet, omdat spierweefsel baie digter is, en spierweefsel is ook baie meer metabolies aktief is (verbruik dus meer energie) as vetmassa.
As jy ‘n nuwe oefenprogram aanpak en meer spiere bou kan jy dalk selfs swaarder weeg op die skaal as gevolg van die ekstra spiermassa (‘n goeie ding!), al raak jy in sentimeters dalk kleiner soos jy meer vet verbrand.
So hoewel gewig, onder die regte omstadighede, as ‘n maatstaf kan dien om ons te help om by ons gesondheidsdoelwitte te hou, moet ons onthou dit is net een van vele. Dit moet boonop reg geïnterpreteer word, en deel van ’n holistiese prentjie uitmaak wat ook onder meer jou spiermassa, energievlakke, slaapkwaliteit, glukosevlakke, bloeddruk en cholesterolvlakke en aktwiteitsvlakke in ag neem.

- Liezel Engelbrecht is ’n geregistreerde dieetkundige van Kaapstad. Kontak haar by liezel@liezelthedietitian.com vir ’n afspraak.
- Besoek www.adsa.org.za vir ’n dieetkundige in jou area.
- Vrywaring: Hierdie hulpbron is slegs vir opvoedkundige doeleindes en kan nie ’n individuele assessering of behandeling deur jou dokter of dieetkundige vervang nie