seilvakansie met SCICsailing
seilvakansie met SCICsailing

Sielsalige seilvakansie met Scicsailing

Deur net my oë toe te maak en terug te dink aan ons seilvakansie met Scicsailing in Turkye, voel dit asof liggaam en siel weer in ’n ontspanne beswyming ingaan.  Om te swem in die mooiste turkoois water, rond te lê en te lees op die dek met ’n klokkie wat lui vir etes terwyl ons by die mooiste, ongerepte landskappe verbyvaar en interessante landuitstappies doen,  is beslis ’n droomvakansie, en een wat nie onbekostigbaar duur is vir Suid-Afrikaners nie. Deur Suzanne Kotzé

So het ons oggende sewe dae lank begin op ons seilvakansie met Scicsailing

Soggens wanneer die houtseiljag (genoem ’n kaag of ‘ketch’ in Engels) se enjin begin dreun, strompel jy nog half deur die slaap na die dek. Slaapbeneweld val jy op die banke se sagte dekkussings neer en staar droomverlore voor jou uit. Jy mompel dalk ‘hallo’ aan jou mede-passasiers, lees ’n paar bladsye en staar weer na die landskap en water wat verbygly.

scicsailing seil Suzanne

“Coffee?”, vra een van die bemannningslede. “Yes, please.” Na ’n paar teue en nog lang staarsessies let jy eers op dat almal hierdie doodtevrede uitdrukkings op hulle gesigte het. Namate die kafeïen begin inskop, begin die geselsies meer word.

So ’n rukkie later lui ’n klokkie en jy sien die tafel op die dek is gedek en gepak met die heerlikste ontbyt. Van jogurt tot olywe, die rooiste, rooi tamaties, eiers en vele meer.

Na ontbyt wys die kaptein op ’n kaart waarheen ons daardie dag gaan seil/reis en ook watter uitstappies ons gaan doen.

Die res van die dag het die van ons wat wou, geswem in die kristalhelder turkoois water, of geroei of ge-SUP (‘stand-up paddling’).

Foto: Guus van Lingen

Daarna is dit neerplons op sagte sonbeddens, lees, G&T drink, indommel vir lomerige middagslapies voordat die klokkie weer lui vir middagete, of later tee en koekies.

Foto: Guus van Lingen

Tussendeur is daar daguitstappies na die Turkse platteland wat jy ook kan onderneem. Dit is wonderlik om te sien hoe die plattelandse Turkse mense leef. Laatmiddae en vroeg-aand is bordspeletjies soos Backgammon, kaart of skaak gespeel (vir die wat wou) of heerlik gesels.

Die hoe, wat en waar van ons seilvakansie met Scicsailing

Die vertrekpunt: Bodrum, Turkye

Foto: Guus van Lingen

Turkse visum

Turkye is geweldig gewild onder Suid-Afrikaners en ’n bydraende faktor is beslis hoe maklik en goedkoop dit is om ’n visum te kry. Suid-Afrikaners hoef net ’n e-visa te hê. Jy vul dit aanlyn in, betaal sowat $39 en kry dit binne ’n paar dae. Besoek turkey-e-visa.com

Vlugte

Bodrum vanuit die vliegtuig

Ons het met Qatar gevlieg, maar Turkish Air is beslis die beter keuse vir Suid-Afrikaners aangesien dit direk vanaf Kaapstad en Johannesburg vlieg. (Met Turkish Air mag jy ook veel meer bagasie hê! 40 kg teenoor die 23 kg van Qatar.) In Istanbul neem jy nog ’n kort en goedkoop vlug tot in Bodrum.  By Bodrum lughawe word jy ingewag deur ’n bestuurder van Scicsailing wat jou tot by die hawe neem. Die rit duur so 45 minute.

Scicsailing

Scicsailing (uitgespreek ‘sjiek sailing’), al vanaf 1983 aan die gang, is van die enigste seiljagte wat ook seil (mits die wind dit toelaat). Ons het een dag geseil, en met die tweede probeerslag het die wind nie saamgespeel nie.

