Gunsteling hidrerende gesigmasker wat werk!

Ja, die lente is hier maar dit is steeds effens koud en my vel benodig soms ’n SOS-dosis van ekstra hidrasie. Ek is feitlik nooit sonder my gunsteling hidrerende gesigmasker Eau Thermale Avène Soothing Radiance Mask (R265) nie, ek deel graag hoekom dit ’n stapelitem in my (en vele ander skoonheidsliefhebbers) se velsorg- roetine bly. Hier is ook ’n hele paar ander hidrerende gesigmaskers om van te kies. Deur Justine Kroes.

Die Eau Thermale Avène Soothing Radiance Mask (beskikbaar by Clicks, Dis-Chem en Dermastore.co.za) bly eenvoudig ’n moet-hê velsorgproduk in my badkamerkassie en sal vir jou ook wees as jy gereeld sukkel met ’n sensitiewe, droë gesigvel en inflammasie. Hierdie strelende masker herstel die sperfunksie van my vel, die kombinasie van anti-oksidante – vitamiene E en plantolies dien as anti-inflammatoriese bestanddele wat beskerm teen vogverlies, ekstra hidrasie bied en strelend voel op die vel.

Avene gunsteling Hidrerende Gesigmasker

Gebruik dit so:

  • Ek gebruik dit minstens een keer per week (meeste van die tyd tot drie keer per week) wanneer my vel bietjie vaal en droog voel.
  • Ek gebruik dit ook graag na intensiewe gesig- of salonbehandelings soos suur-afskilferaars en mikronaald-prosedures.
  • Ek wend dit altyd tuis aan nadat ek ’n chemiese afskilferaar gebruik het, om seker te maak enige dooie velletjies verhoed nie hoe effektief die masker my vel kan binnedring nie.
  • Tyd: Selfs al is 15 minute al wat nodig is, gebruik ek dit graag as ’n aanlos-masker wat werk terwyl ek slaap (hoera!). Ek los dit eenvoudig oornag aan (Avène beveel dit ook so aan) en teen die oggend is my vel soepel, sag en gehidreerd.

Die buisie hou my gewoonlik twee tot drie maande (jy gebruik nie baie daarvan nie) en teen R265 per buisie is hierdie beslis ’n sakpasproduk wat werk!

Pssst: hierdie gesigmasker is ook ’n wenner vir die somer, veral wanneer ek ’n bietjie te veel son op my gesigvel gekry het.

Nog hidrerende gesigmaskers om van te kies:

Gatineau Aquamemory High Hydration Cream Mask

gunsteling hidrerende gesigmasker

Gatineau Aquamemory High Hydration Cream Mask (R640.00 uitgesoekte Woolworths, Truworths & Dis-Chem) sal ’n gunsteling wees as jy sukkel met ’n sensitiewe en gedehidreerde vel. Hierdie salon- kwaliteit masker se tegnologie kombineer hialuroonsuur (wat hidrasie bied) en anti-oksidante (wat beskerm teen vogverlies) en laat die vel plomper en meer soepel voorkom.

Tyd: Los vir 10 tot 15 minute aan, of jy kan dit ook as ’n slaapmasker gebruik.

Neutrogena Hydro Boost Hydrogel Recovery Mask

gunsteling hidrerende gesigmasker

Neutrogena Hydro Boost Hydrogel Recovery Mask (R59,95) is ’n lappiemasker wat in Korea ontwerp is, hulle staan bekend as die lappiemasker-kenners. Die sagte hidro-jel formule bevat hidrerende hialuroonsuur en die tekstuur en weef van die lappiemasker maak dit maklik om netjies rondom jou gesig te pas sodat die bestanddele meer effektief geabsorbeer word. Ook geskik vir sensitiewe veltipes. Tyd: 15 tot 30 minute, jy hoef nie die serum af te spoel wanneer jy die lappie verwyder nie.

SVR B3 Hydra Intensif Mask

SVR hydrating mask

SVR B3 Hydra Intensif Mask (R200) beloof met die gebruik van hierdie masker ’n gehidreerde vel wat gestreel, plomp en soepel voel te danke aan top-hidrerende bestanddele Vitamien B3 (niasienamied), en hialuroonsuur wat saam werk om die sperfunksie van die vel te versterk en te behou (om al die vog binne te hou!). Maklik om te gebruik – plaas die lappiemasker op ’n skoon gesigvel en verwyder na 15 minute. (Beskikbaar by www.riekiemedaesthetic.co.za, www.absoluteskin.co.za of www.shopfomo.com uitgesoekte salonne en spreekkamers)

Placecol Optimum Hydro Mask

gunsteling hidrerende gesigmasker wat werk

Placecol Optimum Hydro Mask (R310) hidreer, kalmeer en streel die vel terwyl dit ook die vel suiwer. Dit verwyder dooie selletjies en verhoed dat talgkliere ooraktief werk, wat oortollige olie op die vel sal verminder. Hierdie masker hits ook die vorming van nuwe kollageen aan en bevogtig die epidermis (boonste lag van jou vel) vir meer as 24 uur. Tyd: Na die gebruik van ’n afskilferaar kan jy die masker  vir 15 minute aanlos. Spoel met louwarm water af, druk dan saggies jou vel met ’n skoon handoek droog.

Garnier SkinActive Moisture Bomb Tissue Mask

Garnier SkinActive Moisture Bomb Tissue Mask (R49,99) werk veral goed op kombinasie-veltipes wat gereeld sukkel met gedehidreerde gedeeltes, en gedeeltes wat blink. Die lappiemasker herstel die  balans van jou vel, en laat daardie blink gedeeltes verdwyn. Dit beloof ook om ongewenste vergrote  porieë minder sigbaar te laat voorkom. Die kombinasie van hialuroonsuur en groentee-ekstrak is hiervoor te danke. Tyd: Doen die werk in 15 minute, nie nodig om die serum af te was nadat jy die lappiemasker verwyder het nie.

Lees ook: Verligting vir kinders se droë velletjies

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Selfoon-handsak – die handsaktrend wat ons graag wil probeer
error: Content is protected !!