Ons modekopies

Met ’n nuwe seisoen is daar altyd ’n paar nuwe modekopies: hier is wat ons die afgelope ruk gekoop het. Deur Suzanne Kotzé en Justine Kroes

Suzanne se modekopies

Ek dra my klere gewoonlik vir baie jare (en selfs dekades) so ek gee nie om om te betaal vir goeie kwaliteit of iets wat by my lyf en styl pas nie. Aan die ander kant is prys ook nie altyd ’n aanduiding van kwaliteit nie. Ek skaf goedkoop en duur items aan wat vir my mooi is.

Wat ek gekoop het

Bruin jas met kunspelskraag (wat kan afhaal)

Hierdie jas het ’n klassieke snit, en ek is mal oor die kunspelskraag wat kan afhaal. Kunspels is natuurlik nou weer hoogmode, maar volgende winter dalk nie, en dan dra ek dit daarsonder.

Mango Coat Lips (R3 799, Superbalist)

Sigaretpyp swart broek

Die liggewig wolmengsel broek is warm en ook lig. Ek is mal oor die snit, en dit lyk ook ‘n bietjie soos ‘n mansbroek. Ek hou van die effens korter pyp wat óf mooi sokkies wys saam met loafers óf vleiend is as enkels wys saam met hakke.

Country Road Cigarette Ankle Pants (R1 999, Woolworths)

Swart V-nek trui

Ek sukkel altyd om V-nekke te kry, en met ’n groter borsmaat is dit ’n moet. Die een se V is net reg, nie te hoog of laag nie, en dit is boonop in swart. Beslis ’n kledingstuk wat ek oor en oor gaan dra. (As my begroting groter was, het ek dit sommer in rooi en room ook gekry!)

Country Road Lightweight Merino V-Neck Neck Knit (R1 299, Woolworths)

Ligblou kraaghemp

Ligblou saam met bruin is op die oomblik een van my gunsteling kleurkombinasies en ek het hierdie hemp gekoop om saam met van my bruin broeke en rompe te dra. Ek sukkel soms met kraaghemde wat te styf oor die bors sit en te los om my middel, maar hierdie snit is vaartbelyn. Ek is mal oor die strepe en die effense volume by die kraag. Dit lyk ewe mooi saam met my jeans ook.

Ayana Aria Classic Shirt (R399, Ayana)

Tekstuur “pelsbaadjie”

Ek het hierdie baadjie gekoop omdat ek iets nodig gehad het om by ’n kortmou aandrok te dra, en wou nie baie geld uitgee op iets wat ek dalk nie weer gaan dra nie. Maar toe is dit so lekker dat ek dit nie weer wil uittrek nie. Dit voel asof jy ’n kombersie aanhet! Ek het dit nou al soveel keer gedra, van saam met jeans tot oor my joga-klere.

Jet Women’s Cream Crop Fur Jacket (R499, Bash)

Swart potloodstyl-romp

Hierdie is seker een van die vleiendste rompe wat ek al ooit gedra het! Dit sit net op die regte plek in my middel, en die voue steek my maag weg.

Marga Skirt Formal (R1 095, Lira & Fynn)

Justine se modekopies

Hierdie winter het ek besluit om aandag te gee aan basiese stapel-items wat my winterklerekas benodig, veral in die moet-hê kleur van die seisoen, donkerbruin!

Wat ek onlangs gekoop het:

Donkerbruin enkelstewels

Ek het ’n hele klompie (omtrent 4 pare) verskillende swart enkelstewels, maar niks in donkerbruin nie. Ek was op soek na leer/kunsleer stewels in donkerbruin met ’n gepunte stewel om my bene te verleng. Hierdie hakkie is nie te hoog nie en pas so mooi by die ander bruin items in my winterklerekas.

Bruin handsak

Daar is heelwat neutrale, swart en helder skakerings in my handsakversameling maar geen donkerbruin nie. Ek hou van die krokodilvel effek op die handsak (dit trend tans) en die handsak is groot genoeg om al my belangrike items in te pas. Die beste gedeelte is dat die bandjie lank genoeg is sodat ek steeds die handsak gekruis oor my lyf kan dra.

Geruite patroon baadjie

Ek kon eenvoudig nie verby hierdie baadjie stap nie, die interessante silhoeët het dadelik my hart gesteel, die dramatiese moue en vasbind gordel om die middel is ontwerp details wat ek nie kon miskyk nie. Die fyn ruitpatroon is ’n bonus!

Die moet-hê baadjie van die seisoen

Ek het lank gesoek na die regte “funnel neck” baadjie en die “viral” Zara baadjie was op die ou einde die soektog wenner.

My gunsteling deel van hierdie aankoop is hoe ek hierdie baadjie op soveel verskeie manier kan stileer. Die baadjie is beskikbaar in beide bruin en swart.

Die nuwe styl swart broek

My vorige gunsteling swart broek is al so uitgewas, dit was tyd vir ’n nuwe aankoop. Die barrel styl broeke is steeds groot nuus en bly ’n gunsteling op my mode-lysie. Die materiaal is lieflik sag en die broek sit so gemaklik!

Donkerbruin soldatestyl jas

Ek het ’n paar ligter beige en bruin trench-styl jasse in my kas en ’n donkerbruin trench was vir ‘n ruk op my mode wenslysie. Hierdie jas is lieflik lig en die perfekte bruin, nie te donker nie en het ook nie ’n rooibruin ondertoon nie. Plus hy is lank genoeg! Ek weet sommer al ek gaan die jas vir lang jare nog dra, veral met daardie tussenin weer.

Polkakol bloes

Hoewel ek graag net die nodige mode-items vir my winterklerekas wou aanskaf koop ek ook af en toe trend items om my kas aan te vul. Ek maak ook altyd seker ek verkoop ’n paar klere items op Yaga (klik hier) om te verseker my klerekas bly in “homeostase” en bars nie uit sy nate nie!

Daar was eenvoudig net iets omtrent hierdie polkakol bloes, die serpdetail wat rondom die nek bind, skouerkussings vir ’n sterk silhoeët en die lap om my hals wat so sag drapeer, die wye moue val so sag en vroulik.

Dit is nie tans aanlyn beskikbaar nie, maar wel in die winkels.

H&M Polkadot Blouse (R529)

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Die nuwe room, ons bekostigbare kettingwinkelkopies
error: Content is protected !!