Elke jaar sien ons uit na Sparrow Society se mooiste grimeersakkie wat jy gratis saam met uitgesoekte Elizabeth Arden produkte kry. Nie alleen is die sakkies mooi nie, maar die storie daaragter, werkskepping vir minderbevooregte vroue in Suid-Afrika, is selfs nog mooier. Deur Suzanne Kotzé
Vir jare lank is die grimeersakkie waarna ek (en vele ander skoonheidredakteurs en -bloggers) eerste gryp een van die Sparrow Society sakkies wat ons al so deur die jare bymekaar gemaak het. Toe ons onlangs die geleentheid kry om ’n Elizabeth Arden-funksie by te woon, waar ons uiteindelik die wonderlike vroue van die Sparrow Society kon ontmoet, begin ons juis hieroor gesels.
Elizabeth Arden en die Sparrow Society
Vir die afgelope agt jaar het Elizabeth Arden ’n vennootskap met die Kaapse Sparrow Society, waar jy een keer per jaar (nou beskikbaar tot 9 Augustus terwyl voorraad hou!) ’n gratis beperkte uitgawe grimeersakkie kry as jy R1 750 of meer aan enige twee produkte (een moet ’n velsorgproduk wees) spandeer by uitgesoekte Elizabeth Arden toonbanke. (Slegs een sakkie per klant, en dit sluit ander geskenkstelle en items op promosie uit).


“Ons is so bly om aan te hou om hierdie wonderlike organisasie te ondersteun,” sê Ashley Fernandes, bemarkingsbestuurder vir Elizabeth Arden Suid-Afrika. “As ’n handelsmerk wat deur ’n inspirerende vroulike entrepeneur gestig is, is ons trots om ’n beteknisvolle impak op vroue se lewens te maak deur hulle pad na ekonomiese stabiliteit te ondersteun deur ons verhouding met Sparrow Society.”
Meer oor die Sparrow Society
Die Sparrow Society, wat in die hartjie van Wynbeg, Kaapstad geleë is, is sakvervaardigers wat vroue bemagtig. Baie van hierdie vroue is slagoffers van geweld teen vroue of mensehandel. Meer as 200 vroue wat van die huis af werk (om die sakke te maak) is al deur die Sparrow Society ondersteun.
Verlede jaar alleen is 95 nuwe vroue aangemoedig om tuis-gebaseerde naaldwerkbesighede te begin. Nege van hierdie vroue is oorlewendes van mensehandel en is deur die Sparrow Society opgelei om weer te kan werk.

“Geslagsgeweld is ’n realiteit vir vele vroue in Suid-Afrika. Dit is bewys dat vroue wat hulself finansieël kan onderhou, minder weerloos is teen misbruik en uitbuiting.

Deur ekonomiese geleenthede te skep vir vroue, gee ons die mag terug aan vroue om hulself en hulle families te onderhou en te ondersteun.
Kate Brim-Senekal, stigter van Sparrow Society
En as jy soos ons gewonder hoekom juis die swaeltjie vir die naam, vertel Kate verder: “’n Swaeltjie is klein en dalk onbeduidend, maar ’n swerm swaeltjies, waar elkeen sy deel doen, is soveel sterker.
Internasionale ondersteuning
Aanvanklik het Sparrow Society net sakkies gemaak vir Elizabeth Arden Suid-Afrika, maar vandag word die trots Suid-Afrikaanse sakkies ook aan Elizabeth Arden se wêreldwye mark verskaf.
“Voor Covid het ons seker so 60 000 eenhede gemaak per week, en toe gedurende Covid kontak Elizabeth Arden Internasionaal ons om te hoor of ons vir hulle 300 000 sakkies kan maak. Ons het ja gesê, sonder om te weet presies waarvoor ons ons inlaat. Maar dit het wonderlik uitgewerk, want daar was soveel naaldwerksters wat toe net hul werk in fabrieke verloor het, en desperaat was om van die huis af te kon werk, vertel Teresa Snyman van The Sparrow Society.
“Iets soos ’n grimeersakkie lyk dalk ook op die oog af onbeduidend, maar dit is ongelooflik watter verskil dit in hierdie vroue se lewens maak.”