Waar vaar jy?

Ons het aan die Suid-weskus van Turkye gevaar en by Bodrum begin. Daar is veertien verskillende roetes, wat ook die Griekse Eilande insluit en ook Marmaris en Göcek as beginpunte insluit.

Hoeveel mense vaar op ’n slag?

Jy kan kies of jy saam met ander passasiers wil vaar of jy kan die hele seiljag bespreek vir ’n groep familie en vriende (ons gaan dit beslis ook saam met ons kinders en vriende doen!). Dit is egter ook glo gewild onder paartjies, vriende en mense wat kies om alleen vakansie te hou, want jy ontmoet soveel mense aan boord. (Ons groep joernaliste het sommer vinnig vriende geword!)

Daar is verskillende tipes seiljagte die gemak (comfort) seiljag (waarop ons gevaar het) en die luukse seiljag. Ons seiljag kon 16 passasiers huisves. Elke kajuit het sy eie badkamer. Ons kamers was klein, maar gemaklik. Jy bring die meeste van jou tyd op die dek deur en nie in jou kamer nie, deur. Die boot is groot genoeg dat jy ’n stil hoekie kan vind vir ‘alleentyd’ as jy nie lus is vir mense nie.

Wat van etes en die bemanning

Ons kaptein
en ons wonderlike sjef!

Elke seiljag het ’n kaptein, sjef en een of twee seemanne. Die kos is hemels, geurig en vars. Ons het selfs ’n mini-kookklas by ons sjef ook gekry! Alles word opgeruim en jy kan net aansit vir etes.

Hoe lank is so ’n seilvakansie?

Dit begin altyd op ’n Saterdag en kan een, twee of drie weke wees. Ons het vir een week gebly.

Wanneer is die beste tyd om te gaan?

Einde Maart tot begin November is die seisoen. Ons het begin Mei gevaar en die weer was heerlik. Effens koel in die oggend en aand en heerlik warm deur die dag. Dit reën selde in Turkye. Julie is glo warmer en ons vriendin Candice Kannemeyer van In my Bag het vertel hoe hulle tydens ’n vriende-en-familie-vakansie gedurende Julie sommer almal op die sonmatrasse buite op die dek geslaap het.

Wat van swem en watersport?

Foto: Guus van Lingen

Daar is oorgenoeg tyd vir swem wanneer die jag anker deur die dag. Die water is glashelder en ’n heerlike temperatuur. Snorkelgereedskap is beskikbaar. Daar is egter nie veel see-lewe nie.

Foto: Guus van Lingen
Die ‘Stand Up Paddling’ bord het gesorg vir baie pret. Foto: Guus van Lingen

Elke gemakseiljag het ’n kano en ‘SUP’-bord en die luukse jag het ook ’n ‘jetski’ en waterski.

Hoeveel kos dit?

Om as deel van ’n groep met passasiers te gaan, kos vanaf € 951 to € 1 141 (tans so R16 000- R19 185). Dit sluit ontbyt, middagete, vyf aandetes, versnaperinge, drankies en alkohol in.

As jy die seiljag eksklusief vir jou groep bespreek kos dit so € 3875 tot € 8890 (R65 055 – R150 930 vir jou groep vir die gemakseiljag, afhangend van die grootte van die jag) vir die seiljag en bemanning. Plus € 396 (R6648) per persoon vir al die etes en drankies. (Kinders onder twaalf betaal halfprys vir etes en drankies).

Besoek gerus scicsailing.eu vir meer inligting  

’n Kort dagboek van ons seilvakansie met Scicsailing

Dag een

Foto: Guus van Lingen

Arriveer op Bodrum lughawe, word ingewag deur ’n bestuurder wat ons na die hawe in Bodrum geneem het. Word aan boord verwelkom. Stort, pak uit en geniet drankies op die dek. Die eerste aand geniet ons ete aan boord en verken Bodrum. Die eerste aand slaap jy aan boord in die hawe terwyl jy vir almal wag om te arriveer.

