Op 18 September 2023 het ek vyfuur die oggend opgestaan, myself met pienk seep gewas en is ek die teater ingestoot vir ope-hart chirurgie. Daardie dag is vir altyd in my geheue ingekerf – die dag waarop my lewe totaal verander het. Soos die sny deur my borsbeen, voel dit soms asof my lewe ook in twee dele verdeel kan word. Deur Nicola Pretorius. Foto’s: Nikki Meyer.
Die tydperk voor my ope-hart chirurgie
Reeds ’n jaar voor die operasie het ek geweet iets is nie reg nie. Ek het twee keer amper inmekaargesak – een keer ná ek ’n kort opdraande vinnig opgestap het, en ’n ander keer toe ek in die reën na my kar gehardloop het. My naels was bros, my hart het teen ’n vinnig pas geklop met die geringste inspanning. Die algemene praktisyn het dit afgemaak as lae yster en lae bloeddruk. Eers nadat ek `n long X-straal aangevra het, het die dokter gesien daar is groot fout.
Hulle het ’n massiewe miksoom – ’n skaars, nie-kankeragtige gewas – in die linker atrium van my hart ontdek. Omdat dit so gevaarlik was, moes dit dringend verwyder word. Intussen het die miksoom ook my brein beïnvloed, wat meer as een mini-beroerte en klein aneurismes veroorsaak het.
Toe alles ingesink het, het ek gevoel ek verloor alles: my loopbaan, my inkomste, my onafhanklikheid. Ek moes selfs my studies vir ’n jaar opskort.
Twee jaar later; dankbaarheid
Tog sien ek, twee jaar later, dié ervaring as een van die grootste geskenke van my lewe.

Dit het my die geskenk van duidelikheid en kwesbaarheid gegee, en nuwe betekenis aan dankbaarheid gebring.
Wanneer jy die dood in die oë kyk, word sekere dinge ongelooflik duidelik. Soms verloor ek daardie helderheid weer … maar dan neem ek my gedagtes terug na die hospitaalbed: alleen in ’n wit hospitaaljurk, gestroop van alles.
En ek vra myself: Wat was tóé werklik belangrik?
En die antwoord was, my kinders. Selfs nou maak dit my hartseer wanneer ek terugdink – nie die pyn nie, maar die wete dat ek hulle dalk sou agterlaat. Om eenvoudig net te kan leef is ’n voorreg.
Kwesbaarheid
Kwesbaarheid was nog altyd moeilik vir my. Ek moes totaal oorgee. Ek kon nie bestuur nie. Ek kon nie my arms hoog oplig nie. Ek kon nie my klein seuntjie optel of my dogtertjie styf vashou nie. Ek kon nie eens die gewone dinge self doen nie. Ek moes vra vir hulp. En hoewel ek aanvanklik nie ’n keuse gehad het nie, het dit my uiteindelik onverwags bevry.
Dankbaarheid
Dan is daar die ongelooflike dankbaarheid. Daar was soveel engele langs die pad – te veel om almal te noem. Ek onthou die swart manlike verpleegster wat my die eerste nag, terwyl ek nog deurmekaar was, met geduld en deernis sop gevoer het. Die suster wat anderpad gekyk het toe my kinders (toe net drie en ses) voor die operasie kom kuier het. My man – seker die grootste getuie van hierdie tyd – wat my aangetrek, my rug gevryf en vir my ingestaan het. My vriendin wat by my was toe die dokter die prosedure verduidelik het.
Oorgawe
’n Groot besef vir my was dat ek, snaaks genoeg, nie bang was nie. Ek het gedink ek sou paniekerig wees, veral toe beurtkrag elke nou en dan inskop en ek geweet het ek gaan aan `n hart-longmasjien gekoppel word. Maar ek moes net oorgee. Ek het besef daar is nie ’n maklike pad uit nie; ek moes vorentoe kyk.
Verhoudings
Verhoudings – dit is seker maar alles. In daardie tyd het ek die waarde van gemeenskap intens beleef. Vriende en bure het kos aangedra; ek het vir ses weke nie kos gemaak nie. Een buurvrou het my rondgekarwei soos my eie Uber. Party verhoudings het getaan, ander is herstel – omdat ek eerliker en meer kwesbaar was. My ego het plek gemaak vir my siel se stem.
Dit het my gemaak wie ek vandag is – littekens en al.
Sou ek dié hoofstuk uit my lewe kon uitvee? Nee. Ek sou die seer graag vir my gesin gespaar het, maar dit het my gemaak wie ek vandag is – littekens en al. Dit het my ’n diepe empatie vir ander gegee en my geleer wat regtig saak maak. Dit dra so baie by in my werk as lewensafrigter.

Vandag leef ek in diepe dankbaarheid. Ek is verwonderd oor alles wat die menslike liggaam kan verduur. En ek het nie alles verloor nie – ek het só baie bygekry.
En ek is hier om my kinders te sien grootword. Wat ’n voorreg!





