Vanjaar is daar ’n klomp patrone, insluitend strepe en grafiese blompatrone, wat die modewêreld oorneem, maar een patroon wat die kol(lig) behoorlik steel is die klassieke polkakol. Modeliefhebbers sal saamstem; as ons maar net ’n rand gehad het vir elke keer wat polkakolle weer terugkeer as ’n mode-trend was ons nou al eienaars van ons eie polkakol modehuis!
Vanjaar is die polkakol kleiner en meer klassiek as vorige jare se groot en dramatiese polkakolle. In hierdie artikel deel ons wenke om polkakolle reg te dra asook ons gunsteling polkakol mode-items wat nou in die winkels en aanlyn beskikbaar is: Deur Justine Kroes
09/02/2024
2024 se Polkakol lyk so:
Hierdie jaar is die polkakol aansienlik kleiner as vorige jare se groot en dramatiese kolle. Op internasionale mode loopplanke by Elie Saab, Vivetta, Dolce & Gabbana, Balmain, Stella McCartney, & Carolina Herrera was dit duidelik dat die polkakolle vanjaar kleiner is, in moderne snitte met romantiese afwerking soos valle (ruffles) en 3dimensionele blomme.

Vorige seisoene se kleurvolle polkakolle is verruil vir die klassieke swart en wit, vlootblou of meer neutrale polkakol kleurpalette.
Dra jou polkakolle so:
Hou die silhoeët in gedagte:
Om te vermy dat jy soos ’n tagtigs popster lyk, is dit belangrik om polkakol items te kies wat meer modern is. Ons praat hier van regaf gesnyde rokke en rompe en bloese sonder groot dramatiese skouerkussings.
Indien jy wel ’n “vintage” polkakol gunsteling in jou kas wil dra, kombineer hierdie item met ’n meer moderne item, soos byvoorbeeld jou polkakolbloes met ’n moderne regaf denim.
Deursigtige kolle
Vanjaar is “sheer” of eerder deursigtige klere items steeds baie gewild, en so ook deursigtige polkakol mode-uitrustings.


Ons dink natuurlik met die regte onderrok of onderklere kan hierdie tendens sjiek en stylvol lyk.
Polkakolle by ander patrone
Het jy geweet jy kan patrone meng en saam dra, ja, jou polkakol kan by ’n streep- of blompatroon gedra word. Mits jy seker maak dat daar kleurskakerings in elke patroon is wat ooreenstem met die ander item.

Dra verskillende polkakolle saam
Polkakol patrone bymekaar? Beslis! Die goue reël is natuurlik dat die polkakolle verskillend genoeg moet lyk – dit hoef nie ’n reuse verskil te wees nie maar die een kledingstuk se polkakolpatroon moet effens groter of kleiner as die ander kledingstuk se polkakol patroon wees. Skakerings moet natuurlik ook ooreenstem.

Polkakol bykomstighede

As jy voel kop tot toon polkakol is dalk nie in lyn met jou stylpersoonlikheid nie, probeer dalk ’n kleiner polkakol modebykomstigheid – ’n maklike manier om hierdie klassieke en tydlose trend aan te pak.
Hier is ’n paar van ons polkakol gunstelinge:

Lees ook: Vanjaar se grootste modetrends

