Dag twee

Sesuur word ons wakker van die enjin en word weer aan die slaap gesus terwyl die seiljag uitvaar. Agtuur lui die klokkie vir ontbyt. Ons doen ons eerste land-uitstappie en besoek die ruïne van Knidos (uitgespreek kuh-nee-dos).

Foto: Guus van Lingen

Die eens vooruitstrewende hawedorp dateer uit 400 V.C. Heerlike middagete aan boord, gevolg deur ’n ongelooflike swem in die turkoois water.

Die Suidweskus van Turkye waar ons vaar is nie verniet bekend as die “Turkooiskus” nie!

Die Turkooiskus se water
Die water is selfs meer turkoois as my turkoois bo-stuk!

Sommig van ons swem en snorkel terwyl ander (tot groot vermaak) probeer roei op die kano.

Na swem lê almal rond, speel speletjies of lees terwyl drankies aangedra word. Ons geniet aandete op die seiljag.

Dag drie

Luilekker dag van swem, op die dek lê en sonbaai en bordspeletjies op die seiljag gevolg deur die allermooiste piekniek op die strand. (O ja en ek het teen ‘n reuse see-anemoon vasgeswem wat my beloon het met ‘n paar stekels in die voet. Gelukkig het ons bekwame kaptein my voet eers in olyf-olie geweek en daarna in asyn, met ‘n verband om en tinfoelie.) Ons het eers ’n koppie uitgestap (ek in dik stapsokkies met my tinfoelie-voet, met geen skoene aan nie) om die heel mooiste sonsondergang te sien en toe ’n heerlike piekniek geniet.

Foto: Guus van Lingen
Foto: Guus van Lingen
Foto: Guus van Lingen
piekniek scicsailing
Foto: Guus van Lingen

Die bemanning het alles vanaf klein tafeltjies tot kussings en liggies aangery asook warm kos! Wat ’n wonderlike bederf en hoogtepunt.

Dag vier

Nadat ons seiljag die oggend reeds begin vaar het, geniet ons ontbyt en besoek Sedir Eiland, ook bekend as Cleopatra eiland.

Marc Anthony het die strand vir Cleopatra geskenk gegee en sy het gereeld hier geswem. Foto: Guus van Lingen

So genoem omdat daar ’n pragtige strandgedeelte is wat Marc Anthony glo aan Cleopatra geskenk gegee het en waar sy graag geswem het. Die water is ongelooflik mooi.  Die spierwit sand is glo afkomstig van Noord-Afrika en is afgespêr sodat jy nie daarop mag loop nie. ’n Kort staptog verder is die antieke oorblyfsels van die stad Cedrae.

Terug op die seiljag geniet ons middagete en dan is die wind reg vir seil! Laatmiddag gee ons oulike sjef vir ons ’n kookklas oor hoe om die Turkse Gozleme (platbrood gevul met feta en kruie) te maak. En ons kan nie glo hoe hy uit so ’n klein kombuis sulke smullekker maaltye kan voorsit nie! Ons bring die aand in die kein hawe by Karacasögüt naby Marmaris deur terwyl die bemanning vullis aflaai en brandstof en water kry. Almal is vry om die klein dorpie te verken en ’n ete by van die restaurante te eet.

Dag vyf

Nadat ons rondgevaar het en ontbyt geëet het, besoek ons die dorp Milas waar ons met ’n bussie na die plaaslike mark geneem word.

Foto: Guus van Lingen

Hier doen die bemanning aankope vir die res van ons etes. As jy kyk na al die heerlike vars groente en vrugte, is dit geen wonder dat ons so lekker eet op die seiljag nie! Ons het mooi Turkse handdoeke en beddegoed ook hier gekoop. Hier (soos in die res van Turkye) is daar ook baie namaaksels van bekende handelsmerke. Koop eerder plaaslike Turkse katoen (wees seker om vir 100% katoen te vra) beddegoed en handdoeke of speserye.  Middag- en aandete op die seiljag.

