Ons het onlangs MAC Cosmetics se aanlynmeesterklas bygewoon waar bekende grimeerkunstenaars die grimeertrends vir die volgende seisoen deel. Vanaf al die grimeerkunstenaars by die MAC Cosmetics herfs/winter 2022/23 meesterklas is dit duidelik – lippe is terug! Helder, mat, en selfs glansende yslippe sal groter as ooit wees hierdie komende seisoen. Deur Justine Kroes
27/05/2022
Die kragtige lip
“Lippe is terug” so sê Cat Quinn die wêreldwye uitvoerende direkteur van “trend” by MAC Cosmetics. “Nadat ons vir die afgelope paar jaar ons lippe weggesteek het is dit nou weer tyd om lippe as fokuspunt van jou grimeervoorkoms te hê,” verduidelik Cat. “Hierdie seisoen is lipskakerings en vorme wat geskep word meer kreatief as ooit van te vore”.

Volgens haar navorsing en trendanalises van tik tok na modeloopplanke is skakerings van helder pienk, superswart (ja swart!), rooi, oranje, pers en wynrooi die lipskakerings wat volop gaan wees die komende seisoen. Ou gunstelinge soos MAC se bekende Candy Yum Yum pienk sal weer oral te sien wees.
“Jy hoef nie noodwendig ’n power pink suit te koop nie, ’n power pink lipkleur is al wat jy nodig het!”
Cat Quinn
Cat verduidelik “hierdie helder, uitstaan lippe moet gekombineer word met ’n skoon, gesonde, glansende en goed gehidreerde gelaat as ’n perfekte pasmaat vir die trend.” Dink aan min of byna geen grimering om jou lipkleur behoorlik te laat uitstaan.

Grimeerkunstenaar vir MAC Cosmetics in Duitsland, Luisa Sporkenbach, stem saam met Cat – “Lippe wat ‘n stelling maak is beslis die antwoord”. “Ons het die pienk en rooi uitstaan lippe op Valentino en Sacai se modeloopplanke gesien”.

Yslippe (Icy Lips)
Die volgende groot tendens vir lippe (ná kleur) is glansende (glossy) lippe. Die trend verwys na glansende lippe, so asof jy ’n blokkie ys oor jou lipkleur gesmeer het – daardie glinsterende, glansende effek. En word ook beskryf as die “melted ice popsicle look”.

’n Maklike trend om aan te pak – wend ’n deursigtige lipglans eenvoudig bo-oor jou lipstiffie aan.
Luisa verduidelik vir die somer sal vitamien C skakerings soos helder oranje en appelkoos in wees en vir die winter sal die donkerder bessie en wynrooi skakerings oorheers. Albei met baie lipglans bo-oor vir daardie glansend en glinsterende ysige voorkoms.
90s frost lippe

“Die 90’s is nou oral”, verduidelik Cat Quinn, “van dun wenkbroue tot donker lipomlyner en selfs low rise denims! Die frosty lipstiffie van die 90’s was byna onvermydelik”. Frost lippe met duidelike lipomlyner is tans volop op tik tok. Gunsteling MAC skakerings hier is die Spanish Fly en Angel lipkleure.
“Wat die trend vandag anders en effens meer modern maak is die fokus op vel. In die 2000’s het ons hierdie frosted lipkleur by ’n gesig vol poeier gesien, vandag is die vel meer natuurlik. Dink aan helder skakerings van die frosted lip by ’n gesig wat spreek van verhelderaar en glansende grimering. Dink aan die TV-reeks Euphoria” sê Cat Quinn.