’n Psigiater wat in eetsteurnisse spesialiseer, deel met ons watter algemene wanopvattings daar is hieroor. En ’n terapeut wat self met ’n eetsteurnis gesukkel het, deel vyf dinge wat sy wens sy geweet het toe haar eetsteurnis begin het. Dalk help hierdie jou om insig te kry as jy of iemand wat jy ken hiermee sukkel. Deur Suzanne Kotzé.
Ses algemene wanopvattings oor eetsteurnisse
Kaapse psigiater Dr. Laura Comrie sien gereeld pasiënte met eetsteurnisse en sy deel die volgende wanopvattings oor eetsteurnisse wat sy gereeld in haar praktyk sien.
1. Sy kan nie ’n eetsteurnis hê nie, want sy is nie maer nie.
Eetsteurnisse gaan nie noodwending oor gewig is nie. Om kos te beperk of om te ooreet (binging) gaan gewoonlik meer oor selfbeheer of selfvertroosting as oor gewig. Daar is gewoonlik ’n dieper sielkundige rede hiervoor. ’n Persoon kan ook soms ooreet en ander kere weer kos beperk.
2. Eetsteurnisse kom slegs by jong tienermeisies voor
Eetsteurnisse kan gedurende enige lewensfase begin, maar dit begin oor die algemeen gedurende die middel-tienerjare. ’n Spanningsvolle gebeurtenis is gewoonlik die voorloper hiervan. Dit kan natuurlik ook veel later begin. Sodra jy egter ’n eetsteurnis het, is dit gewoonlik ’n lewenslange op en af stryd.
3. Daar moet iets medies fout wees, want ek sien haar eet
Mense met eetsteurnisse kan baie skelm wees. Hulle eet dalk een keer per dag voor hulle ouers en raak dan na die tyd weer onstlae van wat ookal hulle geëet het (deur op te gooi of toilet toe te gaan). Of hulle gooi wat ookal in hul kosblikke weg, sodat dit lyk of hulle by die skool geëet het.
4. As haar gewig herstel is, sal dit weer beter gaan
Soos genoem in punt een, het eetsteurnisse ’n sielkundige grondslag. Vanuit ’n gesondheidsperspektief kan ons gewig herstel as die pasiënt ondergewig is, maar die HEEL BELANGRIKSTE is sielkundig. Ons moet uitvind wat die oorsaak van die emosionele probleme is en gesonder maniere kry om dit te hanteer.
5. Mense met eetsteurnisse is ydel
Die meeste mense met eetsteurnisse is geweldig negatief of hiper-krities oor hulle voorkoms of liggaam en sukkel dikwels met selfvertroue.
6. Ek weet nie waar sy hieraan kom nie; niemand van ons sukkel met kosprobleme nie
Kinders is dikwels ’n spieëlbeeld van hul ouers se gedrag. As ons as ouers ’n slegte verhouding met ons lywe of kos het, is dit net natuurlik dat kinders dieselfde doen. Dit lyk dalk baie meer subtiel by jou soos: ‘Ek sny ‘carbs’ uit, of ‘Ek moet nou gaan hardloop, want ek het ’n stuk koek geëet’, maar kinders is baie meer vatbaar as wat ons besef. Wees ekstra versigtig met watter boodskappe jy dalk uitstuur sonder dat jy dit besef.
Besoek mindkind.co.za vir meer inligting
Vyf goed wat ek wens het ek geweet het toe my eetsteurnis begin het.
Elza Blerk, terapeut en eienaar van Therapy Now, deel dat haar eetsteurnis begin het nadat sy vanaf ’n jong ouderdom seksueel gemolesteer is. “Ek het met ooreet en bulimie gesukkel. Ek het ’n grens om my gebou deur kos te gebruik. Ek was so skaam oor wie ek was, en het eet as ’n ontvlugting gebruik.
Kos was ook my manier om my angs minder te maak.
Hoe groter ek geraak het, hoe skamer het ek gevoel, maar dan was daar ook hierdie onderbewustelike idee dat niemand aan my sal wil raak as ek so lyk nie. Hierdie is vyf goed wat ek gewens het ek geweet het toe my eetsteurnis begin het.
1. Deur te eet onderdruk ek my emosies
Kos of eet is ’n manier om my emosies te onderdruk en myself te troos.
2. My eetsteurnis is nie my skuld nie
Ek het nooit die regte gewoontes geleer om myself te reguleer of te troos nie, en dit is hoekom ek na kos gedraaai het.
3. Dit gaan oor hoe ek lyk nie
Dit gaan nie oor hoe ek lyk nie, maar oor hoe ek voel.
4. ’n Nommer op die skaal beteken niks
Die nommer op die skaal sal nooit goed genoeg wees nie en ook nie regtig geluk bring nie.
5. Dit is makliker om gewig aan te spreek as gevoelens
Dit is baie makliker om na my gewig te kyk en die kos wat ek eet as wat dit is om na my gevoelens te kyk en hoekom ek voel, soos ek voel.
Besoek therapynow.co.za vir aanlyn terapie sessies.