Met hierdie stoor-en organiseerwenke vir jou grimering sal jy nie net meer georganiseerd voel nie, jy kan selfs ’n paar minute wen deur minder te soek. En dalk sommer soos ’n wafferse grimeerdiva voel terwyl jy grimeer. Deur Suzanne Kotzé
Hergebruik dit wat jy reeds het

Jy sal verbaas wees hoeveel goed wat dalk kaste vol staan en stof vergader, jy eerder kan gebruik om jou grimering te organiseer.
Leë kershouers

Gooi ’n druppel opwasseep, ’n titsel koue water en bietjie kookwater in jou kersglas om ontslae te raak van daardie laaste sentimeter kers wat net in die kas staan. Was en spoel uit. en siedaar jy het ’n grimeerkwassie-houer. Jy kan ook glase (daai een glas wat oor is van ’n stel en jy nie meer gebruik nie) of selfs ou konfytflessies hiervoor gebruik.
Sjampanjeglase


Span gerus een of twee glase wat oor is van ’n stel of erfstukke is, in om lipstiffies of grimering in uit te stal. Die elkedag lipstiffies wat jy vinnig binne bereik wil hou.
Bakkies en houertjies



Daardie glasbakkie wat jy nooit gebruik nie of ouma se silwer bakkie wat jy geen idee het wat om mee te doen nie, is perfek om ’n tikkie ouwêreldse glans aan ’n ou spieëltafel te gee.
Flesse
Gebruik die glasflesse wat jy gekoop het toe jy in jou bakfase of koskas-organiseer fase was en nou leeg staan.


Elkedag grimering binne bereik

Gebruik ’n bordjie of plat houertjie om jou elkedag grimering apart te hou. Jou onderlaag, blosser, maskara, oogpotlood en oogskadu. So hoef jy nie rond te krap tussen jou ander grimering nie. Jy sal verbaas wees hoeveel tyd hierdie spaar.
Deursigtige akrielhouers

As jy ’n meer minmalistiese styl het, is akrielhouers prakties. Dit lyk netjies (mits jy gereeld jou grimering ook netjie terugpak en afvee) en maak dit maklik om alles te sien.
Georganiseerde grimeerlaai

Gebruik houertjies om jou grimeerlaai georganiseerd te hou. Hierdie tipe houertjies is by verskeie winkels beskikbaar. Hierdie is aanvanklik gekoop vir skryfbehoeftes, en stoor nou grimering.
’n Skinkbord of opdienbord vir mooi goed.

’n Marmerbord, skinkbord of selfs ’n opdienbord kan gebruik word om mooi en praktiese goed byderhand te hou. En dit ‘anker’ ook jou spieëltafel.
’n ‘Handsakgoed’ bak


Hierdie is seker die oulikste wenk wat ek so ’n rukkie gelede raakgesien het, en vandat ek dit doen, is daar nie meer ’n gesoek na my kaartbeurse, oorfone, strokies en alles wat in tientalle verskillende handsakke wegkruip nie. Gooi al jou handsakgoed in ’n bak, elke keer voordat jy jou handsak bêre. Dit forseer jou ook sommer om die gemors weg te gooi.
Regpak en wegpak
Terwyl jy nou besig is om te organiseer, was sommer jou grimeerkwassies ook, vee jou grimeerhouertjies met ’n klam lappie af en gooi die grimering wat jy 10 jaar laas gebruik het uit. As grimering snaak lyk of ruik, gooi dit uit.
(Ek glo nie in grimering net vir ’n paar maande hou voordat dit ‘af’ is nie, sommige van my grimering het ek al vir jare en dit is nog reg. As jou grimeerkwassies skoon is, en jy nie met vingers grimering aansmeer nie, behoort jou grimering nie na net ’n paar maande uitgegooi ‘hoef’ te word nie.)









