Sonlig en swem is nou maar eenmaal deel van ons vakansiekultuur, maar ongelukkig gaan ’n gedehidreerde vel, hare wat soos gras voel en droë hakke ook dikwels hiermee gepaard. Hier is voorkomingswenke en ’n lys produkte wat ons vakansie-staatmakers is. Deur Suzanne Kotzé
Voorkom gedehidreerde vakansievel só
1. Hidreer meer (van binne en buite)
Die onderstaande dra by dat jou vel meer gedehidreerd kan wees gedurende die somervakansie
Kuswind
Vra maar vir ’n visserman of seiljagvaarders; die droë kuswind kan jou vel droog en gedehidreerd maak. Selfs sonsondergangstappies langs die see, of bootry dra by.
Swem
Die in-en-uit die see- of swembadwater dra ook by tot trans-epidermale waterverlies uit die boonste laag van jou vel.
Akohol
Meer alkoholiese drankies gedurende die vakansie dra natuurlik ook by tot verdere dehidrasie.
Sonblootstelling
Selfs net ’n matige sonbrand kan veroorsaak dat jou vel droog voel.
Daarom is dit nodig om van kop tot tone hidrerende produkte te gebruik. En moenie vergeet om ook meer water te drink nie.
2. Stort so vinnig moontlik nadat jy geswem het
Seewater wat op jou vel droog word kan lei tot “swimmers xerosis” waar droë sout in die voue van jou vel vassit. Dit kan begin jeuk, rooi word en kontakdermatitis veroorsaak. (Wenk: smeer ’n sperfunksieroom (barrier cream) of sonskerm aan die dele voordat jy swem, sodat die soutwater nie direk op jou vel kom nie).
Sout en chloorwater beskadig ook jou vel se sperfunksie, wat nie net tot dehidrasie kan lei nie, maar ook moontlike ekseem.
Stort so vinnig moontlik nadat jy geswem het in ’n koue of louwarm stort (warm water kan jou reeds gedehidreerde vel vererger). Smeer room (parfuumvry as jy gebrand het) het aan terwyl jy lyf nog effens klam is.
Wenk: Hou ’n spuitbotteltjie (soos die wat jy vir plante koop) vol water in jou strandsak en spuit jou hare, gesig en dele waar voue is (soos elmboogholtes, agter die knieë ens) met die water af nadat jy geswem het. Sodra jy tuiskom, stort en smeer room van kop tot tone aan.
3. Smeer gereeld voetroom aan

Tydens somervakansies is ons meer geneig om oop sandale of skoene te dra, of sommer net kaalvoet op die strand te loop, wat droë gekraakte en seer gebarste hakke kan veroorsaak. Smeer voetroom aan, en as jy kans sien, slaap so nou en dan met sokkies aan.
Gebruik ’n naelborseltjie om jou voete liggies te skrop saans om te keer dat enige vuiligheid in die barsies vassit. Wees versigtig om te hard met ’n voetvyl te skrop as daar reeds krakies is.
Room, room en nog room.
4. Moenie van jou hare vergeet nie
Die sonlig en swem droog ook jou hare uit (en kan jou kleur ook beïnvloed). Daar is verskeie produkte op die mark wat jou hare hierteen beskerm. As jy egter nie iets byderhand het nie, maak jou hare met kraanwater nat voordat jy swem. Omdat jou hare reeds nat is, sal minder sout of chloorwater jou hare penetreer. Onthou ook om ’n hidrerende masker en inbly-opknapper in te pak. Die inbly-opknapper of masker kan jy ook aanwend voordat jy swem of strand toe gaan.
5. Tref voorsorg om sonskade te voorkom
Kies ligte kleure gemaak uit natuurlike materiaal soos linne. Groot hoede en selfs pille wat sonbrand help voorkom is van ons vakansie-staatmakers.
6. En nasorg is ook belangrik
As jy gebrand het, vermy lang baddens of storte. Hou dit vinnig en louwarm. Smeer dadelik ’n na-son produk aan. Vermy geparfumeerde room en selfs stortjel, aangesien dit jou vel kan irriteer en branderig kan laat voel. Bly binne in ’n koel vertrek en drink baie water.
Staatmakerprodukte vir die somervakansie


















