Wat kan jy doen om jou hare te beskerm terwyl jy slaap? Word jy wakker met hare wat gekoek is of pla jou hare jou terwyl jy slaap? Lees gerus hier. Deur Suzanne Kotzé
30/07/2023
Noudat my eie hare langer is (wel lank vir my; ’n lob) moes ek navorsing doen oor wat die beste manier is om jou hare te beskerm terwyl jy slaap, en deel graag wat ek geleer het.
1. Moet nooit met nat hare gaan slaap nie
My ouma het altyd gesê: “Jy gaan met ’n stink neus wakker word as jy met nat hare slaap.” Hierdie, of dat jy ’n verkoue gaan kry, is nou beslis nie die geval nie, maar daar kan wel swamme op jou kopvel groei as jy met nat hare gaan slaap. ’n Nat, klam en warm omgewing is die ideale broeigrond vir swamme om te groei. Van hierdie swamme kan skilfers of dermatitis, ’n jeukerige kopvel of hare wat uitval as gevolg hê. Nat hare is ook meer geneig om te breek en te koek.
2. Borsel jou hare voodat jy gaan slaap
Borsel of kam jou hare sagkens voordat jy gaan slaap. Dit help nie net om van koeke ontslae te raak nie, maar dit versprei ook van die olie op jou kopvel na jou hare. (As jy baie fyn hare het wat geneig is om olierig te raak, vermy dit om jou kopvel te veel te kam, aangesien dit juis jou hare olierig kan laat lyk.)
Ons bly nou maar een maal reuse Tangle Teezer aanhangers, veral as dit by koeke uitkam kom.
3. Oorweeg ’n masker of sproei om jou hare te behandel
Hierdie moet liefs vermy word as jy baie fyn hare het wat geneig is om vinnig olierig te word, tensy jy van plan is om jou hare die volgende oggend te was. Vir droë hare of krulle werk hierdie egter baie goed. As jy baie produk insit, bind liefs ’n doek om jou kop om jou beddegoed te beskerm.
4. Bind jou lang hare vas
Behalwe dat lang hare kan koek as jy slaap, kan dit ook breek, veral as jy baie rondrol. Maak ’n lae bolla of ’n los vlegsel laag in jou nek. ’n Losserige hoë bolla werk ook goed. Moet net nie jou hare te styf vasmaak nie. Kies ’n sagte sy of satyn rekkie wat nie jou hare sal breek nie. Ons is gaande oor Best Scrunchies (R360 vir ’n stel van vier beskikbaar by ourbestregards.com). Die ‘scunchies’ is amper soos ’n ‘scrunchie’ haarrekkie in terme van grootte. En dit is van 100% sy gemaak.
5. Oorweeg die kous-metode
Of ’n satyn or sy oorgetreke mikrovesel band (dit is ook bekend as ’n ‘snake’). As jy op TikTok is sal jy beslis weet waarvan ek paat. Daar is verskeie op die mark. Ek het Heatless Hair Curling Kit van Warmhugs gekoop op Takealot. Jy plaas ’n lang band (amper soos ’n kamerjas band wat met satyn oorgetrek is) oor die voorkant van jou kop (soos ’n ‘alice band’). Verdeel jou hare in die middel in twee. En draai die twee verskillende dele oor die dele van die bande wat voor langs jou gesig afhang. As jy dit die volgende oggend uithaal, is jou hare gegolf.
(Hierdie werk veral goed op langer hare, my lob is effens te kort hiervoor en ek draai te veel, so myne gaan uit. Dit werk egter goed met lang hare).
6. Slaap op sy
’n Sy kussingsloop voorkom wrywing tussen jou hare en die kussingsloop. Dit help nie net dat jou hare minder koek en breek nie, maar dit is ook goed vir jou vel. As jy hierdie roete gaan, is dit die moeite werd om jou geld op 100% sy te spandeer eerder as op satyn, wat ook sintetiese vesels bevat. Vermy veral ‘sateen’ materiaal, wat dalk soos sy of satyn voel, maar ’n tipe katoen is, en nie dieselfde voordele vir jou hare of vel het nie.
The Silk Lady 100% Silk pillowcase R449-R880