Dag ses

Ons gaan op ’n Jeep toer op land. Ons verken die Turkse landskap met ’n gids en besoek ’n tradisionele Turkse huis, ’n wynlandgoed (Garova) waar ons ook ’n wynproe doen en ’n olyf-olie fabriek.

Foto: Guus van Lingen
wynproe gadova
Foto: Guus van Lingen

Na ons besoek aan die olyf-olie fabriek, Bekircan, geniet ons middagete by die restaurant onder die bome.

Dag sewe

Nog ’n landuitstappie. Ons lê besoek af by ’n tradisionele matwewery en geniet ’n Tradisionele Turkse ontbyt hier.

Foto: Guus van Lingen

Jy kan ook matte hier koop en dit is fasinerend om te sien hoe die matte met die hand geweef word!

Die res van die dag bring ons deur met swem en ons laaste tydjie op die seiljag. Die bemanning span die seile om te seil, maar die wind speel nie saam nie. Laatmiddag vaar ons terug na Bodrum. Dit voel vreemd om ewe skieilik baie ander bote en mense te sien. Die aand eet ons almal saam by ’n restaurant in Bodrum en slaap vir oulaas in ons kajuit.

Dag agt

Inpak en ontbyt op die seiljag voordat ons vinnig nog deur Bodrum stap voordat ons lughawe toe geneem word.

Wenke vir jou seilvakansie

Pak lig

Ek het geleef in my swembroeke, sarongs en kaftans. ’n Warm baadjie of bostuk vir saans en soggens en ’n gemaklik langbroek.

Hierdie mooi kaftan is van RuffTung

Skoene

Pak een paar skoene wat jy net op die seiljag mag dra. Ek het Fitflop plakkies gedra op die boot en FitFlop FF Vitamin sneakers vir landuitstappies. Los gerus jou hakke tuis!

Ek het my FitFlop Iqushion flipflops aan boort gedra.
My FitFlop Vitamin E01 Sneakers was staatmakers op hierdie vakansie. Dit het baie myle op land bygekry (veral later in Istanboel) en my voete het glad nie seer geword nie.

Bagasie

Hou dit lig. Sakke wat kan opvou of plat neerslaan werk die beste om onder jou bed in die kajuit in te druk. Harde tasse word nie aanbeveel nie.

Sonskerm

Moenie jou sonskerm vergeet nie! Ek is glad nie een vir sonbaai nie, maar hierdie vakansie kon ek nie ophou nie!

Wifi

Daar is wifi op die seiljag maar dit werk nie altyd nie. Jy kan maklik ’n simkaart by die Bodrum lughawe koop. Vir ons was dit egter die ideale tyd om ’n bietjie van ’n skerm ook vakansie te neem.

Istanboel

Ons het na ons seilvakansie Istanboel besoek en aangesien jy daardeur vlieg op pad Bodrum toe, is dit beslis ’n stop werd. As ons weer gaan, sal ons egter begin in Istanboel en met ons seilvakansie eindig. Istanboel was uitputtend en baie raserig na ons seilvakansie.

Ons het as ’n paartjie gegaan en het die meeste van ons groep internasionale joernaliste en fotograaf glad nie geken nie, maar ons is as vriende weg.

Die stilte en omgewing maak dat jy nie net afskakel nie, maar ook bande snoer. Of dit nou is om nuwe vriende te maak, of om familiebande of ou vriendskapbande te bou.

Ons kan nie wag om as ’n groep familie en vriende ook te gaan nie. Geen skermtyd vir die kinders nie, en baie ontspanning in die natuur en met bordspeletjies.

NS Moenie dink jy kan enige plek in Afrikaans skinder nie. Ons het selfs op van die klein eilandjies mense Afrikaans hoor praat en langs Afrikaanse mense op die terugvlug ook gesit.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Ilse-Lee van Niekerk
Aktrise Ilse-Lee van Niekerk se kreatiewe uitlaatkleppe
error: Content is protected !!