Beskadig jou hare dalk terwyl jy slaap? Hier is wat jy moet en nie moet doen nie. Trikoloog Elma Titus gee raad. Deur Suzanne Kotzé
Slaaphare; moets en moenies
Moet: borsel jou hare

Dit is stimulerend om jou hare met ’n goeie kwaliteit borsel te borsel voordat jy gaan slaap. Deur dit te doen, word goeie bloedvloei na die wortels gestuur. Die bloed bring voeding na jou haarwortels. So help jy verseker dat jou hare buigsaam en sonder knope en koeke is as jy wakker word. Soos jy jou hare borsel, word sebum (die natuurlike olie wat deur die talgkliere afgeskei word) deur die haarlengte versprei. Dit help jou hare nie net om blink en gesond te lyk nie, maar maak dit ook sterker.
Moenie: honderd hale gee nie
Ons oumas het maar te graag gesê borsel jou hare honderd keer, dit is beslis nie die beste raad nie. Borsel liggies tot alle koeke uit is, en jou hare glad en sag voel.
Opsioneel: voedende haarproduk voor slaaptyd
Daar is geen probleem om ’n voedende produk in die nag aan te wend nie, veral as jou hare droog of bros voel of na ’n chemiese behandeling. Onthou ook as jy opknapper aanwend moet jy dit weg van die kopvel aanwend; ’n voedende olie kan op die kopvel aangewend word. Moenie dit oordoen nie. Bedek jou hare goed, verkieslik met ‘n sy- of satynkappie terwyl jy slaap.


Moenie: dit oordoen nie.
Elma beveel nie oornag haarprodukte vir fyn hare aan nie. “Moet dit ook nie oordoen nie; ’n klein bietjie olie, serum, tonikum of opknapper sal genoeg wees.”
Moet: verhoed wrywing
Mense met lang hare verkies gewoonlik om hul hare op die pynappelmetode (alles losweg bo-op die kop) vas te bind. Korter hare kan jy bloot ’n draai teen die kopvel gee om die hare glad te hou. Sodat daar nie enige wrywing tussen die hare is nie. Jy kan ook ’n sy of satynkappie gebruik om bo-oor jou hare te sit (om wrywing te voorkom). Sommige dames verkies ’n sykous oor hul hare om dit saam en styf te hou.

Moenie: met los hare op ’n katoenkussingsloop slaap nie
Los hare op ’n katoenkussingsloop veroorsaak wrywing tussen jou hare en die katoen. Jou hare koek en knoop dan makliker.
Moet: Sy of satyn scrunchie
Gebruik sy of satyn scrunchies om jou hare mee vas te bind terwyl jy slaap. Dit is die beste aangesien dit sag en buigsaam is.


Moenie: plastiek- of katoenrekkies gebruik nie
Plastiek of katoenrekkies veroorsaak friksie, wat kan bydra dat jou hare breek.
Moet: slaap met droë hare
Maak jou hare droog voordat jy gaan slaap.
Moenie: met nat hare slaap nie
Dit is ongesond om met nat hare te slaap. Hare is ook elasties (rekbaar) as dit nat is. Dit strek en rek en kan maklik breek. As jou hare nat is, is die skag van jou hare oop, en jou hare is in ’n broos toestand. Verder kan swamprobleme begin soos afskilfering, skilfer en ekseem begin. Dit kan ook ’n slegte reuk op die kopvel veroorsaak. Jy kan selfs wakker word met ’n toe neus, sinus of hoofpyn as jy met nat hare slaap.
Moet: satyn/sy kussingsloop
’n Satyn- of sykussing word sterk aanbeveel. Daar is geen wrywing op die hare nie. Die materiaal is natuurlik en asemhaalbaar.


Moenie: katoen kussingslaap
Katoen kan wrywing teen die hare en kopvel veroorsaak soos jy beweeg terwyl jy slaap. Dit kan selfs mikro-skeurtjies op die kopvel veroorsaak veroorsaak en die haarlyn irriteer.
Aangesien katoen hoogs absorberend is, kan dit ook natuurlike olie van jou kopvel absorbeer en jou kopvel uitdroog.
Elma Titus is ’n gekwalifiseerde trikoloog wat haar opleiding in Australië gedoen het. Sy het meer as 35 jaar ondervinding en is ook ’n gekwalifiseerde haarkapper. Sy gee ook klas en is gebaseer in Durbanville, Kaapstad. Besoek trichology.co.za





