Strepe as modepatroon het deur die jare ontwikkel vanaf die bekende vlootblou en wit Breton streep (afkomstig van vissermanne in die suide van Frankryk) tot vandag waar strepe vertikaal, horisontaal en diagonaal gedra kan word. En dan praat ons nie eers van al die verskillende skakerings nie! Ons was baie opgewonde toe ons leer dat strepe een van vanjaar se grootste modepatrone is. Hier is ’n paar wenke om horisontale, vertikale en diagonale strepe reg te stileer. Deur Justine Kroes
16/02/2024
Strepe in 2024
Strepe is een van hierdie jaar se grootste modepatrone (saam met grafiese blomme en polkakolle om maar ’n paar te noem). Dit is duidelik dat die meeste ontwerpers vanjaar vertikale en diagonale lyne gekies het vir ontwerpe. Daar is baie blou en wit en swart en wit strepe maar ook baie gekleurde strepe wat ’n prettige element gee aan ’n streep voorkoms vir 2024.
Strepe as ’n slim stileertruuk
Strepe as ’n modepatroon het die vermoë om die oog te mislei en die figuur te vlei mits jy dit reg stileer. Strepe kan jou verleng, langer en slanker laat vertoon, maar die tenoorgestelde is ook waar. Strepe kan ook aandag vestig op gedeeltes wat jy eerder wil verbloem.
Horisontale lyne
Stylkenner Trinny Woodall verduidelik in een van haar ‘Closet Confessions videos’; “As jou skouers nouer as jou heupe is, kan jy gerus aan jou bolyf horisontale strepe dra, dit laat jou skouers groter vertoon wat in ruil jou liggaamsproporsies balanseer.”
Vermy ’n horisontale lyn op die grootste gedeelte van jou liggaam (dalk jou heupe of boude). Trinny sê “Wees versigtig om horisontale strepe oor die wydste deel van jou lyf te dra, steek eerder jou top, trui of bloes rondom jou middel in as wat daardie strepe oor jou heupe en boude lê. Onthou met horisontale strepe beweeg jou oë van links na regs (nie op en af soos met vertikale lyne nie).
Trinny sê as jy ’n uurglasfiguur het, kan jy horisontale strepe dra, dit sal jou figuur vlei en beklemtoon.
Vertikale lyne
Om langer te lyk is vertikale strepe jou vriend, verduidelik Trinny, vertikale strepe en lyne laat jou oë op en af beweeg, wat jou oë truuk om daardie verslankende en verlengende effek te gee.
Diagonale lyne
Modekenners meen dat ’n diagonale lyn jou oë truuk, maar op ’n goeie manier. Diagonale (skuins) strepe skep die illusie van beweging – dit trek die oë van een element op ’n uitrusting na ’n ander element. Diagonale strepe kan gebruik word om die oë skuins op of af te laat beweeg afhangend van die rigting van die skuinsstreep. Byvoorbeeld as jy aandag van groter gedeeltes wil verskuif na slanker gedeeltes op jou lyf.
Strepe by strepe of ander patrone
Ja natuurlik kan jy strepe meng met strepe of ander patrone, solank dieselfde kleur sinergie in albei is – dit beteken een of meer skakerings wat dieselfde of soortgelyk is.
Ons neem graag inspirasie van ontwerper Olivia Rubin in Londen se streepontwerpe en hoe sy verskillende streep kledingstukke saam stileer.
Strepe hoef nie in klassieke skakerings te wees nie
Trinny verduidelik dat strepe nie soos die klassieke breton in swart en wit of vlootblou en wit gedra hoef te word nie. Strepe in kleurvolle skakerings is ’n prettige manier om hierdie trend aan te pak.
Lees ook: Polkakol mode, terug en hier om te bly