2026 se naeltrends het ons opgewonde vir ons volgende nael-afspraak! Van sagte minimalistiese afwerkings tot prettige patrone en hoëglans teksture.
Dit is duidelik dat naels wat goed versorg en ultra gesond lyk die nommer een naeltrend is, en daarna volg patrone, skakerings en naelkuns.
Of jy nou hou van ’n skoon, natuurlike voorkoms of subtiele naelkuns of meer is meer patrone, hier is die top naeltrends van die oomblik. Ons deel graag 11 mani-idees, hou die artikel naby vir inspirasie vir jou volgende naelafspraak. Deur Justine Kroes
11 Mani-idees:
Mikro Franse Manikuur (micro French)

’n Moderne weergawe van die klassieke Franse manikuur, Die “barely there French” verwys na ’n Franse manikuur met ’n ekstra dun, superfyn lyntjie aan die bopunt van jou naels.

Perfek vir kort naels en ideaal vir diegene wat hou van ’n subtiele, stille luuksheid/ quiet luxury-voorkoms met ’n tydlose gevoel. Nie net in wit nie maar enige kleur van jou keuse!

Sagte skakerings van wit

Nadat Pantone se 2026 kleur van die die jaar, Cloud Dancer, aangekondig is, is verskillende skakerings van wit naels ’n duidelik gewilde keuse. Minimalistiese naels bly ook ’n groot trend, daarom is netjiese, goed gemanikuurde wit naellak die kleurkeuse op almal se naels.

Of jy nou ’n “wit wit”, of ’n sagte, amper deursigtige en wasige wit skakering verkies, Cloud Dancer is in.
Daar is ’n wit, afwit, gryswit skakering daar buite vir elke veltipe, en die bonus, hierdie wit kan dien as die perfekte basislaag vir glinster of pêrelagtige bo-lagies.

Valentynsdag naels
Wat is ’n Februarie naeltrend artikel sonder ’n paar Valentynsdag naelkunsidees.

’n Kersierooi nael bly darem maar altyd klassiek, en lyk vir ons veral modern op kort naels.

As jy van naelkuns hou, kyk net hoe mooi is hierdie hartjie naelkunsontwerpe, van negatiewe spasie naels tot minimalistiese hartjies en kleur oral oor.



Rooskwartsnaels (Rose Quartz Nails)
’n Sagte, amper deursigtige pienk naelskakering met ’n effense melkerige effek wat die nael soos ’n rooskwartssteen laat lyk. Die effek is sag en nie te helder nie, dit voel vroulik en lyk romanties, dalk die perfekte Valentynsdagnaels vir jou!

Pienk jellienaels
Deursigte, glansende kleure met ’n sappige, glas/jellie effek. Hoewel hierdie naellak tendens nie splinternuut is nie, bly dit ’n gunsteling vir 2026.

Ultra glansende, gesonde naels is die fokus en deursigtige skakerings in pienk en koraal skep dadelik daardie gewenste jellie effek. Beslis ’n gewilde keuse wanneer ons g’n idee het vir ons eie naels nie.

Sheer smoke sagte grys naels

Dink aan die melkerige wit naellak trend met ’n tikkie ligte grys daarby. “Sheer smoke” verwys na die deursigtige liggrys naellak, waar jy steeds jou eie nael onder die kleur kan sien. Met net so ’n tikkie grys by, so asof jy regtig deur rookwolke kyk.


Modern, vars en skoon, ons kan nie wag om dié een te probeer nie.
Polkakol-naels

In die kol met polkakol-naels vir 2026. Vanjaar se polkakol-naels is minder retro en meer modern.


In plaas van perfekte, eweredige kolletjies sien ons fyn mikro-kolletjies, onreëlmatige plasing en slim gebruik van negatiewe spasie. Hou by klassieke wit en swart of kies kleurvolle skakerings wat mekaar komplementeer.
Gestreepte-naels

Streepnaels bring ’n grafiese gevoel.


Gestreepte naels bring ’n grafiese, modebewuste gevoel na 2026 se top naeltrends. Van ultrafyn strepe tot deftige kleurblokstrepe. Vertikale strepe bly die gewildste, terwyl horisontale of asimmetriese lyne ook hul oomblik geniet.

En as jy braaf genoeg is, kan jy beide polkakolle en strepe op jou vingerpunte kombineer:


Glasnaels
Met glas-naels is die fokus op ultra-hoë glans, deurskynende lae en ligrefleksie wat soos gladde glas op jou vingerpunte lyk. Dink aan “chroom” naels se subtiele kleiner sussie. Glasnaels het steeds die effek van chrome naels maar met baie minder chroom en is meer glansend en deursigtig.
Die voorkoms word geskep met deursigtige jelformules en subtiele glinsterende chroompoeiers. Glasnael skakerings sluit melkwit, sagte pienk, ys-lila en sjampanje in.
Sjokoladebruin

Dit lyk asof bruin hier is om te bly, veral bruine met ’n effense sjokolade gevoel en tikkie warmer ondertoon. Bruin bly ’n neutrale naelskakering wat sjiek en gesofistikeerd lyk.


’n Gunsteling op korter naels. Ons weet sommer hierdie skakering gaan weer pronk op almal se winter vingerpunte.
Buierige bloue

Iewers tussen donkergrys en pastelblou lê daar ’n blou skakering wat op al wat ’n bekende is se vingerpunte pronk. Stormy blue verwys na ’n sagte blou met ’n grys ondertoon.

Hierdie blou skakering gaan goed werk vir beide koeler wintermaande en warmer somerweer.





