Die toewyding van joernaalhou voel dalk oorweldigend en na nog iets op jou om-te-doen-lysie, maar jy hoef dit nie noodwendig elke dag te doen nie. Boonop is daar verskeie tipes joernaalhou tegnieke en wetenskaplike bewyse wat wys hoe goed dit vir ons geestesgesondheid is. Deur Suzanne Kotzé
Die voordele van joernaalhou
- Laat jou minder gespanne voel (Studie deur die Universiteit van Cambridge)
- Help om jou meer veerkragtig te maak nadat jy trauma ondervind het. (Studie deur Duke Universiteit)
- Dit kan jou immuniteit verbeter
- Dit kan wondheling in ouer pasiënte versnel (Expressive writing and wound healing in older adults: a randomized controlled trial)
- Jy het ’n beter kans om doelwitte te bereik as jy dit neerskryf (so wys ’n studie gedoen deur die Dominican Universiteit, Kalifornië)
- “Dit kan jou beter laat slaap (veral as jy dit wat jou pla neerskryf voordat jy slaap of as jy rondrol en nie kan slaap nie) sê Kaapse psigiater, dr. Laura Comrie.
Stylvolvriendin, sielkundige Gerda Kriel, is ’n groot voorstander van joernaalhou. Sy deel hoe sy joernaal hou.
’n Begin van die jaar ‘woord’
Ek is ’n groot voorstander daarvan om die jaar te begin met ’n woord. Dit is seker ’n tipe ‘mindcasting’. Ek speel musiek, blaai deur tydskrifte en skep dan beelde in my geestesoog waarvoor ek hoop in die nuwe jaar. Ek maak ’n tipe ‘collage’ hiervan (en ook nog woorde en poesië) en plak dit heelvoor in my joernaal. ’n Deel van my joernaalhouproses is dan om te reflekteer en na te dink oor waar ek nou is. My woord van die jaar is ‘eenvoud’, en so een keer per week probeer ek dink hoe kom ek terug by daardie woord. Ek dink na daaroor of ek eenvoud beoefen, en of daar situasies is waar ek dalk die lewe vir myself moeiliker gemaak het.

Mind-dump wanneer jy tyd het
Wanneer ek tyd het, hou ek daarvan om my pen op te tel en wat ek noem ’n ‘mind-dump’ te doen. Watter gedagtes ookal by my opkom, skryf ek neer. Veral die herhalende gedagtes wat so by ’n mens opkom. Die oomblik wat jy dit neerskryf kom dit uit jou kop uit. So wanneer ek tyd het, neem ek so ’n halfuur en skryf dit neer.
Daaglikse joernaalhou
Ek verwerk dinge verbaal en ek hou daarvan om die dag tot dag dingetjies neer te skryf. Vir my help dit baie om woorde te gee aan my emosies. Ek skryf ook graag my drome neer.
Pen en papier
Ek glo in die waarde daarvan om met pen/potlood op papier te skryf.
Ek sê altyd vir my kliënte: “Joernaalhou is een van die mees heelbrein goed wat jy kan doen om dinge te prosesseer. Jy prosesseer dinge verbaal, jou frontale en prefrontale lobbe is ingeskakel en aan, jy prosesseer dit deur fisies die beweging van skryf uit te voer. En dit is waarom ek so glo aan pen en papier.
Daar is ’n sensoriese ervaring; die gevoel van die pen of potlood wat oor die papier girtsgarts. Jou hele brein raak betrokke by die proses en juis hierom is joernaalhou so ongelooflik om dinge op ’n multi-dimensionele manier te verwerk.”
Sielkundige, Gerda Kriel
Wenke vir joernaalhou
1. Kry die tegniek wat vir jou werk
Onthou daar is geen regte of verkeerde manier om joernaal te hou nie. Kry die tipe tegniek wat vir jou werk.
Visuele joernale
Sommige mense is meer visueel, en verkies dalk eerder prentjies, foto’s of sketse te gebruik.


Daaglikse joernaalhou
Waar jy jou gedagtes en gebeure daagliks neerskryf. Soos Gerda verduidelik het, is dit veral voordelig om te prosesseer. Jy kan ook slaappatrone, oefening en vele meer hierin neerskyf.
Puntsgewyse joernaalhou (Bullet journaling)
Hierdie is waar jy jou gedagte en doelwitte puntsgewys neerskryf. Jy kan dit meng met prentjies en sketses.

PS As jy graag sketsies wil insluit, maar nie juis weet hoe om te skets nie, loer gerus hier vir oulike idees en tutorials.
Dankbaarheidsjoernaal

Die naam sê dit alles; jy dink na oor dit waarvoor jy dankbaar was op die dag; al is dit hoe klein of groot en skryf dit neer.
Gewoonte joernaal
Hierdie neem meestal ook die vorm van ‘n bullet-joernaal aan. En jy kan enige gewoontes, van oefening tot slaap en wat jy eet neerskryf.
Om wat jy eet neer te skryf kan help om gesonde eetgewoontes te vestig. “Al doen jy dit net vir ’n paar dae, dit help jou om na jou huidige roetine en kosinname te kyk. Hou ’n dagboek vir twee of drie dae, en skryf neer wat jy eet en wanneer jy dit eet. Let dan op wanneer jy geneig is om te eet, en of daar ’n spesifieke rede is: is jy verveeld, gespanne, moeg, opgewonde? Of is jy net doodhonger omdat jy nie ’n behoorlike ontbyt of middagete gehad het nie? As die rede is dat jy nie ’n ontbyt of middagete gehad het wat gebalanseerd is nie, kan jy dadelik daarvan begin werk maak.” Dieetkundige Liezel Engelbrecht
2. Wees eerlik en sonder vooroordeel met jouself
Jy hoef nie voor te gee of enige iemand te probeer beïndruk nie. Hoe eerliker jy met jouself is, hoe beter.
3. Hou jou joernaal byderhand
Verkies jy om saans voor bedtyd in jou joernaal te skryf, hou jou pen en joernaal in jou bedkassie-laaitjie. Of kies ’n kleiner grootte joernaal vir jou handsak as jy verkies om te skryf waneer die begeerte jou pak.
4. Maak dit deel van jou roetine
Hetsy dit elke aand is, of dalk vroeg-oggend op ’n Maandag voor die week begin, probeer om joernaalhou ’n roetine te maak.
5. Moenie skuldig voel nie
As jy ’n dag of week of maand nie skryf nie, is dit ook oukei. Moenie ophou daarmee as jy dit dalk vir ’n ruk lank nie gedoen het en nou skuldig voel nie.
6. Wees so kreatief of onkreatief as wat jy wil
’n Joernaal kan ’n wonderlike plek wees om uitdrukking te gee aan jou kreatiwiteit. Dink terug aan jou skooljare en al die verskillende maniere waarop jy geskryf het of ge-‘doodle’ het terwyl jy verveeld was in die klas.

Tog is nie almal visueel nie en kan dit dalk oorweldigend voel om prentjies en sketsies in te sluit as jy jouself as nie van nature kreatief beskou nie. (Jy sal dalk verbaas of te vind jy geniet dit sonder jou eie en ander mense se vooroordele!) So as jy net wil skryf, skryf net. Doen dit waarmee jy gemaklik voel. Daar is geen reg en verkeerd in jou joernaal nie.