Ja ons weet handsakke wat oor jou lyf kruis is gemaklik en so handig, maar die 90’s onder die arm skouerhandsakke is nou weer in die mode, en ons is hier vir die trend! Ons dink dit lyk sommer net sjiek en afgerond om ’n stylvolle skouerhandsak onder jou arm vas te knyp. Deur Justine Kroes
Skouerhandsakke-style
1. Die slonserige styl
Dié handsakstyl lyk sommer so gemaklik en word beskryf deur woorde soos “slouchy” of “hobo”. Hierdie handsakke lyk amper soos ’n pofferige wolkie waarop jy jou arm kan laat rus! Boonop lyk dit asof ’n mens sommer baie in die handsak kan inpas.
2. Die kleurvolle nylonstyl handsakkie
Prada het hierdie nylon skouerhandsakkies in reënboogkleure vrygestel en die styl en ontwerp het behoorlik vlamgevat en is nou in byna elke winkel te vind. Ons hou van die styl omdat dit ’n meer sakpas-alternatief is as byvoorbeeld ’n leerhandsak. Kyk uit vir ’n goedkoper opsie as jy nie honderde rande op hierdie seisoenale trend wil spandeer nie, veral as jy ’n helder kleur of bont ontwerp gaan kies. Die handsakke is die perfekte bykomstigheid vir kleurblok of net om daardie tikkie kleur by jou uitrusting te voeg.
3. Die saddle styl handsak
Geïnspireer deur die bekende Dior-ontwerp, is hierdie handsakvorm amper oral om ons te sien. En vir die van ons wat nie peperduur handelsmerke kan bekostig nie, is hierdie twee saddle-handsakke van Mr Price op ons gunstelinge lysie, pienk vir die pastel-liefhebber en swart vir die sjiek minimalis.
4. Kettingstyl-handsak
Die kettingstyl is al ’n hele ruk op handsakkeu te sien, maar die meer bonkige ketting styl is beslis ’n gewilde keuse hierdie seisoen. Die oorspronklike ontwerp deur Bottega Veneta is op die arms van bekendes en modelle by die afgelope ruk se internasionale modeweke gesien. Beslis ’n gunsteling vir ons omdat hierdie deftige handsak met bonkige kettings dadelik enige uitrusting tot stylvol sal verhef .
Kyk net hoe mooi is dié verskillende opsies:
Lees ook: Winterhoede wil ons dra