Sorg en skoonmaak van jou haargereedskap

Wanneer laas (indien ooit) het jy jou haargereedskap skoongemaak? Die meeste van ons laat ons haarysters, krultange en haardroërs hard werk, maar dink nie daaraan dat hare, olie en haarprodukte agterbly op die gereedskap nie. Om dit reg skoon te maak, is nie net higiënies nie, maar help ook dat dit langer hou. Deur Suzanne Kotzé

Skoonmaak van jou haardroër

Haardroërs trek lug  in deur ’n filter aan die agterkant, wat maklik verstop kan raak met stof, pluis en hare. Met ’n geblokte filter sal die lug nie goed vloei nie, wat maak dat jou haardroër nie effektief werk nie, en kan ook veroorsaak dat dit oorverhit. So asof dit voel asof jou haardroër stadiger blaas, of jou hare nie so gou droogword nie, is dit dalk ’n teken dat die filter skoongemaak moet word (voordat dit oorverhit, of erger nog, uitbrand!)

Hoe om jou haardroër skoon te maak

Begin deur jou haardroër uit te prop en te laat afkoel.

  • Verwyder die filterdeksel volgens die vervaardiger se instruksies.
  • Gebruik ’n sagter borsel (soos ’n ou skoon tandeborsel of ’n ferm skoon kwas) of ’n droë lap om die stof saggies weg te borsel of vee.
  • Opsioneel: As die deksel wasbaar is, spoel dit af en laat dit heeltemal droog word voordat jy dit weer terugsit.
  • Sit die filterdeksel terug wanneer dit heeltemal droog is.
  • Gebruik ’n klam lappie om die buitekant van jou haardroër skoon te vryf. Moenie van jou haardroërs se aanhegsels vergeet nie!

Hoe om jou haardroër se aanhegsels skoon te maak

  1. Verwyder die aanhegsel en week dit vir ’n paar minute in warm seperige water.
  2. Gebruik ’n sagte lap, spons of ou tandeborsel om stof, pluis en produkopbou te verwyder.
  3. Spoel die aanhegsels onder skoon lopende water af.
  4. Laat die aanhegsel heeltemal lugdroog word voordat jy dit weer aan jou haardroër heg. Moet nooit ‘n klam bykomstigheid aan ’n elektriese toestel heg nie.
  5. Bêre aanhegsels in ‘n laai, mandjie of sakkie om stofopbou en skade te voorkom.

Elektriese haardroërborsels

Daar is deesdae al hoe meer elektriese haardroërborsels beskikbaar. Ek moes op die harde manier leer dat hierdie ook gereelde skoonmaak nodig het, toe my Dyson Airwrap se rooi liggie begin flikker en na ’n paar keer net ophou werk het. Teen daardie prys, het ek natuurlik amper ’n paniekaanval gekry dat dit so vinnig kan breek. Eers nadat ek dit ingeneem het Dyson toe (gelukkig nog onder waarborg) het hulle vir my verduidelik hoe belangrik gereelde skoonmaak is. Warmlugborsels, droogblaasborsels en roterende stileringsborsels kombineer hitte en lugvloei, wat gereelde skoonmaak noodsaaklik maak vir prestasie en higiëne.

1. Trek die prop uit

en laat dit heeltemal afkoel,

2. Verwyder hare

Gebruik jou vingers of pluiskam om enige hare wat om die borsel se hare gedraai is, versigtig te verwyder. Sny hardnekkige vasgekoekte stringe met ’n klein skêrtjie los, indien nodig, en wees versigtig om nie die hare te beskadig nie.

3. Vir nie-verwyderbare borselkoppe:

Meng ’n klein bietjie sjampoe (’n druppel of twee) met warm water en maak ’n sagte lappie nat hiermee, en draai oortollige water uit sodat die lappie net klam is. Vee die hare van die borsel en plastiekloop hiermee af.

Gebruik ’n oorstokkie of sagte tandeborsel om tussen die hare en rondom lugopeninge skoon te maak.

4. As jou borsel verwyderbare koppe het:

Was dit in warm water met ’n paar druppels sjampoe in. 

Gebruik ’n sagte borsel om tussen hare en plastiekdeeltjies skoon te maak.

Spoel deeglik af onder lopende water en laat hulle heeltemal lugdroog word voordat jy hulle weer terugsit.

5. Maak die filter skoon met ’n borseltjie

Maak gereeld die fiterskoon met ‘n sagte borseltjie. Sommige elektriese borsels (soos Dyson) het ‘n filterborsletjie by. Was die filterbedeksel in water (maak seker jy kan dit doen volgens die vervaardiger se instruksies!)

Gebruik ‘n sagte borsel of tandeborsel as jy nie so borseltjie het nie.

6. Vee die handvatsel en koord met ’n klam lappie af.

Gebruik ‘n effens klam lap om die handvatsel en koord skoon te maak. Vermy om vog naby knoppies, skakelaars of elektriese verbindings te kry. As dit steeds taai en vuil is gebruik bietjie chirurgiese alkohol om dit liggies skoon te vee.

Maak jou krultange en haarysters só skoon

Haarprodukte soos hittebeskermende sproei, haarsproei, serums en olies kan agterbly op die plate van haartange en ysters. Dit kan maak dat jou haaryster of krultang nie so goed werk nie, en dat hierdie opbou van produkte na jou skoon hare oorgedra word. Gereelde skoonmaak help jou gereedskap om eweredig te verhit en dit in ’n goeie toestand te hou.

1. Prop uit en laat afkoel.

2. Vee oppervlakte af met ’n sagte mikrovesellap wat klam gemaak is met warm water.

3. Verwyder hardnekkige vuilheid/taaiheid met ’n watte en ’n bietjie chirurgiese alkohol. Vryf die taai dele todat dit gladder voel.

Onthou moet nooit enige vloeistof direk op jou krultang of haaryster gooi nie, en maak seker jou lap/watte is klam en nie nat nie.

4.  Vee die handvatsel, knoppies en buitenste dele af met ’n klam lappie. Vermy dat vog enige elektriese openinge binnedring.

5. Gebruik ’n skoon, droë lap om enige oorblywende vog te verwyder voordat jy jou gereedskap bêre.

Stoorwenke

  • Laat gereedskap altyd heeltemal afkoel voordat jy dit wegpak.
  • Bêre dit op ‘n droë plek weg van vog en direkte sonlig.
  • Hittebestande stoorsakkies of ’n laai vir jou haargereedskap help om skrape en toevallige skade te voorkom.
  • Vermy dit om koorde styf om gereedskap te draai. Dit plaas spanning op die interne bedrading en kan lei tot rafeling of elektriese foute. Draai eerder die koord losweg op en maak dit met ‘n sagte kabelbinder vas.
  • As koorde verstrengel raak, draai dit versigtig los eerder as om dit met geweld te trek. Inspekteer koorde gereeld vir tekens van slytasie en vervang beskadigde gereedskap onmiddellik.
  • Trek die prop uit wanneer jy dit nie gebruik nie. 

Ons spandeer baie geld aan haargereedskap. Neem een keer per maand ’n halfuur en maak alles behoorlik skoon. So kan jy jou belegging langer laat hou.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
PRP, meer as net ’n bloederige gesigbehandeling en 9 redes waarom ons gaande is daaroor
error: Content is protected !!